Laaste sê deur Etienne Fourie
Weens ’n skedule wat maagsere en premature haarverlies veroorsaak, was my teenwoordigheid by die huis vir my ma se vorige paar verjaardae maar yl gesaai. Dit was dus hoog tyd dat ek en my twee susters, Marcél en Claudi, saamspan vir dié geleentheid hierdie jaar. “Die vrou werk hard en sy verdien dinge,” sê Marcél en stig net daar ’n Whatsapp-groep. Al drie van ons is stilletjies senuweeagtig – die laaste geleentheid wat ons saam beplan het, was ons pa se begrafnis. Wat ’n fantastiese tyd wat ek gekies het om op te hou rook. So, met ’n tema, ’n kleurskema en hoop in ons harte, skop die beplanning vir my ma se verjaardagpartytjie af. Iemand bak ’n koek, geskenke word toegedraai, ’n baba huil, die hond verslind iets kosbaars, my twee swaers blaas ballonne op in ’n veilige, afgeleë hoek waar rugby in fluisterstemme bespreek word, en ek koop, bring, skink en drink wyn. (“Het jy die pompoms onthou?” vra Marcél.)
Die chaos is gemaklik, byna troostend in hoe bekend dit voel, want ons is skielik weer kinders in ons ouerhuis, kruisbeen op ’n mat, besig om geskenkpapier te knip. (“Seriously, waar’s die pompoms?”) Ons is, vir ’n rukkie, weer wie ons was voordat die wêreld ons vrae begin vra het – maar dan huil ’n baba. O, ja, dís wat anders is nou: my susters se poppe het intussen lewend geword. “Die gastelys is dus net ons?” vra Marcél. “Wat van Santie? Sy waai altyd so vir ons?” “Sy’t blykbaar vir die hele apteek vertel dat Ma se gordyne soos ou lakens lyk. Jy kan nie só ’n wond met Vicks red nie.”
’n Ballon bars iewers. Marcél bid stilletjies vir genade terwyl haar man “Sorry, Liefie!” van iewers af skree. Twee bottels chardonnay later en die pompoms skitter flouerig op die ceiling. Ons sit terug en aanskou ons handewerk. Stilte.
“Ma verdien beter,” kondig Marcél uiteindelik aan. “Die vrou skenk lewe aan ons en al wat sy kry, is glitter en papierdriehoeke . . .”
Ek skink nog wyn. Dan, terwyl ek en die kat kyk hoe vierjarige Eli ’n laventelbos in die tuin natpiepie, kan ek nie help om te wonder of ons nie maar almal soms effens te hard is op onsself nie. Het ons regtig die verskoning van ’n verjaardag nodig om beloon te word vir die feit dat ons aanhou beweeg en geraas maak? Of vir ons bewonderenswaardige selfbeheersing wanneer daai Bellville-tannie jou in jou maai stamp met haar trollie vir die laaste vyf liter water, ten spyte van die feit dat haar man, skoonouers en drie tingerige maar gedetermineerde kindertjies elk reeds met ’n trollie vol water by ’n till staan? (Ek moes daai aand dors en gekneus gaan slaap.)
Terwyl die drie van ons solank verjaardagkolwyntjies onder mekaar begin uitdeel, wonder ek of dit nie belangriker is om onsself – nou meer as ooit – elke dan en wan met klein goedjies te beloon nie. Ek bedoel, is dit regtig so verskriklik om net nog één episode te kyk voordat jy inkruip? Is dit só verkeerd om in die geheim te kyk hoe Hannon mense se hare blaas of om passievol te wees oor die lewens van sepiekarakters? (Pippa se hondsdolheid-sage was ’n donker tydperk.) Miskien is dit regtig oukei om saam met my susters te sit en wyn drink op ’n Dinsdag, of om gim toe te gaan vir niks anders as die smoothie nie. Dalk is die gesondste strategie om jouself – en die uitverkore mense op jou metaforiese gastelys – soms te bederf. Buitendien, wie anders gaan dit doen?
So, bak ’n koek. Nooi die mense. Hang ’n string blinkgoed teen ’n muur saam met die mense van wie jy hou. Vind ’n verskoning om hulle te sien, of dit nou ’n verjaardag, ’n doop of atletiekbyeenkoms is, want die alternatief is gewoonlik ’n begrafnis – en dáárvoor is daar nie genoeg opkikkerende pompoms in die wêreld nie. “Waarheen is jy op pad?” vra my susters gelyk wanneer ek probeer wegglip. “Gim,” antwoord ek. Stilte, dan: “Great, sal jy vir ons ook smoothies bring?” Hulle ken my hopeloos te goed. “’ Kay.” “En maak vinnig – dié partytjie wag vir niemand nie.”