Sarie

Nataniël sê ...

-

Dieselfde storie elke jaar: Ek is vir drie weke alleen in my huis, my battery moet laai, my kop moet rus en my lyf moet sy pyne pyn. Geen gaste, geen personeel, geen oproepe.

Hierdie jaar besluit ek om my hele plek reg te pak en ten minste 25% van alles weg te gooi. Nie weg te gee nie, ander mense het genoeg sorge, ek neem alles na ’n plek wat herwin en planmaak. Dag 1: Ek besef weer eens dat my hele bestaan ’n teenstrydi­gheid is. Ek is dan ’n minimalis met leë ruimtes en enkele spierwit meubelstuk­ke, hoe het dit gebeur dat ek ’n tweede huis moes kry vir pakplek? Ek storm na langsaan, sluit oop en stap na ’n vertrek vol kostuums. Teen een muur staan ’n lang tafel met ’n lang laai. Ek trek die laai oop, ek weet die lewe is dol, maar hoe het dit gebeur? Die laai is propvol geskenke wat ek drie jaar gelede tydens ’n Europese reis gekoop het, elke mens wat ek ken se verjaardag en Kersfees is vooruit beplan. Dis toe hier weggepak en vergeet. Het ek vir almal weer geskenke gekoop? Waar kom die tyd en die geld vandaan? Vir ure kyk ek na alles, dis heerlik en baie mooi. Alles word teruggepak, ek sal later besluit wie kry wat, daar is heelwat wat ek vir myself gaan hou. Dag 2: In my kantoor staan ’n toring ongewone dose met deksels, elkeen het ’n verhaal en ’n inhoud. Ek lig die boonste een se deksel, dis al die kaartjies van my afgelope drie verjaardae, hoekom het ek dit nog steeds? O ja, in die foyer van ’n Franse hotel is ’n massiewe glaskolom vol poskaarte wat hulle deur die jare by kliënte ontvang het, dit is so besonders, ek wou dieselfde met my kaartjies doen. Ek lees elke kaartjie, lag baie, huil ’n bietjie, pak alles terug. Dis aand toe ek klaar is. Dag 3: Daar is te veel boeke. Daar kan nooit genoeg boeke wees nie. Boeke maak my gelukkig, dit maak ’n huis ’n reis, dis die mooiste dekor wat bestaan. Daar is drie mure vol boeke, van die plafon tot die vloer. Ek staan op ’n stoel en maak die boonste rak leeg. Ek wil hom was met ’n lap. Agter die boeke ontdek ek ’n hoop legkaarte, boeke waarvoor daar nie plek was nie en ’n pakkie. In die pakkie is ’n lap uit Venesië, ’n ragfyn stuk weefwerk met ’n foto van ’n palazzo op. Ek het dit jare laas gesien, eendag as ek kan laatlê, gaan ek dit oor my bed gooi. Uiteindeli­k word elke boek met ’n droë of klam lappie versorg. Ek is laatnag klaar. Dag 4: My rug is seer van heeldag op ’n stoel staan. Ek sit op die vloer in ’n kostuumkam­er. Daar is rye en rye houers met skoene. Dis jare laas gedra. Alles gaan vandag verdwyn. Ek lig ’n deksel, hierdie paar kom uit Florence, hulle is gevorm uit lae en lae blinkertji­es, dis te klein, maar ek moes dit hê, sulke vakmanskap is aan die uitsterf. Die volgende paar is voos, hulle is met die hand geverf vir my heel eerste toer. Die volgendes is rêrig eienaardig, antieke leer met houtsole, gekoop tydens my enigste besoek aan Argentinië. Terug in die houer. Geen skoen verlaat hierdie vertrek. Dag 5: Ek lê in my bed. Dis wat regpak doen, die een oomblik dink jy, Sjoe, soveel herinnerin­ge, ek was werklik bevoorreg. Die volgende oomblik: Is dit nou my lewetjie? ’n Paar vertrekke met goedjies!

Gooi ons weg en kry asem? Of hou ons en bou ’n nalatenska­p? Gaar ons twak op of werk ons aan ’n unieke versamelin­g? Wie kry dit? My hele lewe is gebou op dit wat ander vermag het, sal ekself dit ooit kan regkry? Dis die dilemma, drie weke lank, een keer per jaar.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa