Antoinette
Louw kan op haar kop staan. Sy speel al “Chopsticks dat dit klap” op haar nuwe klawerbord. (Haar mikpunt is Beethoven.) En sy declutter haar huis – tot haar poppe van kleintyd het ’n nuwe tuiste gekry.
Want Antoinette het al geleer hoe om te maak as die stil tye kom.
Dis déél van die hoogtes en laagtes van aktrise-wees. Vroeër vanjaar het sy ’n Atkv-veertjie gekry vir haar rol as die tikverslaafde Karen le Roux in die gewilde Afrikaanse dramareeks Swartwater wat tot in Junie op SABC2 te sien was. Maar terselfdertyd is daar nou ’n skaarste aan rolle wat nommerpas vir haar is.
Antoinette sit kruisbeen op ’n leerrusbank in ’n koffiewinkel op Somerset-wes, haar rustige self, ten spyte van haar frustrasies oor die wisselvalligheid van die bedryf.
“Toe ek nou die dag my dramajuffrou van skooldae bel en wil mismoedig raak, sê sy: ‘Antoinette, dis deel van jou werk. Trek jou grootmensskoene aan en deal with it!’
“Eintlik is sulke tye goed vir my, om my te herinner dat my werk nie álles is nie,” sê sy.
Dit bly nietemin dié ding wat sy wil doen tot sy 80 is. Sy weet dit reeds sedert daardie dag in Februarie, 14 jaar gelede, toe sy as subredakteur by ’n Johannesburgse koerant gewerk het en die nuus kry dat Charlize Theron die Oscar gewen het. “Ek het daar voor my lessenaar gesit en koud geword. Ek het besef ek is besig om my droom te laat gaan. Ek doen nie wat ek wil doen nie. Ek het dadelik vir my ’n agent gekry. En ek was nog nooit spyt nie.”
Binnekort is sy weer te sien in ’n kortfilm, Axis Mundi, wat by die Silwerskermfees (22-25 Augustus) wys, en in September is daar ’n rol in die fliek Racheltjie de Beer, wat in die Drakensberge verfilm gaan word.
Antoinette is ook opgewonde oor die internasionale fliek An Act of Defiance wat by die fees vertoon word. >
< Sy speel die aktivis Molly Fischer, vrou van Bram Fischer, die advokaat wat die regspan gelei het in die Rivonia-verhoor in 1963 waarin agt mense, onder wie Nelson Mandela, aangekla is van hoogverraad.
“Toe ons die fliek geskiet het, was Zuma nog aan bewind. Ek het so hartseer geword, want as Bram Fischer en Madiba en almal wat teen apartheid geveg het, kon sien wat van hul nalatenskap geword het, sou hulle in hul graf omdraai.”
Sy wil aanhou Suid-afrikaanse stories vertel. Of sy self skryf (sy werk aan ’n draaiboek), verhoogwerk doen of voor die kamera is, op die ou einde gaan dit vir haar oor ’n goeie storie. “Ek dink altyd: Het dit die potensiaal om mense te roer? Kan dit ’n verskil in hul lewe maak? Dis waar die krag van storie vertel lê,” sê sy.
An Act of Defiance word later vanjaar uitgereik as deel van Madiba se 100ste verjaardagvieringe. Jy is verlede jaar by die Cape Town International Film Market and Festival vir jou rol as Molly in die fliek bekroon. Wat het die ervaring vir jou beteken? Molly en Bram Fischer se wêreld het my ingetrek. Ek is spyt ek het hulle nie geken nie. Ons het op skool min van daardie geskiedenis geleer, ek moes baie navorsing doen. Molly het chutzpah gehad, sy was nie iemand om sonder handskoene te pak nie. Sy was stoic, maar ook ’n bietjie stout, met baie suitors. Bram moes hard werk om haar te kry.
