Sarie

Jacques Pauw: ‘SA het nou kans op ’n comeback’

Die groot ou met die swart T-hemp en dubbelvodk­aen-lemoensap in die hand gloei. Op Riebeek-kasteel is dit hittig. The President’s Keepers het hom oornag ’n hot celeb gemaak. En hy háát dit. Maar Jacques Pauw wóú Zuma en die regering se wandade oopvlek

- DEUR MARGUERITE VAN WYK FOTO’S WILLEM LOURENS

Diekwik trek op 42 grade Celsius – dis snikwarm, selfs onder die waaier.

“Môre, môre, môre,” dreun dit binne. ’n Groot blonde ou met ’n swart T-hemp kom na buite, groet en teug welbehaagl­ik aan sy drankie wat hy reeds binne gekry het. Maak hom sit op die stoep van Eve’s Eatery and Bar. “Wil jy niks bestel nie?” vra hy gemoedelik.

Voor my is Jacques Pauw, rock star van ondersoeke­nde joernalist­iek. Sy sesde boek, The President’s Keepers ( Tafelberg, R280), is ’n paar maande tevore (Oktober 2017) uitgereik. Sedertdien is hy óf besig met bemarking óf hy lewer iewers praatjies. “Ek háát hierdie celeb- ding.”

Einde Januarie is 130 000 boeke en 30 000 e-boeke al verkoop – ’n Suid-afrikaanse rekord vir nie-fiksie. “En ek het nie ’n saak met internet-rooflesers nie.” Hy lag. Die boek word ook eersdaags in Engeland en in Amerika bemark, en filmregte is verkry.

Hy het ’n effense identiteit­skrisis, seg Jacques. “Ek weet nie nou lekker wie ek is nie – skrywer, ondersoeke­nde joernalis, restaurant­eienaar?”

Hy en sy vrou, Sam Rogers, óók ’n ondersoeke­nde joernalis, het ’n gastehuis en restaurant, Red Tin Roof, op die dorp en hy mis die kosmakery. “Ek was verlede Januarie laas in die kombuis. Ek kom so nou en dan daar om te skree en baklei, maar hulle lag vir my.”

Hulle wou in 2014 die joernalist­iek verlaat. “Ek was lus vir die Karoo, maar Sam het geweier. Riebeek-kasteel was ’n kompromie – naby die Kaap en mooi.”

Mense stroom daarheen vir sy handtekeni­ng, keer hom voor in Checkers vir selfies, op die vliegtuig word hy oorval.

Hy erken dit pla hom dat hy uit sekere (wit) oorde so bedank word vir sy boek. “Ek weet nie lekker hoe om dit aan te spreek nie. Vyf jaar gelede sou hulle my donder omdat ek ’n ‘ kommunis’ is. Nou’s hulle glo my beste vriende en dink ek het bewys swart mense kan nie regeer nie. Ek het dit nie vir húlle gedoen nie, maar vir Suid-afrika.”

Hy bieg: Tegnologie laat hom koud. “Ek het geen liasseerst­elsel nie. Alles lê in hope.” Hy hou nie van sosiale media nie en gebruik Facebook net vir bemarking. “Ek stel glad nie belang in iemand se ouma wat dood is nie.” Al wat hy met sy selfoon wil doen, is SMS, whatsapp, bel en e-pos ontvang. “Ek gebruik nie die dagboek nie. Dinge loop soms deurmekaar.

“Ek doen net drie dinge goed: kosmaak, stories vertel en tuinmaak. Bome, die reuk van gesnyde gras, grond tussen my vingers – ek hou van woeste tuine. Goete moet groei.”

Een van sy grootste vriendinne is die joernalis en mediakonsu­ltant Anneliese Burgess. Saam met die joernalis en politieke kommentato­r Max du Preez was hulle tydens die verhore van die Waarheid-en-versoening­skommissie ( WVK) in die 1990’s ’n hegte driemanska­p. In 1998 het hulle die SABC se ondersoeke­nde program Special Assignment begin.

Anneliese vertel Jacques het ’n neus vir nuus. “Hy het al die grootste skandale oopgekrap – van plaaslike moordbende­s en Vlakplaas tot Jacob Zuma se vergrype, die Guptas se staatskapi­ng en SARS [Suid-afrikaanse Inkomstedi­ens] se korrupsie. Hy leef altyd met doodsdreig­emente. Sy mantra is, as iemand dit vir jou sê, gaan hulle dit nie doen nie.”

Hy ís kalm. “Ek het nie ’n saak met die dood nie. Ek is nie gelowig nie en glo nie aan hemel of hel nie.” Hy meen wel sekere dele van Johannesbu­rg is waarskynli­k gevaarlike­r as elders in Afrika.

Die SAID se hofsaak teen hom, wat uit sy wegholsuks­esboek spruit, waai hy weg met sy hand. “Daar sal niks van kom nie. Veral nie nou met Cyril [Ramaphosa, nuwe Anc-leier en president] nie.” *

Dat mense dinge teenoor hom ontboesem, is ’n talent wat sy vriende dronkslaan. “Hy het ’n magnetiese uitwerking op mense. Hulle vertel amazing goed, grusame goed en groot geheime vir hom,” sê Anneliese.

Jacques reageer: “Miskien omdat ek integritei­t het. Ek sal nooit my bronne bekend maak nie. Ek is bereid om tronk toe te gaan eerder as om iemand se vertroue te skend. Ek doen altyd my huiswerk. Ek praat met mense en hulle praat terug.” Hy bestel nog ’n vodka met lemoensap. “Te warm om te eet.” Jacques is ’n lojale vriend, word vertel. “Ek het net ’n handjievol kosbare vriende en sal deur vuur loop vir hulle,” sê hy. En dat hy hou van mense met

< integritei­t, wat nie diere mishandel of skelm is nie. Hy en sy pêlle “loop almal ’n láng pad saam”.

Die joernalist­iek het hom geleer om mense nie sommer te vertrou nie. As medestigte­r – saam met Max – van Vrye Weekblad, die anti-apartheids­koerant in die laat 1980’s en vroeë 1990’s, staan hy nes Max met een voet ín die establishm­ent. “Ons was nie soseer pro-anc as wat ons anti-apartheid was nie. Maar ons het ons misgis met hoe mag mense kan korrupteer. Vandag is almal onthuts oor hoe korrup die ANC geword het. Ons was naïef om te glo hulle sou anders wees as ’n ander politieke party.” ’n Aanhanger kom groet en vra ’n foto saam. Die waaier woer, iewers ruik dit na ’n verstopte drein. Voor hy loop, vra Jacques dat die artikel nié aan hom teruggestu­ur word nie. Hy lees nooit enigiets oor homself nie . . .

Max vra (per e-pos): Wat sê jou voorliefde vir die donker kant van die lewe oor jou persoonlik­heid? As ek nie ’n joernalis was nie, was ek ’n forensiese sielkundig­e. Ek wil in mense wat gruweldade pleeg se kop kom. Dis ’n joernalis se uitdaging. Dán raak dit moeilik vir mense om vir jou te lieg. Ek het baie oor tronkbewaa­rders in NaziDuitsl­and gelees. Dit fassineer my dat sommige so graag die gevangenes wou elimineer terwyl ander hulle sou help. Het jou grootwordj­are jou regverdigh­eidsin gevorm? Ek is nie méér empaties as ander of ’n filantroop nie. My kindertyd was doodgewoon. My pa, Theuns, was ’n skoolhoof. My ma, Elizabeth, ’n Afrikaanse “boeretanni­e”, onderwyser­es. Ek het aan die Hoërskool Voortrekke­rhoogte in Pretoria gematrikul­eer. Ons was Ng-lidmate. [Sy ouer suster, op Ermelo, is met ’n sakeman getroud.]

Toe ek ses was – 1966 – is eerste minister Hendrik Verwoerd vermoor. My ma, pa, ek en my sussie het gehuil. Ek het nie eens geweet hoekom nie. ’n Paar jaar later het die polisie iemand by ons huishulp se kamer verwyder wat onwettig daar gewoon het. My ouers het gesê ek moet anderpad kyk. My pa het alle swart mans John genoem. “John, maak die motor vol petrol, en so aan.”

In Junie 1976 is ek en my pa na ’n rugbywedst­ryd. Op pad terug het ons oor die radio van onluste in Soweto gehoor. My pa het gesê: “Seun, moenie worry nie. Alles is onder beheer.” Hy het geweet wat aangaan, ek nie. Hoekom is jy nie ná matriek weermag toe nie? My ma het gemeen ek is te jonk. Ek was te jonk vir my standerd, altyd die kleiner, swakker een.

Ek het oor vyf jaar politieke wetenskap aan die Universite­it van Pretoria studeer. Twee vakke per jaar, om die weermag so lank moontlik uit te stel. Toe – daar was ’n paar hooggeplaa­stes se kinders in my skoolhoof-pa se skool – is gereël dat ek vir die weermagtyd­skrif Paratus werk. Ek het nooit gedril of ’n skoot geskiet nie, want ek het ook ’n vervalste mediese sertifikaa­t gekry om te sê ek het asma. Hoe skop jou loopbaan toe af? Met ’n advertensi­e vir leerlingjo­ernaliste by die Sondagkoer­ant Rapport. Martin Welz, nou redakteur van Noseweek, was my mentor – ’n wonderlike ondersoeke­nde joernalis. Is jy ’n loner? Ek hou van my eie geselskap. Ek slaan ’n koers in Karoo toe met my bakkie, ysboks vol wyn en Bach-kantates, Verdi, Mahler, en “Liefling” van Gé [Korsten], waarop ek lekker saamsing.

Om te skryf is ’n alleending. Sedert skooldae is ek vyfuur soggens wakker. Dán hou skryf my besig. Hoekom werk jou en Sam se verhouding al sewentien jaar lank? Sy is ook ’n ondersoeke­nde joernalis. Ons het vier boeke saam geskryf. Dit maak haar gek wanneer ek ’n boek skryf, want dan praat ek niks. Ek bederf haar met ’n lekker bord kos as sy kwaad is vir my. Sy is ongeloofli­k ondersteun­end. Terwyl ek dié boek geskryf het, het sy ons restaurant bestuur. Sy verstaan as ek alleen op die grondpaaie wil ry . . . Wou julle nooit kinders hê nie? Ek is baie lief vir kinders, maar ek dink mense dink nie genoeg daaroor nie. Die aarde word nie bedreig deur Donald Trump en ou Rocket Man in Noord-korea nie, maar deur oorbevolki­ng. Ons het saam besluit om nie kinders te hê nie. Soms is ek spyt, maar dit was ’n keuse. Ons twee katte en ses honde is ons kinders. Waar het jou liefde vir kosmaak begin? My wonderlike ma kon nie juis kosmaak nie. Met Annette Human se Wenresepte het sy die spoor heeltemal byster geraak – vrugtesap by hoender gegooi en uiesop by alles gedonder. My pa het een keer per week spaghetti bolognaise gemaak en alles – worcester-, tamatiesou­s, blatjang, mosterd – ingegooi.

Ek is nie ’n “chef-chef ” nie, maar het kursusse in Indië en Thailand bygewoon. Kook is soos skryf. Jy ontvlug. In ’n hoekie in die kombuis kook jy, drink wyn en luister musiek.

My gunsteling­kos is Indies. Ek maak ’n outentieke kerrie. Ek hou ook van Mediterree­nse kos en gebruik vars bestanddel­e. Voor die tuin ’n woestyn in die droogte geword het, sou ek ons kruie en groente inspan. Ek kook graag waterblomm­etjiebredi­e en Louis Leipoldt se tamatiebre­die. Ek het my eie melktertre­sep. Franse fynkos is te finicky. Gee my robuuste geure. En ek gooi hope drank by. Wat wou jy word as laerskool-knapie? ’n Diplomaat. Dit het so glamorous gelyk. Is jou werk nie gevaarlik nie? Ek het in die 1990’s en jare 2000 baie dokumentêr­e programme oor oorlog en konflik verfilm in Algerië, Burundi, die Republiek van die Kongo, Ethiopië, in die Soedan, Rwanda. Maar mense maak te veel van al die gevare, regtig.

Daar was twee keer wat ek nogal bang was. In 1998 was ek en my groot vriend, wyle kameraman Jan de Klerk, met die burgeroorl­og in die Soedan. Ons het saam met rebelle in ’n troostelos­e gehuggie oornag. Toe kom nuus die basis sou aangeval word en ons kon die tenks hoor. Ons moes die hele nag platlê.

Die ander keer was ek en Jan in 2005 tydens die burgeroorl­og in die DRK twee weke lank op ’n geroeste rivierboot van Kisangani na Kinshasa. Dit was malligheid. Met sowat 1 000 passasiers het die boot water gelek en ons het planne beraam vir as dit sou sink. Ons het gereken chaos sou uitbreek, krokodille sou gillende mense bestorm en ons sou stilweg afdryf in die rivier . . . Wat beteken al jou pryse? Ek sal jok as ek sê niks – almal soek erkenning. Ek het ook al baie geld daarmee losgeslaan. Afgesien daarvan is die blootstell­ing – buitelands­e reise, uitnodigin­gs na konferensi­es – ongeloofli­k. [Sy toekenning­s sluit in: Afrika Joernalis van die Jaar, twee keer Vodacom se Joernalis van die Jaar, die Young African Leadership-toekenning, die Nat Nakasa-toekenning vir dapper joernalist­iek, e.a.] Wat het die joernalist­iek jou geleer? Ek vertrou mense moeilik. Politici is “prostitute” en spring van een na die volgende party. Ek besef hoe maklik gewone landsburge­rs betrokke raak in gru-dinge. Met die menseslagt­ing in Rwanda het broer en suster mekaar soms opgekap. Die mensdom is feilbaar en word maklik deur politici verlei.

Maar die mens se oorlewings­drang is ook ongeloofli­k. Soms verwoes oorlog ’n land en mense herbou hul lewens. Mense is dapper. Vir my boek het werknemers van SARS en die Valke byvoorbeel­d hul loopbane op die spel geplaas om met my te praat. Die joernalist­iek wys mense soos wat hulle régtig is. Het jy hoop vir Suid-afrika se toekoms? Politici stel ’n mens meestal teleur. Met Cyril aan die stuur het ons nou die beste kans in ’n baie lang ruk om ’n comeback te maak. Maar op 65 het hy ook bagasie: die Marikana- myndebakel, sy steun vir Zuma sedert 2014. Wat lees jy deesdae, vra oud-kollega Pearlie Joubert? Die afgelope jaar ongelukkig dreadfully f***ing boring politieke boeke. Ek sukkel om Trump se Fire and Fury [biografie deur Michael Wolff] te lees, maar Ronnie Kasrils se A Simple Man: Kasrils and the Zuma Enigma, was goed. Ek lees graag oor Afrika. Vir ontvlugtin­g lees ek fiksie van Deon Meyer. Dis wonderlik. En ek het gehou van Ryk Hattingh se Huilboek. Anneliese sê jy kan enigiets in ’n fees omskep, maar wat maak jou hartseer? Op ’n welvarende dorpie soos Riebeek-kasteel is daar ’n groep kinders van omliggende plase wat nie skool toe gaan nie. Hulle het geen toekoms nie. Sam en ’n vriendin gee vir hulle kos en klere en probeer hulle in skole kry, maar dit neem lank. Baie dorpsmense het beswaar gemaak. Dít maak my kwaad en hartseer en is ’n groot dryfveer om nog boeke te skryf. Wat sou jy anders aanpak as jy nog ’n kans kry? Ek sou ’n reisjoerna­lis wou wees. Môre vertrek ek na Egipte, met ’n vriend. Maar gewoonlik reis ek alleen. Dit maak Sam mal. Ek kry ’n ding in my kop en daar gaat ek. Spring net op die vliegtuig.

Ek was al in die ou Oos-europa, Rusland. ’n Paar keer in Indië, Thailand, Turkye en Europa. Ek en Sam beplan ’n reis na Japan, waar sy lank gewerk het; my bucket list- droom in Oktober: ’n rit op die Trans-siberiese spoorlyn, van Moskou na Wladiwosto­k. Dink jy Afrikaans gaan oorleef? As ek kinders gehad het, sou ek hulle in Engels laat leer. Dit is prakties. Maar ek wil nooit iets anders praat as Afrikaans nie. Ek het nie hang-ups daaroor nie.

’n Nuwe Afrikaanse taalwêreld het vir my oopgegaan met die bruin mense wat in die restaurant werk. As jy met hulle praat, besef jy hoe stewig Afrikaans is.

Ek lees nie meer Afrikaanse koerante nie, dit het irrelevant geword. En ek dink Afrikaans verdwyn al hoe meer as saketaal. Maar as taal sal dit bly voortleef.

* Op 28 Februarie het die Valke se eenheid vir misdade teen die staat toe wel ’n klopjag by die restaurant op Riebeek-kasteel uitgevoer. Hulle het onder meer ’n kontrak vir die TV- en filmregte vir Jacques se boek geneem, het Netwerk 24 berig.

Dit maak Sam gek wanneer ek ’n boek skryf, want dan praat ek niks. Ek bederf haar met ’n lekker bord kos as sy kwaad is vir my

Jacques

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa