Sarie

Redakteurs­brief

- * Anna-mart van der Merwe is by die KKNK in die toneelstuk Swerfgoed – oor water en waarnatoe ’n gebrek daaraan jou kan dryf – te sien. Blaai na bl. 105 vir meer.

Doer onder lê die Kaap bruin en dor. En tam. Moeg van haar stryd met water. Die te min wat stadig-stadig alle lewe uit haar druk. Vore en kanale laat opdroog, tuine vernietig, bome laat verlep en berghange stroop van kleur. Dis ’n wurggreep wat nie wil los nie, al vir ’n paar jaar, maar ons wou dit nie raaksien nie.

Soos ons inkom om te land, glinster die see blou. Sprankel soos ’n ewige fontein. Maar dié silwer randjie flous niemand meer nie. Die Kaap het ’n probleem; óns in die Kaap het ’n probleem.

Dat ons werklik ons koppe om water sou moes kry, dít in ’n wêreldstad, het sekerlik min van ons gedink. Ons bly dan teenaan die oseaan. Tog was die tekens daar; tog het ons geweet ons bly in ’n land, op ’n kontinent, met waterskaar­ste. Dis net makliker om anderkant toe te kyk en die enkele waarskuwin­gstemme te ignoreer.

Maar swart op wit het mos ’n manier om ’n boodskap met mag en mening oor te dra, des te meer in die internasio­nale media, as ander mense dit sê. Ons lees: Cape Town crisis: Preparing for life without running water. Dag Zero wanneer ons krane nie ’n druppel sal gee nie, is op ons voorstoep.

Daar’s ’n hol kol op my maag soos die paniek ons begin beetkry. Water, wat maak ons sonder water, nou of later? Sonder krag het ons nog ’n plan kon maak, maar sonder water? Soos boere wat die pyn ken van wag op die hemel se wolke, kyk ons ook elke dag óp. Na helder lug en warm son. Almal “mooiste Kaapse dae”, dié waarvoor ons altyd so wens. Die wolke bly meestal weg, dis immers nie reënseisoe­n nie. Maar nou weet ons, dit was eintlik lanklaas goeie reëntyd. Drie jaar gelede, sê die kenners. Ons damme is leeg en by die dag leër.

Beelde van die Kaap se grootste toevoerdam, die Theewaters­kloofdam naby Villiersdo­rp in die Overberg waar ek grootgewor­d het, spook by my. Daar lê dit, ’n groot stuk sand met enkele modderpoel­e.

Ja, ons het geweet water is kosbaar en dat kinders nie in die water moet mors nie, maar ons krane was vol, of vol genoeg. Só het ons gedink. En dit reën mos altyd weer. Stories oor dele elders in die land waar krane al droogloop en van boere wat steier en knak oor die genadewate­r wat nie kom nie, was eers daar doer. Nou’s dit hier, teenaan ons. Want hierdie is ’n landskrisi­s. Nie net huil die Kaap lang trane nie, maar stort die hele WesKaap, die Oos-kaap, die Noord-kaap en Noordwes ook dorre trane. Almal tot rampgebied­e verklaar. Dalk nog die hele Suid-afrika se voorland.

Planne sal ons sekerlik maak, want dis hoe die mens is, innoverend. Maar water is anders, want dit raak ons hele menswees. Dis méér as kosbaar, dis ons lewensaar. Sonder water is daar geen lewe nie. Ons voel dit aan ons lyf.

Tot ons weer gesels wanneer ons Mei-uitgawe vanaf 23 April op die rak is.

Ns. In sy gedig “Oktobermaa­nd” sê C. Louis Leipoldt: Wat gee ek om die winter? Wat praat jy nou van Mei? Óns gee om, die land gee om, want Mei-maand is reënmaand in die Kaap . . .

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa