Sarie

Laaste sê ...

ANDRÉ LE ROUX

-

André is ’n OUD-SARIEredak­sielid en was 18 jaar die skrywer van die gewilde rubriek Op die vrou af. Hierdie Laaste sê is uit ’n keur van dié SARIErubri­eke wat in die bundel Waarom mans altyd reg is (en ander onnoselhed­e), Human & Rousseau, R230 verskyn.

* Michélle praat op 10 Maart by die US Woordfees op Stellenbos­ch met André oor die boek. Sien ook bl. 11. Watter dag is dit? vra sy.

Dit klink soos ’n onskuldige vraag en jy antwoord op dieselfde trant: “Dis Donderdag.” Dalk voel dit vir haar soos Woensdag, nou vra sy net om seker te maak. “Die sestiende?” vra sy. Ja, die sestiende, hoekom? “Sê die sestiende vir jou iets?” Hoekom sal die sestiende nou vir jou iets wil sê? Maar jy bedink jouself (instinktie­f) voor jy dit hardop sê. Die sestiende . . .? Die sestiende . . .? Dan onthou jy skielik: “Dis ons troudag! Natuurlik!” O, Donderdag! hoe kón jy dit vergeet? Dis tog Julie en jy onthou die reën kon die vuur van jul liefde nie blus nie. Die onthaal was uithaler en die wittebrood witwarm, die son het julle nooit gesien nie. Hoeveel jaar is dit nou al? Dit voel soos gister.

“Wag,” sê jy. “Vanaand maak jy nie kos nie, ek neem jou uit vir ete. En net môre – nét môre – koop ek vir jou ’n present, ’n grote!”

Jy wonder hoekom sy nie getroos lyk nie, net broos. Sy gaan maak vir haarself roereier op toast en jy vind later oorskiet-hoender in ’n Tupperware-bakkie in die yskas vir jouself. Daar’s julle uiteet ook daarmee heen . . . en jy’s seker die res van die aand gaan ook nie ’n herdenking van enige aard of geleenthei­d wees nie.

Die lewe is nie regverdig nie, dink jy. Dis mos nie asof jy doelbewus, aspris vergeet het nie, jy’t maar net nie onthou nie, dis al. Want toe jy weer sien, toe vra sy watter dag is dit en toe’s dit te laat.

En dit was juis so ’n wonderlike troue, onthou jy, al het die weer nie saamgespee­l nie. Jy wou al in Februarie trou, dis gouer as Julie, maar sy en haar ma het tyd nodig gehad vir al die voorbereid­ings. (Haar ma het natuurlik gehoop die hele ding reën op die nippertjie uit, en toe frizz haar hare, sy wou amper nie stilstaan vir ’n foto nie.)

Jy’t al selfs eenkeer aangebied om wéér met haar te trou sodat julle ’n datum kon kies wat ’n mens makliker kan onthou, sê nou maar naby Valentynsd­ag of so, want winkels en advertensi­es en bloemiste maak seker jy sal nooit Valentynsd­ag vergeet nie. ( Jy wou in elk geval reeds in Februarie trou, onthou?)

“Ek kan verduideli­k,” probeer jy. Jy kan verduideli­k? herhaal sy met hoë, woordelose wenkbroue. “Hy kan verduideli­k,” sê sy vir die kat, wat die vertrek terstond verlaat. Ja-ja. Jy sien, toe ek vanoggend wakker word, toe onthou ek met groot nostalgie en ’n glimlag dis die sestiende, Donderdag die sestiende Julie, nè? En toe wil ek op jou omrol om jou geluk te wens, maar toe slaap jy nog so lekker, toe dink ek nee, wag, ek sal jou later verras, toe raak die dag baie besig en toe . . . Ek het nog vir myself probeer uitwerk hoe lank ons getroud is, toe kom ek uit by honderd jaar, toe dink ek, nee, dit vóél nes honderd jaar. Of . . . e . . . soos gister? voeg jy by. “So, as ’n mens mooi daarna kyk,” som jy op, “hét ek ons troudag onthou.” Die kat loer versigtig om die kosyn om die uiteinde te hoor. (“Moenie jy nou tussenin kom nie,” brom jy vir die kat.) “Dis net dat . . .” verduideli­k jy verder. Sy loop ’n draai deur die huis en terug, dit lyk of daar vuurvliegi­es by haar ore uitkom: “Dis net dat dit nie ons troudag is nie,” voltooi sy die sin. Nie? Nou hoe dan? “Dis my verjaardag!”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa