ONDERSTEBOYSKASTERT
Hierdie tert is geïnspireer deur die smake van die peperment-enkarameltert wat my ma gereeld vir ons gemaak het. Dis romerig en hemels. Die kors is aan die buitekant. Dis die lekkerste deel, begin sommer daar! genoeg vir 1 tert
• 1 x 200 g-pakkie mentgegeurde klapperkoekies • 100 g (110 ml) botter, gesmelt • 15 ml gelatien • 30 ml water • 4 eiergele • 210 g (250 ml) strooisuiker • 60 ml baie sterk koffie • 2 x 250 g-bakkies gladde geroomde maaskaas • 1 x 365 g-blik karamelkondensmelk • 10 ml vanieljegeursel • 100 g donkersjokoladesplinters • sjokoladesous en bessies vir voorsit
Plaas koekies in voedselverwerker en pols by hoë spoed tot fyn. Voeg botter by en meng tot klam mengsel vorm. Voer broodpan van 20 x 14 cm se bodem met kleefplastiek uit en spuit pan goed met kleefwerende kossproei. Voer pan se bodem en kante uit met koekiemengsel. Sprinkel gelatien oor water en laat staan tot sponsagtig. Plaas eiergele, strooisuiker en koffie in elektriese menger se bak en klits by hoë spoed tot lig en skuimerig. Skep maaskaas lepelsgewys by terwyl menger loop, tot mengsel dik en skuimerig is. Voeg kondensmelk en vanielje by en klits tot glad. Smelt gelatien ’n paar sekondes in mikrogolfoond en meng by. Skep helfte van mengsel op kors en smeer eweredig. Sprinkel sjokoladesplinters oor. Skep res van mengsel bo-op en smeer gelyk. Plaas in yskas vir 4 uur of tot gestol. Keer uit op opdienbord en verwyder kleefplastiek. Sit voor met sjokoladesous en bessies.
Die kors is die lekkerste deel, begin sommer daar! Herman