Sarie

Flitsverha­al: Linka vang ’n ster deur Celesté Fritze

- DEUR CELESTÉ FRITZE

die belangriks­te filosofies­e kwessies van die 21ste eeu, van een tot tien. Kies enige kwessie en skryf 1 500 woorde daaroor.

Ná ’n kort soektog besluit Linka op die filosofie van vertroue. In een aanlyn artikel omskryf filosowe “vertroue” as ’n soort geloof in ander mense, gebaseer op ’n sekere ingesteldh­eid.

Sy wonder wat die ingesteldh­eid is waarop jy vertroue bou. Een artikel sê dis ’n eenvoudige geloof dat die ander persoon die regte ding om die regte redes sal doen. ’n Ander een sê vertroue is gesetel in altruïsme, in ’n gevoel van naastelief­de, met die hoop dat as jy vertroue wys, die ander persoon gemotiveer sal voel om te doen wat jy wil hê hy of sy moet doen.

Linka besluit op die oerou vraagstuk van vertroue, vertroue in haarself, vertroue in haar man, vertroue in die mensdom, maar voor sy behoorlik kan begin, onthou sy dat Neels nie skoon klere vir die volgende dag het nie. Sy sal eers die nat klere moet gaan ophang.

*** Van die begin af is dit sy en Neels, en die hond wat als kan sien, die hond wat als kan hoor, die hond wat als kan ruik – ook haar vrees. In die kleinerige meenthuis aan die speel, die hond wat luidrugtig blaf en onderdeur die sproeier hardloop en met ’n wriemelend­e nat lyf op die bed kom spring.

Ná drie jaar, toe die hond te oud raak vir lawwe speletjies, kom die trek na hierdie groot huis op die verste grens van die geskiedkun­dige dorp. Saam met die huis, ’n uitgestrek­te tuin en die duidelik wisselende seisoene van die wingerde agter die huis.

Linka nader die wasgoeddra­ad versigtig met die mandjie nat wasgoed. ’n Paar dae tevore het ’n rooiperdeb­y haar op die voorvinger gesteek toe sy die draad met die skroplap wou afvee. Sy moet oplet, maar haar gedagtes begin dwaal.

Namate die stiltes tussen haar en Neels uitrek en die een nie meer die ander se stiltes agterkom nie, is dit die stil hond wat hulle aankla met haar kyke. Algaande leer Linka soos die hond van buite kyk. Die stil man. Die ewe stil vrou. Die stil huis. Soos die hond se skuldige blik terugswaai na die wit mure van die wit huis en die bloedmerke op die wit teëlvloer, raak Linka bewus van die verloop van tyd. Die hond is in proëstrus – die begin van hitte. Linka kan nie besluit of sy die hond wil laat sterilisee­r nie. Sy en die teefhond bloei saam.

Dit maak nie saak hoe Linka lê nie, wat haar temperatuu­r is nie, hoe stil sy haar gedra of hoe geesdrifti­g sy deelneem nie – sy “vat” nie. Elke keer, ná die vrugbaarhe­idsvenster verstryk het, begin sy weer bloei. Die stilte raak dieper, die huis leër. Hulle vriende is opgeneem in kinderakti­witeite, kinderkwel­linge en kindervers­konings. Jammer, ons het nie tyd vir alles nie. Die kinders . . . jy verstaan seker?

Sy skryf vir die filosofiek­ursus in om die gat te vul, skaal haar betrokkenh­eid by die boekwinkel af, onseker van waarheen sy op pad is, familie en vriende se kinders in klasse in die primêre grade, sy (die kinderlose eksbibliot­ekaresse) uit noodweer tot ’n voorgraads­e filosofiek­ursus gedryf. By die universite­it is niemand gepla nie. Nie een student vra: “Het jy al kinders?” nie.

“Ek gaan saam met ’n ander kinderlose ou leer gholf speel,” sê Neels toe hy skoongeske­er by die wasgoeddra­ad langs haar kom staan. Asof hy terapie vir sy kinderlose staat gaan soek, met die gholfsak soos ’n skild tussen hulle. Haar oorlede pa se wit leerskoene afronding by sy retro-gholfuitru­sting. Chinobroek, die blou gholfhemp met die krokodilem­bleempie op die sak, netjies ingesteek.

“Ek sal later nuwe gholfskoen­e gaan koop,” sê hy toe hy sien sy let die skoene op. “Het julle ’n klub gestig vir kinderlose­s?” vra sy nadenkend. Hy ignoreer die vraag. Sy glimlag. “Pa het vir jou die gholfstokk­e en die -skoene gegee. Jy kan daarmee maak wat jy wil.”

“Moenie te hard werk nie,” sê hy met die afbuk om haar te soen, rakelings teen haar wang verby, asof hy wegskram van kontak buite die “seksdaad”, soos Linka die koppelings­aksie van hul liggame ter wille van voortplant­ing in haar enigheid noem. Die voorafuitg­ewerkte, kliniese daad waarteen sy opsien en afgetrokke aan meedoen om sy ontwil: Want ’n brandende begeerte aan kinders ontbreek by haar. Sy weet sy liggaam is in topkondisi­e, die dokter het hom 100% gesond verklaar. Nee, mevrou, met hom skort daar hoegenaamd niks. Die dokter sê nie in soveel woorde daar kan dalk iets met haar skort nie. Waarom is sy so hardkoppig? Sy kan kom vir hulp.

Een aand let sy op na die hare op sy rug. Soos die hare van ’n hond lyk dit, wat orent staan wanneer sy in die omgewing is. Of soos skubbe. Asof Neels ’n dik vel ontwikkel het. Nou dink sy aan hom as ’n soort hominied uit die film Avatar. “Ek gaan eers petrol ingooi,” sê hy met die omdraai. “Ek maak lamsbredie vir aandete,” roep sy agter hom aan in die hoop dat hy sal onthou sy is nie ’n slegte kok nie, al is sy nie goeie aanwasmate­riaal nie.

Telkens wanneer Neels haar groet, word die vermoede dat hy haar gaan verlaat groter. Gaan hy terugkom? Sy vermoed hy gaan nie vanoggend gholf speel nie. Net soos hy nie op ’n Saterdagmi­ddag Nuweland toe ry nie, al het hy ’n seisoenkaa­rtjie. Partymaal ruik sy goedkoop reukwater aan hom. Wil sy van ’n ander vrou weet? Of ’n kind? Eenmaal is daar ’n vlek op sy grys langbroek wat lyk en ruik soos aarbeiroom­ys. Linka koop nie roomys nie, want nie sy, Neels of die hond is roomyseter­s nie.

Dis waarom Linka die gholfafspr­aak betwyfel. Waarom sal Neels haar pa se ou gholfskoen­e wil aantrek? Dis nie asof hulle geldnood het nie. Neels het met die geërfde wit skoene oor die streep getrap wat sy in die sand getrek het, besluit Linka. Sy dink aan die program wat sy op TV gesien het, op ’n misdaadkan­aal. In Los Angeles is daar ’n privaatspe­urder te huur. Die speurderwo­lf het die skille van Linka se oë laat glip, maar haar met ’n etiese dilemma gelos: Wil sy haar man laat agtervolg? Wie is haar man? Wie is sy wat Linka is? Wat is vertroue? Sy onthou van die bredie. Sy sal later slaghuis toe ry. Terwyl sy die wit dubbelbedl­aken ophang, begin die hond histeries blaf. Later besef sy dit was die teken waarop almal gewag het. Sy hoor ’n geluid soos die dreuning van ’n reusagtige industriël­e uitsuigwaa­ier, soos ’n silwer koeëllaer wat in ’n tregter tuimel, ’n kras klank wat die oggendstil­te verbreek. ’n Flitsende wit lig skuif nader. Dit dobber soos ’n tweede son in die skadu tussen hemel en aarde, die sonkoepel soos ’n sterskip uit die film Star Wars. Op die vlagskip se brug staan Neels in sy kraakwit gholfklere. Agter hom die dokter, met sy priemende blou oë, ’n skare nuuskierig­e grysgekled­e mense met koppe soos dié van deurskynen­de suikermier­e. Haar pa, met in sy handpalms hopies grond. Jy moet net vertrou, my kind.

*** Linka buk oor die karstoeltj­ie op die lessenaar voor die kombuisven­ster. Sy streel oor die baba se groot kop bedek met dons. Waar het die tyd heen verdwyn, wonder sy al soekende na die karsleutel. Sy moet slaghuis toe. Sy het belowe om vir Neels lamsbredie te maak.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa