Een van die vinnigs groeiende mediese velde ter wêreld
Vroue is deesdae meer bemagtig om hul probleme te bespreek. En oplossings te soek.”
In hul soeke na skoonheid en perfeksie stel vroue wêreldwyd meer en meer belang in hoe hul hele liggaam lyk. Selfs daardie plekkie wat gewoonlik nie in goeie geselskap genoem word nie. Vroue gesels oor gesigbehandelings en haarsnitte, ja. Maar ’n gesprek oor jou privaatste deel, hoe dit oor die jare en ná kindergeboorte verander? Nooit nie.
Seksualiteit gaan deesdae oor meer as reproduksie. In die Victoriaanse tyd moes vroue dit vir volk en vaderland doen. (Al het koningin Victoria van Brittanje glo ’n warm sekslewe met haar Albert gehad.) Dit geniet? Skaam jou! Ons vroue bereik boonop eers ná veertig ons seksuele piek en wil dus hê ons intiemste dele moet steeds goed voel en lyk.
In plein Afrikaans: Soos jy ouer word, is nie net jou gesig in ’n gestoei met die swaartekrag betrokke nie. (Ons weet wie wen.) Maar ook wat in ’n minder ekshibisionistiese tyd as jou “skaamdele” bekend was. Alles “sak uit”, dit word minder elasties, die vel raak verrimpeld, nes jou gesig. Die vagina word droog en seks pynlik.
Wie waag dit om actually te kyk? Ons word deesdae ál meer gekonfronteer met naaktheid (weens onder meer pornografie en advertensies) en dus hoe ander vroue se “brose skulp” lyk. En dalk is jy ontevrede met wat die natuur jou gegee het, nes jou Pinocchio-neus.
Een ding is seker: Dis nie soseer mans wat krities is oor vroue se genitalieë nie, dis vroue self! Nie net oor ons eie nie, maar ook ander vroue s’n, volgens ’n studie in die International Journal of Sexual Health. Oor die algemeen vind vroue wat ’n slegte beeld van die vroulike geslagsorgane het, dit moeiliker om ’n orgasme te hê. En hulle is ook minder geneig om vir gereelde ginekologiese ondersoeke te gaan, wat hul risiko vir siektes groter maak, volgens die navorsing.
In Die vagina-monoloë leer die verteller uiteindelik wat vroulikheid werklik beteken, dat dit nie soseer oor die uiterlike gaan nie. Nie almal het egter geduld met dié soort naeltjiebepeinsing nie. En as jy ’n mediese probleem het, gaan dit in elk geval niks help nie.
EERS DIE MES . . .
In die Westerse wêreld is die belangrikheid van vroulike seksuele gesondheid al geruime tyd in die kollig. SARIE het reeds in 2008 geskryf oor die sogenaamde “ontwerpervaginas” – kosmetiese chirurgie vir jou geslagsdele. “In Los Angeles is dit ’n nuwe gier: Reklameborde adverteer dat orgasmiese vreugde binne jou bereik is. Dit het ook hiernatoe oorgewaai: Die ‘verbruikersvriendelike’ naam is vaginaplastiek, ’n chirurgiese prosedure waar die vaginale spiere en ondersteunende weefsel stywer gemaak word.”
’n Ginekoloog het dit destyds só verduidelik: Die geboortekanaal rek elke keer wanneer jy vaginaal geboorte gee. Seks is dan nie meer so lekker nie. Die klagte is dikwels: “My vagina is te slap”, “Ek ervaar minder wrywing”, of “Ek voel net niks meer met seks nie”. Dit neem langer om ’n orgasme te kry, of jy kry eenvoudig nie een nie. Soms help bekkenvloeroefeninge (soos Kegel) nie.
Vaginaplastiek gee jou meer spierkrag en -beheer – en dus meer sensasie tydens seks. Boonop kan dit ook help vir urinêre druk-inkontinensie, as jy urien lek elke keer wat jy hoes, nies, lag of oefen.
“Maar hoekom daar ophou?” skryf SARIE destyds. “Jy kan die perfekte skaamlippies hê. Dié prosedure, labiaplastiek, word gedoen om oormatige vel aan die buitekant van die vagina te verwyder. Onder meer as die binnevoue van die labia (labia minora) uitsteek – dis dus groter as die buitenste voue (labia majora).”
Die meeste vroue wat dié prosedure laat doen, het funksionele probleme. (Dus nie pure ydelheid nie.) Dis ongemaklik en pynlik om te oefen, fiets of perd te ry. Hulle hou nie van hoe hulle in stywe oefenklere of ’n baaikostuum lyk nie. Hulle dink die labia steek te veel uit. Seks is ook ongemaklik, sê dr. Novikova.
“Ek het byna my stywe langbroeke, oefenklere en sexy broekies vir goed weggepak. Ek moes altyd my labia ‘invou’, anders was dit onuithoudbaar seer. Die operasie was vinnig en maklik, ek het nie eens pynpille nodig gehad nie. Nou kan ek enige klere dra wat ek wil,” vertel die 22-jarige Tina**, wat labiaplastiek gehad het. >
Volgens dr. Novikova word uitstekende resultate verkry met:
Dit is as urien lek wanneer jy byvoorbeeld op ’n wipmat spring of hardloop en nies/hoes. Lê jy en nies/hoes en urien lek, gaan laser egter nie help nie. Jy het dan chirurgie nodig.
Bets** (48) vertel: “Ek moes gedurig badkamer toe hardloop en dit was ’n verleentheid as ek nies of spring. Die laserbehandeling het dit heeltemal verander. Ek kan nou knyp en deur die dag kom sonder ongelukkies. Ek slaap weer snags en het selfvertroue om te oefen.”
Droogheid in die vaginale area. Dit gebeur hoofsaaklik in die menopouse weens laer estrogeenvlakke. Die vaginale wand raak dan baie dun en seks pynlik. Dit kan ook gebeur as gevolg van chemoterapie en sekere voorbehoedmiddels wat estrogeenvlakke verlaag. Só moet vroue wie se borskanker deur estrogeen gevoed word medikasie neem om dit te onderdruk. Die laser stimuleer kollageenvlakke en die vaginale wand verdik.
Gereelde infeksies wat verband hou met die verdunning van die vaginale wand (atrofiese vaginitis).
Laser as prosedure is vinnig en nie seer nie – jy voel net intense hitte. “Baie gemakliker as ’n bikini-waks,” beskryf een vrou dit. “’n Bietjie kielierig, maar ek het van die warm sensasie gehou,” sê ’n ander.
Dis nou nie te sê goeie ou Kegel-oefeninge is te versmaai nie. Dit kos niks, maar toewyding en tyd is nodig, sê dr. Novikova. “Ek sal dit aanbeveel vir almal, of jy nou funksionele probleme het of nie. Dis goed vir jou!”
Vir prolaps is chirurgie egter nodig. “Vroue weet gewoonlik self. ‘Laser gaan nie vir my probleem help nie.’” (Sien kassie op bl. 123.)
Sy vertel altyd vir vroue daar is nie iets soos ’n “normale” of “perfekte” vagina nie. En sal behandeling weier as sy dit as onnodig beskou. Maar vroue se lewe word emosioneel en fisiek geraak deur baie van die probleme waarmee hulle by haar aanklop. “Hulle voel bemagtig as die ongemak wat daarmee gepaardgaan, verdwyn. Hulle herwin hul seksualiteit, of fisieke en geestesgesondheid.”
* Eve Ensler se 1998-toneelstuk is deur Antoinette Louw in Afrikaans verwerk. ** Pasiënte van dr. Novikova. Name verander. *** Die prys vir die lasermetode is sowat R5 000 per sessie. Drie sessies, gemiddeld vier weke uitmekaar, is nodig. Siekefondse betaal nog nie daarvoor nie.