Ek het hul dogter Ruth in Kaapstad ontmoet. Dit was vir my ’n emosionele ervaring, die wete dat dié mense werklik bestaan het. Ons het in die hofsaal geskiet waar die Rivoniaverhoor afgespeel het. Die regisseur het my geneem na die selle waar Madibaen Oliver Tambo-hulle aangehou is, die trappe waar hulle van onder opgestap het. Ek was oorweldig deur emosie. Ek het sommer begin huil. Jou emosies is dikwels na aan die oppervlak. Ek is baie emosioneel, ja! [Sy lag.] Ek voel dinge intens. Sjoe, dis uitputtend, jy verstaan nie! Ek raak maklik ontroer. Waar kom dit vandaan? My pa [prof. Dap Louw] is ook so sensitief. Hy raak net so gou aangedaan. Dit het hom so goed gemaak in sy werk as forensiese sielkundige, want hy het empatie. Ek dink dit leer my ook om sonder oordeel en met empatie ’n rol te vertolk. As kunstenaar is dit wonderlik, maar in my persoonlike lewe . . . Ek sê altyd my sensitiwiteit is een van my beste eienskappe, maar dis ook een van my gebreke. mense wat my ondersteun. Baie van my vriende is nie in die bedryf nie, hulle hou my op die grond. Ek is ouer en wyser. Met die Veertjietoekenningsaand vroeër vanjaar het jy ’n paar rooi skoene gedra. Het dit vir jou ’n spesiale betekenis? Daar was ’n stadium dat ek glad nie rooi skoene sou dra nie, mense heg mos allerlei konnotasies daaraan. My rooi skoene is vir my ’n simbool van die vryheid van die vrou. Toe ek die toneelstuk Die Vagina-monoloë gedoen het, het ek soveel geleer oor myself en oor ander vroue. Veral om daardie skaamte oor ons lywe en ons seksualiteit te laat gaan. Ons moet dit omarm. Watter vrouekarakters wat jy al gespeel het, lê jou die naaste aan die hart? Karen van Swartwater. Ek sal Hélène [Truter] ewig dankbaar wees dat sy so ’n karakter geskryf het. Want dis nie ’n goody-two-shoes vrou wat ’n goeie ma is nie. Vroue word so maklik in boksies gesit: ek moet dadelik verlief wees op my kind as hy gebore word; ek moet alles opgee vir my kind, daardie dinge wat ’n vrou laat voel sy is nooit ’n goeie ma nie. Karen raak verslaaf, wat met soveel vroue gebeur, nie nét in arm gemeenskappe nie. Daar was lekker elemente om mee te werk.
Ek sou Molly ook uitsonder vir die verskil wat sy in ons land gemaak het. En die kankerlyer Ella Winter in die fliek Die laaste tango. Ek het dit geniet om op Loxton te skiet, om te leer dans. Dit was besonders om met vroue te kon praat wat kanker het. Ek het hul sterkte leer ken. Hul hartseer en pyn, maar ook hul lewenslus. Jou rolle is altyd ernstig. Hou jy ook van ligte goed? My vriende terg my altyd en sê: ‘Ag nee, Antoinette, jy moet altyd doodgaan, of iemand anders gaan dood of jy maak iemand dood.’ Ek hou van ernstige stories. Maar mense sal verbaas wees as hulle my in ’n komedie sien, ek kan
nogal snaaks wees. Ek hou van donker, aweregse komedies. Komedie is nie maklik nie. Ek moet net die kans kry. Hoe hanteer jou kêrel dit as jy jou karakter huis toe bring? Nee wat, ek bring dit nie huis toe nie. Dit irriteer my as aktrises sê: ‘O, moenie nou met my praat nie, ek is in karakter!’ As ek ’n emosionele toneel het, gaan ek voluit, en as hulle sê cut, is dit verby. Ek en my lewensmaat, Reenen Malan, praat nie juis oor my werk nie. Hy is ’n sakeman, maar moenie vir my vra wat hy presies doen nie!
Hy is ’n introvert, ek is ’n eenkantmens, hoewel nie noodwendig ’n introvert nie. Ons geniet mekaar se geselskap. Vir my verjaardag in Mei het hy vir my ’n klawerbord gekoop. Ek het so gehuil. Dis my kleindogtertjiedroom bewaarheid. Ek het nog altyd ’n aanvoeling vir musiek gehad.
Ons is ook aan die huis skoonmaak. Ek is sentimenteel, maar ek het nou al my poppe afgelaai by ’n hawe vir kinders met vigs. Behalwe my First Love-pop, haar kon ek nie laat gaan nie! Dis ’n proses om te declutter. Ek probeer meer mindful leef. Hoekom dink jy is mindfulness so ’n groot tendens? Bewustelikheid is so oud soos die berge, maar mense word nou eers daarvan bewus. Ons almal weet ons kan nie so voortleef nie. Nie in die klimaat wat reg oor die wêreld heers nie. Iets moet verander. En dit begin by die individu. Met bewustelikheid.
My vriend en joga-instrukteur Johannes de Villiers se boek oor bewustelik leef, Kalmte in die malle gejaag, was vroeër vanjaar onder die topdrie-verkopers in Afrikaans en onder die toptwaalf in Suid-afrika. Die behoefte aan verandering word al hoe groter.
Ek doen vier keer per week warm joga by hom wanneer ek nie werk nie. Ja, ek kan op my kop staan, maar ek wil gewoonlik net vir almal wys as ek twee glase wyn in het, en dan val ek om! Watter oomblik in jou lewe was ook ’n keerpunt? Ek was nooit juis deel van ’n groep vriendinne nie. Maar toe nooi ’n vriendin my so tien jaar gelede na ’n naweek vir vroue. Nog nooit het ek soveel liefde deur ’n groep vroue ervaar nie. Net aanvaarding, empatie en ondersteuning. Geen oordeel nie. Vroue kan baie venynig teenoor mekaar wees. Mekaar bitterlik seermaak. Ek het hier gesien hoe vroue kan saamwerk. Dis ongelooflik kragtig. Vroue het die vermoë om die wêreld te verander. Voel jy sterk oor die #Metooveldtog? Dis hoog tyd. En dis belangrik. Maar ons moet ook versigtig wees dat ons mans nie in die proses vervreem nie. Ek het nou die dag op [die radiostasie] Capetalk gehoor hoe onseker mans nou is oor hoe hulle vroue moet benader. Number One, Bloemfontein Road. Van al die strate in Londen! Is jy deesdae positief oor SA? Baie, ek is ’n groot patriot. Ek is nie blind vir die foute nie, maar ons het so ver gevorder. Die deursnee-suidAfrikaner wil dit maak werk.
Ek is in my twintigs vir ’n jaar Malta toe. Dis ’n idilliese eiland met bitter min misdaad. Als verloop glad, maar dis so vervelig. Ek het die kultuur en kleurrykheid van ons land gemis. Ons land en Afrika het ’n energie wat jy nêrens anders kry nie. Hier is soveel geleenthede vir entrepreneurs. Gaan Afrikaans voortbestaan? Soos met enigiets wat wil voortbestaan, is dit noodsaaklik om aan te pas. Om te vernuwe. Dis die reëls van die evolusie van oorlewing. Ek glo in Afrikaans se toekoms solank ons hierdie reëls toepas. En veral om insluitend te wees. Jy het al openlik oor jou depressie gepraat. Praat mense makliker daaroor? Dis wonderlik dat mense meer oop is daaroor. Toe ek as student daarmee gediagnoseer is, was ek verskriklik skaam. Niemand het toe daaroor gepraat nie. Ek dink die stigma is minder, al is dit nog nie heeltemal weg nie. Depressie is soos enige ander siekte. Ek weet van min mense wat nie al ’n antidepressant moes gebruik nie.
Ek is nie meer so hard op myself as ek deur ’n dip gaan nie. Almal gaan daardeur, niemand is 24 uur per dag gelukkig nie. Dis onregverdig om dit van mense te verwag. Wat is jou guilty pleasures? Om Tv-reekse te binge-watch – ek het pas die hele reeks van Downton Abbey gekyk. Legkaart bou . . . as ek weer sien, is ’n uur verby terwyl ek eintlik moes werk. En om te sit en hekel terwyl ek die Crime & Investigation-kanaal kyk. Jou huis is vol aanhalings. Jou gunsteling? The cave you fear to enter, holds the treasure you seek – Joseph Campbell.