Afrika, Laurinda Hofmeyr se toekoms
Bang was sy nog nooit om met klank en ritme te waag wanneer sy gedigte toonset nie. Met Afrika my verlange het Laurinda Hofmeyr nuwe grense oorgesteek en ’n klomp temas in haar lewe verweef
eerste keer toe sy die titel hoor van die musiekproduksie Afrika my verlange/afrique mon désir, het dit haar dádelik aan die hart gegryp.
“Die titel het ’n amperse intense nostalgie oor ’n mitiese plek wat dalk nooit bestaan het nie, maar wat tog aanwesig is – met ’n soort kollektiewe siel van Afrika-musiek en -poësie,” verduidelik Laurinda Hofmeyr, bekroonde liedjieskrywer, toonsetter van gedigte en musiekmaker.
Dié sensitiewe kunstenaar sit voor my in ’n koffieplek op Stellenbosch, knus gewikkel in ’n groenerige trui, die kleur van haar oë. Sy is die toonbeeld van rustigheid. “Dit lyk maar net of ek so kalm is,” lag sy. “Hoewel ek geweet het dit is ’n projek wat ek wil aanpak, was ek ook bang vir die omvang daarvan.”
Jy begin haar aanvoeling vir klank en ritme verstaan as sy praat oor haar grootwordjare op Witsieshoek (Phuthaditjhaba) in die Oos-vrystaat. “My oorlede pa, Andrew, was verbonde aan die teologiese skool en my ma, Joan (82), het by die onderwyskollege gewerk. Sy woon nou in Pretoria.
“Saterdagmiddae terwyl ek op die voetpaadjies rondgewandel het wat so kronkel om die voet van die Malutiberge, het ek óf kwaito-jazz óf die pluk-klanke van die mbira [’n eenvoudige Afrika-instrument met lang smal metaalplaatjies] gehoor. Daar was altyd #wonderlike vierstemmige kore. Daai beat is waar ek my ritme vandaan kry. Wanneer ek toonset, begin ek eerste by die ritme.”
In Afrika my verlange hoor ons weer eens haar aanvoeling vir wêreldmusiek (internasionale musiek wat baie verskillende style vervleg), volgens Wikus du Toit, senior lektor in filmmusiek aan AFDA, Skool vir Skeppende Ekonomie, in Johannesburg.
Dié produksie wys dat meertaligheid in Afrika gevier kan word, met Frans, Afrikaans, Lingala, wat in die noordelike deel van die Demokratiese Republiek van die Kongo gepraat word, Swahili, die lingua franca van Afrika se Groot Meredistrik, en Tshiluba en Kikongo, albei amptelike tale van die DRK. Dit bevat ’n skatkis van Afrika-poësie asook gedigte van plaaslike digters wat deur Laurinda getoonset is en gekombineer word met Afrika-geïnspireerde melodieë en animasieprente om hierdie ’n energieke, oudiovisuele musiekervaring te maak.
By vanjaar se US Woordfees is Afrika my verlange as beste musiekproduksie benoem en by die KKNK ook vir ’n Kannatoekenning in 2017. Nou word die musiekalbum, met die Franse titel – Afrique mon désir – aanlyn op haar webtuiste (www.laurindahofmeyr.co.za) verkoop. Dit is ook in Frankryk te kry, en in Junie is die produksie op verhoë en feeste in Parys, Bordeaux, Chasseneuil, Poitiers en Angoulême opgevoer.
Laurinda vertel die produksie was ’n opdragwerk van die Cape Town Music Academy (CTMA), ’n maatskappy sonder winsoogmerk wat geleenthede wil ontwikkel vir plaaslike musikante en kunstenaars in die Wes-kaap.