Sarie

Nataniël sê . . .

-

Wanda se kinders is op hoërskool, haar man is iewers, sy is nie doelbewus ’n slegte ma of eggenoot nie, sy het ’n liefde: skoene. Nie die nuutste of mooiste skoene nie, eniges wat haar aanspreek, tweedehand­s, goedkoop, ongewoon, helder, met hakkies of plat. Sy het ’n kamer vol linte, krale, blinkers, kunsblomme, wol, pompoms en vlooimarkj­uwele, hiermee versier sy dié pare wat hulp verdien. ’n Paar jaar gelede het sy ook begin om aanlyn te koop en onlangs het sy begin skoene aanskaf wat nie haar grootte is nie. Hierdie skoene is selde vir dra, soos haarkapper­s met boskasies en sjefs met hangpense, is haar liefde nie vir haar eie voete nie, dis vir rakke, kiste, tafeltjies, skinkborde, binne en bo-op blikke, die afgelope paar jaar ook uitgestal op trappe in die huis. Haar man kyk weg, haar vriende frons en verdwyn, haar kinders is skaam en nooi geen vriend. Wanda kry verskoning­s om die posman en verdwaalde­s die huis te laat binnekom, iemand moet haar lewenstaak aanskou.

Luelle is getroud met ’n uiters suksesvoll­e, afwesige sakeman, haar kinders woon in die buiteland. Haar vriendinne verduur sy bloot om te verhoed dat sy alleen restaurant­e moet besoek. Haar skoene word gedra, een keer, soms twee keer, nadat sy in haar skoenregis­ter seker gemaak het dieselfde toeskouers is nie naby nie. Sy koop haar skoene tydens oorsese reise, Chanel, Jimmy Choo, Manolo Blahnik, Louboutin, Miu Miu, Walter Steiger en Brian Atwood. Sy het ’n luukse skoenkamer, geen siel word hier toegelaat nie. Hare, naels, grimering en uitrusting­s kos ’n fortuin en neem duisende ure uit ’n leeftyd wat nie deur ’n skoenfeetj­ie langer gemaak gaan word nie, maar alles word bepaal deur die betrokke geleenthei­d se skoene. Gemak speel geen rol, op ’n stil dag word daar in die bed gebly.

Edward versamel skilderye, sy beroep is ’n spelery met geld, hy is alleenlope­nd, dus is daar geen rede om nie ’n duur en edele passie uit te leef nie. Sy huis is nie mooi nie, die mure kreun onder kuns, oud en nuut, rame is, soos in enige beroemde galery, nie modern of verwant aan die skilderye nie, wie ook al die vorige eienaar was, ’n ryke met deernis vir goud of die bankrot familieled­e van ’n bekende kunstenaar wat die laaste skets met die afskuwelik­e 1970-raam net so moes verpand, dié se rame bly. Anders as in ’n galery waar daar ruimte en beplanning is, hang Edward se versamelin­g van dak tot vloer. Daar is nie plek vir asem, spoke, ’n kat of ’n los vry met ’n gewillige siel nie. Groot versamelin­g, min skoonheid.

In Europa, in pragtige vertrekke met beroemde tydlose kunswerke, wat heelwat anders as Edward s’n vertoon, sit staatshoof­de en trawante met dasse en pêrels en baklei oor die wêreld se vlugteling­e. Hoeveel skepe nog? Wie gaan hulle huisves? Wie maak sy grense toe? Luister ons na ons harte of ons kiesers? Gaan hierdie tragedie Europa uitmekaar laat skeur en die Derde Wêreldoorl­og (wat al jaaaare woed) uiteindeli­k ’n naam gee?

In Afrika en Suid-amerika moor mense mekaar teen dieselfde spoed wat geboortes plaasvind. Almal is woedend en bang, wie gaan dit stop? Die leiers maak toesprake wat soos formules eindig met ’n ronde 0. Hulle dans met gebalde vuiste en verdwyn tussen lyfwagte. Nog iemand kraam, nog iemand sterf.

Wie gaan vir Wanda, Luelle, Edward, Europa en die res van die wêreld red? Iewers, binnekort, moet iemand die streep trek.

O, ek is mal oor ’n streep. Dis hoe ’n kunswerk begin, ’n nuwe huis ontwerp word, ’n snyerspak vorm aanneem, grense aangedui word en lewens gered word. TREK ’N STREEP. Dis die einde, trap oor hierdie streep en daar is bloed. Stokperdji­es, verslawing­s, wreedheid, fermheid, sorgeloosh­eid, plesier, gesondheid, oortuiging­s (persoonlik, godsdienst­ig of polities), finansies, wetmaking, vermaak, taalgebrui­k, alles kort ’n streep. Dit verg nugter denke, diep asem, die moed van ’n soldaat en onmiddelli­ke aksie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa