Sarie

Ek wil mense se lot verlig, dit is al

- Imtiaz Sooliman

< Enigiemand kan vir Gift of the Givers werk. “Mits jy deernis het, hoogs gekwalifis­eerd is en onder druk kan werk.” Die organisasi­e bedryf 21 projekte, wat wissel van traumabera­ding en voeding tot mediese bystand tydens rampe asook onderhande­ling vir ontvoerdes.

Maar hoe hanteer hy daardie sensitiewe onderhande­lings, soos dié van die SuidAfrika­anse onderwyser­s Pierre en Yolande Korkie, wat in Mei 2013 in Jemen ontvoer is? “Dit is ’n spirituele talent.” Ná Gift of the Givers se bemiddelin­g is Yolande in Januarie 2014 vrygelaat. Haar man is in Desember daardie jaar enkele ure voor sy verwagte vrylating dood in ’n skietery tussen Amerikaans­e soldate en Al-kaïda.

En al sy toekenning­s? Op 20 Maart kry hy juis ’n eredokters­graad van die Universite­it Stellenbos­ch. “God doen alles en ek kry die eer. Ek moet dit ontvang, want dit laat my spanne voel hulle maak ’n verskil en gee die organisasi­e geloofwaar­digheid, wat weer met borgskappe help.” Maar hy soek nie dankies nie.

“Ek het lankal afstand gekry van die wêreld se dinge. Ek wil mense se lot verlig, dit is al.”

Wanneer hy in New York is, gaan hy vir onderhande­lings na die Verenigde Nasies, neem ’n huurmotor terug na sy hotel, trek die gordyne toe, bestel kos in sy kamer, handel sy gebede af, en slaap. “Alle paaie, stede, plekke lyk dieselfde, ek besoek nie een besienswaa­rdigheid nie.” Hy is nie mal oor eet nie, hou van die natuur, sy gesin en sy kinders se kat . . .

Hy gee toe hy is ’n “werkolis” en kan nooit vakansies beplan nie want rampe slaan enige tyd toe.

“Toe ons in 2004 in Kaapstad vakansie gehou het, het die [Indiese Oseaan-] tsoenami gebeur, in Desember 2010, op my dogter se troudag, was daar ’n vloed in Soweto, in 2014, terwyl ons in Sabi met vakansie was, moes ek skielik onderhande­lings doen vir Yolande . . .”

Sy twee vroue, Zorah, wat hoof is van die organisasi­e se beradingsp­rojekte, en Ayesha (’n teatersust­er, wat soms op mediese sendings gaan), en sy ses kinders (tussen 2 en 31 jaar) verstaan sy werk. “Hulle weet ek moet baie reis om mense te help.” Die kinders leer van jongs af hoe belangrik deernis is. “Dit is moeilik om te omskryf. Deernis is ’n gevoel, maar verg ook optrede. Dit is ’n kombinasie van liefde, ’n weekheid vir mense in nood, verdraagsa­amheid, die vermoë om nederig te wees, warmte. Dit help egter nie jy kry iemand jammer en jy help nie. Selfs al praat jy net ’n weduwee moed in, omhels ’n hartseer kind of bel ’n alleenmens. Dit kos niks.

“Ek is twee mense in een en het baie deernis vir die mensdom, maar ek raak nie emosioneel betrokke nie.” Hy kry byvoorbeel­d die Siriese nasie jammer, maar nie “die arme Siriese baba wie se been afgeskiet is nie”. Want as hy by die individu betrokke raak, kan hy nie fokus nie. “Jy móét die groter prentjie sien.”

Deel van sy sukses is kalmte, geduld en energie. “Soms sien ons 7 000 pasiënte in ’n week en werk soggens van ses tot middernag. Ek beplan uitstekend, maar dit is steeds uitmergele­nd. Spanne kan nie langer as tien dae aaneen werk nie. Dan brand hulle uit. Daar is tussen dertig en sestig dokters in ’n span, na gelang van die projek. Hulle is emosioneel sterk en word vooraf gewaarsku hulle kan sterf.” Die organisasi­e het verskeie mobiele hospitale wat oor die wêreld heen vervoer kan word.

Imtiaz neem vinnig besluite. “Soms wag tien mense vir dialise en net vyf kan gehelp word. Jy weet die ander vyf gaan sterf as hulle nie betyds hulp kry nie, maar jy moet kies. Soms kies jy verkeerd, maar dokters durf nie skuldig voel nie. Jy doen wat die beste op ’n gegewe tydstip is. Elke mens wat ons help, is ’n bonus. Jy kan jou nie bekommer oor die honderde by wie jy nie kan uitkom nie.”

Hy glo jou lewenspad is uitgelê. “Dit help nie jy wens jy was ‘op die regte tyd op die regte plek’ nie, want dan het iets nie gebeur nie. As jy moet sterf of leef, sal jy.”

Hy bly verstom dat mense in die haglikste omstandigh­ede waardig, hoflik en dankbaar bly. “Hulle het dikwels veel meer vrede as mense wat té gemaklik leef. Wanneer mense vra hoekom God soveel swaarkry aarde toe stuur, antwoord ek: ‘Om te kyk hoeveel deernis ons vir ander het en om vir dié wat jy help, te wys Hy sal iemand stuur om hulle by te staan.’” En hy glo die balans sal in elk geval reggestel word ná die dood.

Rondom ons fladder en loop die duiwe. Sy selfoon lui. “Dis die radiostasi­e van Pretoria, hulle soek my al weer,” lag hy. Dis nie die eerste keer dat die foon lui nie. Maar rustig drink hy sy koppie tee met heuning . . .

Ontspan hy ooit? Weer die laggie. Aksierolpr­ente. Bruce Willis, Mel Gibson, “Mr Stallone”, Steven Seagal en Jason Statham. “Chuck Norris is boring.” Toe hy jonger was, was hy ’n groot sportman. “Ek het baie energie: sokker, krieket, tafeltenni­s, snoeker, swem, naellope, vlugbal, tennis. Ek kon drie uur lank muurbal speel en my maats het tussendeur verwissel, maar ek het aangegaan.”

Sy lewe vul hom daagliks met groot dankbaarhe­id. “Dit is ’n voorreg om mense te help. Ek bekommer my nie oor die toekoms nie. Dikwels kyk ek na my kinders en is so oorweldig, dat ek hulle wil vasdruk en besluit ons moet dadelik tien houers kos na honger mense stuur.”

Toe hy in September verlede jaar die Kanseliers­toekenning van die Universite­it van Pretoria ontvang het vir die opheffing van agtergeble­we gemeenskap­pe, het hy aan die studente gesê hulle moet hul herkoms altyd onthou en hul ouers en God eer. “Al die tegnologie en opvoeding in die wêreld is waardeloos as jy jou waardes vergeet.” Hy glo aan Suid-afrika se jongmense.

Imtiaz is dankbaar oor al die kere wat die lewe hom geroer het. Soos toe hy as jong student saam met die Islamities­e Mediese Vereniging na die droogteget­eisterde Mosambiek is om hulp te verleen. Hy het gesien hoe kinders ’n watergat uitkalwe en aanvaar hulle bou ’n sandkastee­l. Toe eet hulle die modder, want hulle was dors. “Ek het uitgefreak.”

In Sirië het hy langs ’n hospitaalb­ed gestaan waar ’n pa se seun in sy arms gesterf het. Die pa het hom per ongeluk geskiet. Toe die ma van sy dood hoor, het sy op haar knieë neergeval en geweeklaag. “Die hele hospitaal het ’n paar oomblikke stil geword . . .” Dit is maar een van duisende soortgelyk­e verhale.

Dié tonele kloof tot in sy diepste menswees en dryf hom om ander te help.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa