Dit is asof die lewe se probleme wegspoel as ons saam is
is sy byna ’n groter geesdriftige as in haar tienerjare.
Toe Chris twaalf jaar gelede ’n advertensie in die plaaslike koerant raaksien waarin die Elvis-klub ’n uitnodiging aan bewonderaars rig om hul held op ’n spesiale aand te vereer, het sy nie op haar laat wag nie.
“Ons kom een keer per maand byeen in ‘Die Grot’, die kelder van ’n kerkgebou in Oakdale, Bellville. Ons ontspan met ’n koppie tee of koffie en lekker happies.” En gesels oor interessante Elvis-onderwerpe. Terwyl allerlei van sy ballades, soos “Love Me Tender” en “Are You Lonesome Tonight” (twee van haar gunstelinge) op die agtergrond speel . . . “Die tweede helfte van die aand kyk ons dikwels na ’n Elvis-fliek of hou ’n vasvra.”
Enigiemand kan by die klub aansluit. Ledegeld beloop R17 per maand en elke besoek vir nie-lede R40. Maar die eerste besoek is gratis. Die Kaapse groep het sowat 15 lede, maar hulle het ook ’n aanlyn groep van sowat 90 aanhangers reg oor die land.
Jaarliks is daar ’n amperse Amazing Race in ’n winkelsentrum. “Ons spoor iets op met behulp van Elvis-leidrade en die wenners sal byvoorbeeld ’n ete losslaan. Twee keer per jaar eet ons almal saam uit en partykeer vermaak ’n gaskunstenaar die klub.” Soms kry hulle interessante besoekers, soos die joernalis Dana Snyman, wat ’n artikel oor hulle geskryf het.
Daar is ’n paar jongelinge, maar meestal is lede (mans en vroue) in hul vyftigs en ouer. “Ek herleef weer my tienerjare en dink terug aan ons wye veelkleurige net-onderrokke, kort sokkies en tekkies, of sagte leerskoentjies om lekker mee te dans,” onthou Chris. “Die Orlon-truitjie is doerietyd agterstevoor aangetrek.” Als baie cool.
“Ek en my Elvis-vriende kan heerlik lag en sorgeloos ontspan. Dit is asof die lewe se probleme wegspoel as ons saam is. Ons ondersteun mekaar onvoorwaardelik. En as ek daar weggaan, het ek weer krag vir die lewe.”
Annemarie Swarts, ’n predikantsvrou wat ook haar eie besigheid het, is die voorsitter wat al die vermaak vir die klub organiseer. Sy het in 2007 besoek afgelê by Graceland in Memphis, Elvis se blyplek, gedurende die jaarlikse Elvis-week wat altyd op 15 Augustus afskop.
“Ek en drie ander klublede het twee weke in en om Memphis rondgetoer. Dit was ’n droom wat waar geword het. En wat ’n belewenis om tussen 75 000 Elvis-aanhangers te wees en byna ‘terug te gaan’ na ’n ander era. Almal daar loop met kerse na die meditasietuin om hom te vereer. Ek was hartseer dat Elvis so jonk dood is [16 Augustus 1977, op 42].”
Annemarie het al vele hoogtepunte in die klub beleef. “Ons het dikwels klubnaweke, wanneer ons groep weggaan na oorde en net saamkuier. Die Elvis-fees in 2011 in die skone Stormsrivier in die Tsitsikamma staan vir seker uit. Die lekkerste is dat ek een van my passies kan deel met ’n ‘ bevange’ gehoor van mede-waardeerders.”
Nes Chris kan sy nie uitgepraat raak oor die vriende wat sy gemaak het nie. “My man is nie ’n lid nie. Hy het ’n motorfietsklub, Wielplesier, vir piekniek- en daguitstappies. Ons glo albei klubs is pret en verskaf warmte en #samesyn. Dit laat jou tot nuwe insigte kom oor jouself en die mensdom.”
Chris reken dis goed om jou só oop te stel vir nuwe mense en ondervindings. Buiten die Elvis-klub het sy al aan ’n kalligrafie-en-digkunsgroep, die Inkpot, behoort. En sy is lid van die staffordshirebulterriërklub van die Wes-kaap en die Kaapse terriërklub, waar sy in die komitees dien en regdeur die jaar skoue organiseer. Kalos (Grieks vir baie mooi man) en Zuri (Swahili vir pragtige meisie) is haar twee staffie-kinders en hulle neem ook aan die skoue deel.
“As dit nie vir my klubs was nie, was ek ‘onvolledig’,” sê Chris. “Dit het my aan ’n ryk netwerk van nuwe mense en ervarings blootgestel. Boonop hou die Elvis-klub my lekker jonk!”