Redakteursbrief
Daar’s báie vroue wat ek #bewonder. Báie wat my inspireer.
Ek sien hulle elke dag in aksie, hoor hulle praat, ervaar wat hulle bereik. Soms against all odds, dikwels in ’n manswêreld waar hulle voortbeur en stroomop swem, én anderkant uitkom.
Ek het nog altyd gedink as ek in die geskiedenis kon teruggaan, sou ek graag vir Cleopatra wou ontmoet. Ons prentjie van haar is dié van ’n beeldskone, betowerende vrou – soos gespeel deur die mooie Elizabeth Taylor in die 1963-rolprent Cleopatra. Tog wys ou muntstukke die regte Cleopatra was baie ver van tradisioneel mooi. Maar dat sy magtig was, in ’n manswêreld, dié is seker. Dat sy as die laaste farao van Egipte en ’n spreker van vele tale ander met haar intellek en sjarme kon inspireer, daaroor stem ou geskrifte saam.
Ek sou ’n onderhoud wou voer met Amelia Earhart, wat in 1932 die eerste vrou was wat ’n solovlug oor die Atlantiese Oseaan gedoen het. In die Smithsonian-museum in Washington hang ’n rooi Lockheed Vega van haar nog teen die dak; haar leervliegbaadjie daarby. In ’n poging in 1937 om om die wêreld te vlieg, het haar vliegtuig oor die Stille Oseaan weggeraak. Haar stem was meteens stil, maar sy het ons hiermee gelaat: “Wanneer vroue misluk, moet hul mislukking ’n uitdaging word vir ander . . .”
Een van die grootste uitstallings van Frida Kahlo se werk is ’n paar jaar gelede in Londen gehou. Daar in die Tate Modern het ek besef om Frida as kunstenaar te verstaan is om haar pyn te verstaan – emosioneel en fisiek, veral ná haar verpletterende busongeluk. ’n Voorreg sou dit gewees het om haar te ken. Want nooit was sy die slagoffer nie; eerder ’n vegter wat kuns en kleur gebruik het om uiting aan haar emosies te gee.
Malala Yousafzai. Graag sou ek dié jong vrou in die oë wou kyk. As skoolmeisie in Oktober 2012 is sy op ’n skoolbus in Pakistan in die kop geskiet. Haar “oortreding”? Dat sy haar beywer vir die opvoeding van meisies, in haar land wat glo in die opheffing van net seuns. Sy het byna haar lewe verloor, maar sy’t nie ophou praat nie. Time het haar in 2013 gelys as een van die 100 mees invloedryke mense ter wêreld, en in 2014 was sy medeontvanger van die Nobelvredesprys. Op 17.
Ek dink aan die dapper vroue van SA. Almal het ’n storie; ’n storie wat die moeite werd is om te vertel. Oor hulle wil ek skryf. Die ondersoekende joernaliste wat ons demokrasie help staande hou, ons liefdadigheidswerkers wat immer ’n hand uitreik, ons entrepreneurs, atlete, huiswerkers, kunstenaars, ma’s . . . Almal vroue met innerlike sterkte, wat hul stempel afdruk en hul stem laat hoor. Vreesloos vorentoe beweeg.
Vreesloos? Nee, dís ’n mite! Almal ken vrees, veral as jy veg teen dit wat verkeerd is en vir waarin jy glo. Ongemaklik rus die kop wat die kroon dra, skryf Shakespeare, dus sou Cleopatra vrees geken het. So ook Amelia, Frida en Malala. Maar dít het vroue gemeen: hul drome is groter as hul vrese. En drome is net ’n stappie weg van die werklikheid. Goed om te onthou in Vrouemaand. Geniet nou dié uitgawe, vol vroue wat óns inspireer. Tot ons weer gesels wanneer ons blou September-uitgawe vanaf 20 Augustus op die rak is.