Klere Dis lekker as die koningin in Shakespeare in Love van haar kostuum hou
maak ’n stelling, maar kostuums vertel ’n storie. Só sê Mason Cooley, Amerikaanse skrywer en literator.
Sy landgenoot Colleen Atwood, ’n befaamde kostuumontwerper, het al gesê “die lekkerte vir ’n kostuumontwerper is dat jy nooit weet wat jou volgende opdrag is nie, watter nuwe wêreld jy gaan betree nie”.
Nataniël vertel aan kunsjoernalis Diane de Beer in die voorwoord van sy boek Closet (Human & Rousseau, R390), waarin hy terugkyk na sy fabelagtige kostuums oor die afgelope drie dekades, dat elke kostuum ’n kunswerk moet wees. Dat “die keuse van die ontwerp, materiaal en kleur als deel is van die storie wat vertel word”.
Twee Kaapse kostuumkenners, die veelbekroonde ontwerper Birrie le Roux en Gabieba Isaacs, wat verlede jaar ná 40 jaar as patroonmaker by die Kunstekaap afgetree het, weet ook wat dit verg om kostuums op die verhoog te kry.
Birrie werk nou aan West Side Story en The Road to Mecca*, wat op onderskeidelik 7 en 27 Maart by die Fugard-teater in Kaapstad begin. Haar werk is “gelaai met adrenalien”, maar sy verruil dit vir niks.
Vir Gabieba was daar “slapelose nagte” agter die taak om ontwerpers se illustrasies in patrone weer te gee en te maak. “Maar dis ’n passie – ek mis dit.”
Ontmoet twee van Suid-afrika se groot kostuumgeeste. Sy is al veertig jaar in die teaterbedryf, maar is steeds effens onseker voor sy begin om kostuums vir ’n groot produksie te ontwerp.
Waar sy voor my in die Fugard-teater sit in haar wynrooi linnerok, swart plat skoene en kunssinnige oorbelle wat wip as sy lag, is dit moeilik om te glo. Haar stem is rustig.
Birrie word wyd gerespekteer. In 2016 het sy die Fleur du Cap-toekenning vir kostuumontwerp vir David Kramer se musiekblyspel Orpheus in Africa, ontvang, asook die Silwerskermtoekenning vir produksie-ontwerp vir die rolprent Johnny is nie dood nie. Verlede jaar was sy benoem vir ’n Fleur du Cap vir die musiekblyspel District Six Kanala en die toneelstuk Clybourne Park. Só kan jy aangaan.
Een van haar lekkerste projekte was King Kong, die eerste swart musiekblyspel in Suid-afrika van die jare vyftig, wat verlede jaar vir die eerste keer weer plaaslik by die Fugard opgevoer is. “Dít het destyds internasionale sterstatus aan Miriam Makeba en Hugh Masekela besorg. Ek kon met daardie era identifiseer.” ( King Kong se Kaapse speelvak het Februarie geëindig.)
Birrie het grootgeword in ’n intellektuele, kunssinnige familie in Pretoria. Haar ma, Massie, was ’n onderwyseres en pa Louis was ’n “rocket scientist”, volgens haar en haar vier susters, want hy was ’n professor in fisika en chemie wat vir die WNNR gewerk het. “In die laat vyftigs is ons met die trein na Kaapstad en van daar met die skip na New York. Ek was ses en kan onthou hoe ons met ons sakdoekies vir die Vryheidstandbeeld gewaai het van die skip af.” Die gesin het ’n jaar in Amerika gewoon, onder meer ’n ruk lank in Chicago. “Ek onthou sneeu, ’n silwer reaktor by sy werk.”
Haar ma was ’n dame wat haar dogters mooi aangetrek en geglo het hulle moet baie lees en teater toe gaan. “Ek het kleintyd die mooiste klere vir my Barbies gemaak.”
Ná matriek aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria het sy ’n graad in teaterontwerp aan die Universiteit van Pretoria verwerf en vir destydse teatergeselskappe soos Truk en Kruik kostuums vir ballet, opera en toneel ontwerp. “Ek het ook graag eksperimentele projekte vir die Spaceen die Glass-teater in die sewentigs en tagtigs in die Kaap gedoen.” Sy is steeds dol op produksies wat relevante kwessies takel, soos Jaco Bouwer se Marat/sade in 2017 en I See You, oor post-apartheid Suid-afrika.
Rolprente soos Fiela se kind (1988), Paljas (1997), The Story of an African Farm (2004) en Hansie (2008) was ook groot kreatiewe hoogtepunte. “Maar geleidelik het ek na my eerste liefde, die teater, gemigreer. Daar is iets magies aan die verhoog. Jy is baie betrokke by die proses – die regisseur, akteurs, kostuummakers, beligting . . . Dit is baie bevredigend.” Sy doen weke lank navorsing voor sy begin. Veral vir ’n toneelstuk soos Shakespeare in Love, wat in 1590 afspeel.
Haar seun, Rocco, wat dieselfde werk as sy doen en dikwels saam met haar aan produksies werk, sê: “Ek het alles wat ek weet by my ma en die toneelgees Marthinus Basson geleer – veral oor teater-etiket.”
Birrie meen sy is suksesvol want sy is geduldig, met ’n oog vir detail. En sy stel opreg in mense belang. “Jy moet passievol wees oor dié werk, anders sal >