Dit skep ’n gevoel van beheer in ’n komplekse wêreld
Deelnemers aan die studie wat die teorie glo, het nie net die boek meer geniet nie. Dit het ook gehelp om hul angs rondom die dood effens te sus. Sulke teorieë kan dus “die gevoel verminder dat jy beheer verloor, want dit gee jou ’n rede waarom dinge gebeur”, volgens die navorsers. Dit help jou om betekenis, beheer en sekuriteit in die ergste omstandighede te vind, volgens die webtuiste psychologytoday.com.
Dis inderdaad een ding wat aanhangers van sulke teorieë gemeen het: Hulle voel ’n gebrek aan beheer oor hul lewe, bevestig ’n reeks Nederlandse studies in die joernaal Applied Cognitive Psychology. Dit floreer in tye van onsekerheid en vrees: ná terroriste-aanvalle, finansiële krisisse en natuurrampe. (In die Wes-kaap het samesweringsteorieë rondom die Dag Zero-waterkrisis byvoorbeeld gedy.)
As mense voel hulle het nie beheer oor iets nie, probeer hulle sin daarvan maak en uitvind wat gebeur het. “Hulle verbind dan kolletjies wat nie noodwendig met die werklikheid verband hou nie,” sê die hoofnavorser, JanWillem van Prooijen, op time.com. Hy en sy span het ook die teenoorgestelde bewys: As jy voel jy is in beheer, hang jy nie sommer sulke teorieë aan nie.
Dus: Is John F. Kennedy deur ’n tweede, ongeïdentifiseerde sluipskutter afgemaai? Lewe Elvis Presley nog en ontspan hy langs die swembad saam met Jim Morrison, Marilyn Monroe en prinses Diana by ’n geheime oord vir kluisenaar-sterre? Wie regeer regtig die wêreld? En wat het hulle met Malaysia Airlines vlug MH370 gedoen?
Ontspan, ons brein het bloot nie ontwikkel om inligting oor vandag se geïndustrialiseerde ekonomie, terrorisme en gevorderde medisyne te verwerk nie. Maar fokus steeds op oorlewing in die wildernis, skryf Amerikaanse navorsers op www.newscientist.com. Daar skuil dus steeds ’n “roofdier” net buite jou sig. Samesweringsteorieë is boonop stories met goeie en slegte ouens, konflik, oplossings en ander verhalende elemente wat ’n natuurlike aantrekkingskrag het. Vir aanhangers vóél dit soos die waarheid.
Dit skep dus ’n gevoel van beheer en sekuriteit in ’n komplekse wêreld vol groot veranderinge, volgens dr. Schomer. ’n Plek wat oorweldigend en bedreigend kan voorkom. Dink daaroor: Aardverwarming kan die einde van die menslike spesie beteken = hel op aarde. So, glo eerder dis ’n komplot. Maak soos ’n volstruis, druk jou kop in die sand. Só hoef jy nie moeilike veranderinge aan jou leefstyl te maak nie, noodsaaklik vir ons oorlewing. Samesweringsteorieë gee jou ’n rede om die werklikheid te ignoreer, sê hy. Jy laat ook nie feite met ’n goeie storie inmeng nie. Hoe meer jy in sulke teorieë glo, hoe minder vertrou jy wetenskaplike feite, wys studies. Jy steur jou ook nie aan teenargumente nie, want dit wat jy glo, is in die eerste plek nie op logiese argumente gegrond nie. (Sien kassie hiernaas.)
Nie alle samesweringsteorieë is skadelik nie. Sommige kan selfs gesonde skeptisisme bevorder. Maar baie kan werklike, negatiewe gevolge hê. As jy die snert glo dat inenting outisme veroorsaak, gaan jy minder geneig wees om jou kind te laat inent. Dit stel nie net hom nie, maar ook die groter gemeenskap aan siektes bloot.
Hoe begin dit en kry dit stoom? Om dwaalspoortwiets-sonder-brieke en ander vorme van sosiale media die skuld te gee, is net een deel van die prentjie. Die ware skuldige is ons koppe – die masjinerie wat in die eerste plek samesweringsteorieë skep. En dit rig elke daaropvolgende twiet, share en like, volgens www.psychologicalscience.org.
Laaste gedagte: Dis net ’n samesweringsteorie tot dit waar bewys word. En dit voeg ’n knypie speserye by ons daaglikse sleur. The truth is out there!
* Chemtrails: Die kondensasie-spoor wat vliegtuie soms agterlaat, is glo bewys van geheime regeringsprojekte met ’n duister doel, soos om die weer te manipuleer.