Koninklikes
Mal oor die sterre, Harry en Meghan se troue wys weer: Ons kry nie genoeg van celebs nie. Tog was dit al eeue so, vóór die konstante stroom van nuus. Wat bly ons boei? Dís hoekom
< Ons word grootgemaak met sprokies van ’n ridder op ’n wit perd. En hier is ’n regte prins wat met ’n gewone, nie-adellike burger afhaak. “Een van ons” wat voor ons oë in ’n prinses (of dan hertogin) omtower word. Die romanse agter die storie, soos ook William en Kate s’n, bring ’n bietjie hoop in ’n wêreld vol politieke en ekonomiese krisisse, sê dr. Dorianne (“Dr D”) Weil, sielkundige en radio- en Tv-persoonlikheid van Johannesburg.
Diana, “die mense se prinses”, het boonop van die koninklike troontjie tot in mense se harte geklim. Haar seuns, Harry en William, volg haar voorbeeld. “Harry het so pas eiehandig die koningshuis se beeld vir altyd verander,” volgens Dorianne. “Daar is sy natuurlikheid, gebrek aan pretensie. Sy keuse van ’n bruid wat glad nie in die tradisionele koninklike boksie pas nie. Hy is wie hy is en nie skaam om sy weerlose kant te wys nie. Dit beteken nie hy kan nie die rol van prins vervul nie, maar hy bieg hy vind dit soms moeilik. Nes ons almal soms voel.”
En erken dit: Ons wil altyd meer weet oor aantreklike, ryk, invloedryke en soms skandalige mense. Dis maar van relatief onlangs dat ons danksy sosiale media dag en nag toegang het tot nuus en skinderstories oor glanspersoonlikhede. Beroemdes is egter niks nuuts nie. Mense kyk donkiejare na koninklikes vir sosiale en selfs modewenke. Die moet-hêwit trourok van vandag het byvoorbeeld eers gewild geraak nadat koningin Victoria een in 1840 gedra het. Vóór dit kon dit enige kleur wees. Swart was veral gewild in Skandinawiese lande. Ons aanvaar dikwels vandag wit simboliseer maagdelikheid, maar dit was nie oorspronklik die bedoeling nie.
Van die rooi tapyt by die Oscars tot tydskrifvoorblaaie by die supermarkbetaalpunt: Die obsessie met celebs is oral. Kulturele antropoloë en geskiedkundige studies wys menslike samelewings het altyd ’n behoefte gehad om iets te “aanbid”. Dit was dikwels die spesiale mense: Die beste jagters, atlete, mooiste, slimste, mees spirituele. Van die Griekse en Romeinse mitologie tot Marie Antoinette en die Christenmartelare, dwarsdeur die menslike beskawing was ons obsessief oor beroemdheid en sterstatus, sê Tom Payne in sy 2010-boek, Fame: What the Classics Tell Us about Our Cult of Celebrity. En ja, ons takel hulle net so graag af.
Die mens is ’n sosiale wese. Ons het ontwikkel – en leef steeds – in ’n omgewing waar dit die moeite werd is om te let op wat die mense aan die bopunt van die leer doen. Ons hou hulle dop vir wenke oor hoe om ons daaglikse lewe te lei, nes die Romeine sekerlik na Caesar vir leiding gekyk het, volgens Amerikaanse navorsers. Daarom verkoop klere wat Kate en Meghan dra blitsvinnig in winkels uit.
Selfs jagter-versamelaar-samelewings met min materiële dinge het ’n hiërargie. Ander primaat-spesies hou ook ’n ogie oor die dominante individue in hul groep. Deur net te weet wat hoër-status-individue doen, vaar jy dalk beter in jou pogings om self een te word. Jy kan ook by hulle afkyk hoe om die sosiale toneel beter te navigeer, volgens livescience.com.
Sterre buit dit uit. Hulle staan onderhoude toe, deel sappige brokkies oor hul persoonlike lewe en gaan sommer direk met bewonderaars op sosiale media om. Dus is die “para-sosiale” verhouding – die sielkundige term vir die soort eensydige verhouding wat bewonderaars met sterre het – makliker as ooit. Dit kan insluit om emosioneel te belê in jou gunsteling-sportpersoonlikheid
SPORT-MANIE: ÓNS HET GEWEN!
Die Fifa Sokker-wêreldbekertoernooi het in Junie in Rusland afgeskop. Sekerlik was daar sokkerboewery, ondersteuners wat amok maak omdat hul span verloor het. Iemand wat nie in sport belangstel nie, krap kop oor die emosie wat geswore sportgeesdriftiges daarin belê. Waarom soveel energie, tyd en geld daaraan bestee? Studies wys vir ondersteuners is dit belangriker om met ’n gunstelingspan geïdentifiseer te word as met hul werk, sosiale groep of godsdiens. Sosioloë reken sport-subkulture dien as “totems”, punte van kontak vir gemeenskappe, en ’n uitlaatklep vir rituele en “godsdiens” – in ’n tyd dat regte godsdienstigheid ál meer afneem. Ondersteuning vir ’n sekere span/klub kan jou ’n gevoel van identiteit gee, dat jy iewers “behoort”. Dis nie aanstellerigheid as ’n sportondersteuner die koninklike woord “ons” gebruik as sy na haar span verwys nie. Daar is letterlik verwarring in die brein oor wie “ek” en wie “die span” is. “Op allerhande onbewustelike maniere weerspieël ’n ondersteuner se gevoelens, dade en selfs hormone dié van die spelers,” skryf Eric Simons in (2013). Jou selfbeeld word bepaal deur die uitkoms van die wedstryd en die beeld van jou span. Geen wonder dus die gebruik van “ons” (“ons het gewen”) neem toe nadat jou span gewen het nie. Jy baai maar net in jou span se (terugkaatsende) glorie. of -span (sien kassie bo). Of om die lewensdramas van die koningshuis te volg, volgens livescience.com.
Hoewel glansmense altyd maar met ons was, is dit ’n nuutjie dat hulle nie noodwendig meer met talent, mag of prestasie geassosieer hoef te word nie. Die laaste dekade of wat is daar ’n ongekende toename in die “leë celebritykultus”. Die aanbidding van mense net omdat hulle beroemd is, sonder inagneming waarvoor hulle bekend is, volgens theguardian.com.
Roem kan oorgeërf wees (die koninklikes), verworwe danksy jou prestasies (sportpersoonlikhede), of aan jou toegeken word, skryf Chris Rojek in sy boek Celebrity (2001). “Dit lyk asof die samelewing laasgenoemde omhels as ’n demokratiese anti-elite-alternatief vir die eerste twee,” is die kommentaar op theguardian.com.
Ja, die Kardashians. Geen beter voorbeeld nie. Die naam alleen ontlok reaksie. Jy is mal oor hulle, haat hulle of is mal daaroor om hulle te haat. Maar jy wéét van hulle. Hulle kan nie sing, dans, toneelspeel of enigiets doen wat die wêreld ’n beter plek maak nie. En oortref selfs Paris Hilton, voorheen die beste voorbeeld van talentlose roem.
Nietemin het die tydskrif Cosmopolitan die Kardashians Amerika se “eerste familie” gedoop. Hul Tv-werklikheidsreeks Keeping Up with the Kardashians is dalk ná elf jaar gekanselleer. Maar Kourtney, Kim, Khloé en sibbe wéét hoe om hulself te bemark. Jy sien opskrifte op die net soos: “Hoe Kyle Jenner haar $29-lipstiffie-sakeonderneming in ’n $420 miljoen-empire omskep het.” Kim alleen het sowat 6,1 miljoen volgelinge op Twitter en het verlede jaar die kerf van 100 miljoen Instagram-volgelinge oorskry (net nege ander mense ter wêreld kon dit al regkry). Elke keer dat sy op sosiale media nies, word sy betaal daarvoor. Soos haar foto onlangs met ’n suiglekker wat sogenaamd jou aptyt onderdruk. Die kuberruim het gebibber van verontwaardiging omdat sy sulke snert ondersteun. En die geld rol in. (Sien ook brokkie op bl. 58.)
Dorianne reken die rede vir hul aanhang is dalk aspirasie, ons streef na hul sosiale en materiële sukses. Anders as die waardes waaraan Harry en Meghan ons herinner (respek, verdraagsaamheid, gelykheid), is die Kardashians s’n minder positief: materialisme, dat besittings en ’n glans-leefstyl jou vervuld sal laat voel.
IS JY ’N AANBIDDER?
Sekere eienskappe kan jou dalk meer vatbaar vir maak, volgens navorsing in die British Journal of Psychology. Dit sluit in angs en probleme om hegte verhoudings te vorm. Dit wil ook lyk asof dobbelslawe meer geneig is daartoe! Die goeie nuus? Navorsing wys minder as 1% van ons is ongesond obsessief met celebs. En die meeste van dié groepie gaan nie iets aanvang wat ’n negatiewe effek op hul lewe het nie. Niks verkeerd daarmee om vasgevang te raak in die detail van Harry-hulle se troue, of te óé en áá oor foto’s van Louis, Kate en Wills se jongste, nie. Solank jy perspektief behou. As jy die Windsors se stamboom beter as jou eie ken, moet jy dalk weer oor jou prioriteite dink.