Sarie

Laaste sê deur Riana Scheepers

RIANA SCHEEPERS

-

Ons het ’n nuwe Laaste sê-skrywer! Riana, ’n bekroonde Afrikaanse digter en skrywer wie se werk al in onder meer Nederlands, Spaans, Frans, Engels en Pools vertaal is, sal voortaan dié maandeliks­e rubriek behartig. Haar jongste boek is Stormkind (Tafelberg, R240). Dit is een van die skaars vreugdes van ons bestaan, iets wat die lewe verniet vir jou gee. Hulle word moeiteloos deel van jou, vrolik en vol lewe, sonder dat jy hulle werklik verdien: Vriendinne.

Ek het net ’n paar vriendinne. Elkeen van hulle is diep en innig en onmisbaar deel van my. My vriendinne is die vroue wat my lewe anker. Hulle bring my aarde toe as alles om my waansinnig raak. Hulle doen dit op ’n manier wat my ma nie sal doen nie, daarom luister ek na hulle. Dit is hierdie vroue wat nuwe dimensies van my bestaan oopmaak met hul persoonlik­hede, hul deugsaamhe­de – en hul geite. Omdat ek hul lewens deel, soos hulle ook myne, leef ek saam met hulle ’n ryker lewe, ’n sinvoller lewe, ’n gekoesterd­er lewe, ’n lewe vol verrassing­s. Want elke ramp en ellende en vreugde wat hulle beleef, is op ’n sagter, inniger manier ook mý ramp en mý ellende – en mý vreugde.

Ek gee nie my vriendinne weg nie. Nie sommer nie. As daar ’n “kwessie” is, soos my ouma ’n probleem altyd so mooi eufemistie­s genoem het, dan word dit weggewerk. En as dit nie kan nie, wel . . . dan was die kwessie groter as ons.

Ek gee nie my vriendinne weg nie, sommige van hulle verdwyn vanself. My vlugtige vriendinne, soos ek met deernis aan hulle dink. Die lewe gee hulle net ’n kort tydjie aan my. ’n Naweek, ’n oggend, die ure van ’n nagvlug in ’n vliegtuig.

Soos Dianne, die vrou wat langs my sit op ’n vlug van Barcelona na Kaapstad. Ons beland in die heel agterste ry, ’n ruimte met twee sitplekke, maar bitterlik beknop. Ek kan my nog invou en sit, maar Dianne is ’n langbeen wat moeilik haar beendere in die spasie ingepas kry. Dit sou ’n lang nag word. Ons kry wyn, bitterlike slegte wyn, maar nie kos nie. ’n Paar rye voor ons raak die lugredery se hoender én bief op. Jammer, sê die lugwaardin. En ewe parmantig: “Wil julle nog wyn hê?”

Ja, ons wou nog wyn hê. Op ’n hele paar bottels slegte wyn en min spasie het ek en Dianne vriendinne geword. In een nag het ek haar lewensverh­aal gehoor, haar lewe gedeel. In Europa het sy alles opgegee. Sy was op pad na haar minnaar in SuidAfrika. Dit is ’n sprong in die duister, het sy gebieg. Maar is dit die regte besluit?

Die vliegtuig land, en ons ruil telefoonno­mmers uit. Maar toe ek haar eendag bel, is die nommer nie meer in werking nie. Was haar sprong ’n vreugdevol­le voëlvlug, of ’n tuimeling die dieptes in?

In Atlanta het ek net vir ’n paar sekondes ’n vriendin gehad. Langs ’n besige straat se voetoorgan­g het ek verskrik bly staan, want die verkeer het gejaag om dood te ry. Langs my het ’n fantasties­e vrou kom staan. Alles aan haar was groot en indrukwekk­end. Sy was lank en mooi met ’n glimmende swart vel. Sy het láng naels gehad, róói lippe, vreeslike hoë hakke en báie hare. Sy het my een kyk gegee en my hand gevat. “Let’s go, sista!” het sy gesê en oor die pad begin loop. Ek het nog benoud rondgekyk, maar sy het my net saamgeslee­p. Die wonderwerk het gebeur: die karre en busse het gestop. Dood. Veilig aan die ander kant het sy geknipoog, en my laat gaan. My vriendin van ’n paar onvergeetl­ike sekondes.

Oor baie jare heen het hulle hul verskyning gemaak, en weer verdwyn. My vlugtige vriendinne. Anne die argitek wat vir my haar geboue in Antwerpen gewys het. Jeanine die alkoholis op die veerboot na Ierland wat my vertel hoekom sy vroeg Vrydagaand­e in haar bed klim. Jennifer van Panama wat vir my ’n kosbare oorbel gee omdat sy die ander een verloor het.

Ek koester elkeen van hulle, my vlugtige vriendinne. Wie weet, dalk gee die lewe hulle eendag weer terug aan my?

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa