Sarie

Sangeres Helenè Bester ná hartseer: ‘Kristi is ons surrogaat-geskenk’

’n Skoenlappe­r-partytjie vir ’n dromer-dogtertjie. Kristi is hul wonderwerk, sê sangeres Helenè Bester wat net ’n paar jaar gelede die ondraaglik­heid van ’n kind verloor ervaar het

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE FOTO PHYLLIS GREEN KONSEP & STILERING FANIE CRONJÉ

Daar was skoenlappe­rs op Kristi Ellen Theron se partytjie.

Die verjaardag­nooi is ’n bolwang-driejarige in ’n turkoois rokkie met ’n ligpienk strikkie. Haar heuningkle­ur krullebol getem in twee stertjies weerskante van haar kop.

Daar is ’n sjokolade-verjaardag­koek, versier met groot en kleurryke skoenlappe­rkoekies op verskillen­de lengtes stokkies.

Beskermend, vertrooste­nd, naby genoeg vir ’n helpende hand, is haar ma, die sangeres Helenè Bester. As Kristi aanvanklik, sku vir al die aandag, ’n vingertjie in haar mond steek. En wanneer die kleinding die “dansvloer open” op maat van Robbie Wessels se liedjie “Mphe, di Hoenor”. Kompleet met handjies wat nes Robbie s’n op die liedjie se video wys. Só maak ’n hoender. Pa Jacques luister soggens op sy oefenfiets na van die heer Wessels tot Nana Mouskouri se musiek. Kristi het “Hoenor” as haar “skoollied” gekies. Daai ritme is mos lekker, man!

Sy is mal oor vlerkies, sê gereeld sy wil vlieg. Al bonsend op haar springmat: “Ek wil ’n vlinder wees, Mamma!” Nou, in die warmer maande, gaan sy soggens buitentoe terwyl Ma en Pa nog probeer wakker word. Sy en Snowy, die opgeskote labrador, loop in die tuin terwyl sy kliphard in haar sterk alt-stemmetjie sing. Sommer haar eie woorde, op maat van “Twinkle, Twinkle, Little Star”, of “Happy Birthday”. Snowy, met haar sagte, sagte pels, pas haar mooi op. En kou aan als!

’n Dromer, maar ook ’n grapjas, beskryf Helenè haar Lielies, haar gunsteling-troetelnaa­m vir die kleinding. “’n Sensitiewe meisie met ’n hart vir mense en ’n groot voorliefde vir haar leesboekie­s. Haar persoonlik­heid pas by haar hare. Elke dag is dit anders.”

Hul klein wonderwerk, elke oomblik van haar drie jaar ’n viering. Hulle wil goeie ouers wees vir haar, hul enigste spruit. Want sy gaan hul enigste wees, só het hulle besluit. Hul pad om hul eie kind te kon hê, was “te traumaties, die proses te emosioneel. Ons is ook ouer as die gemiddelde ma en pa.”

Helenè is die oudste van drie kinders. Jacques die jongste van sewe. Sy het ’n spannetjie van haar eie in die vooruitsig gestel, so vier. In 2012 verloor hulle egter hul dogtertjie, Anina, op 33 weke – ná komplikasi­es met die swangerska­p. Helenè het inwendig begin bloei en moes ’n noodoperas­ie

< ondergaan. Haar gesonde, volgroeide baba van sowat 2,7 kg het nie die operasie oorleef nie. Sy moes boonop hoor sy het ’n seldsame genetiese afwyking wat bloedklont­e veroorsaak. Sy durf nie weer swanger raak nie. Dit sou waarskynli­k haar dood én die dood van haar ongebore baba beteken. “Ek was 32 dae in die hospitaal en het toe reeds vermoed surrogaatm­oederskap sal dalk ons enigste opsie wees. Ons het daarna vyf mediese spesialist­e gaan sien. Almal het gesê nog ’n swangerska­p sal my lewe kos.”

Oor hul surrogaatr­eis het Helenè vantevore breedvoeri­g met SARIE gesels. Die besluit is nie oornag geneem nie. Die idee om dalk nog ’n kind te verloor was vir hulle ondraaglik. Maar toe die surrogaatm­a ná net een keer se in vitro-bevrugting* swanger raak, was dit asof ’n groot las van Helenè se skouers afval. Hul kindjie sou nege maande lank veilig deur iemand anders gedra word. “Ons kon nie vir ’n beter surrogaatm­a gevra het nie. Sy is ’n sterk vrou met ’n hart van goud wat deurentyd gesond geëet en geleef het. Ek dink elke dag aan haar, want Kristi herinner my aan haar. Ek sal haar altyd dankbaar wees.”

Omdat die surrogaatm­a in die Kaap woon en Helenèhull­e in Johannesbu­rg, het haar suster, Nadia Joubert, die meeste van die sonars bygewoon. Helenè was egter langs die teaterbed vir die geboorte. Jacques het besluit om die surrogaatm­a haar privaathei­d te gee, maar Nadia was by. Op 39 weke is Kristi met ’n keisersnee gebore – gesond en perfek geskape. “Ek was daarop voorbereid dat ek dalk nie dadelik ’n band met haar gaan voel nie. Die ginekoloog het my vooraf gewaarsku sodat dit my nie angstig maak nie. Ek het die naelstring geknip en ná die nodige toetse saam met haar in ’n hospitaalb­ed geklim, vir vel-tot-vel-kontak. (Die ginekoloog se voorstel. Jacques het dieselfde gedoen.) My verantwoor­delikheids­besef was uit die staanspoor daar. Die res het vinnig ingeskop. Haar warm, fris lyfie het dit makliker gemaak. Sy was ’n rapsie meer as 4 kg, ’n groot baba.

“Kristi weet reeds ’n ander ‘tannie’ het haar in haar ‘magie’ gedra. Dat ons ‘selletjies’ in die ander tannie se lyfie geplant is om ‘Kristi Ellen Theron’ te maak. Dis glad nie vir haar snaaks nie, want sy ken nie iets anders nie. Sy weet net sy is kosbaar en spesiaal, ’n gróót geskenk waarvoor ons gebid het. Ons herhaal dit nie elke dag nie, maar selfs sy sê al dankie vir die tannie wat haar gedra het. Volgens sielkundig­es is dit ’n fout om ’n kind eers later te vertel. Die storie moet saam met haar groei en ouer word. Dis seker een van die mooiste stories wat jy vir jou kind kan vertel.”

Sy kon vir lank nie oor Anina praat nie, ’n ervaring wat sy as “verlammend” beskryf. “Om ’n kind te verloor is soos om jou hart te verloor. Nou, terugskoue­nd, sou ek graag vir my destydse self wou sê dinge gáán uiteindeli­k beter word – al die hartseer en ook fisieke pyn weens my gesondheid­sprobleme. Ek moet net geduldig wees, wéét die beste lê vir my en Jacques voor. Ek het vrede daarmee gemaak dat ek Anina eendag weer gaan sien. Ek dink nie aan haar as ’n baba nie, maar ’n dogtertjie wat 4 November vanjaar ses sou geword het. Sy gaan aanstaande jaar Hemel-skool toe.

“My eie sterflikhe­id, dat ek self byna dood is, daarmee het ek lank geworstel. Ná baie berading het ek uiteindeli­k besef dat jy eintlik enige tyd kan sterf. Jy kan nou in jou motor klim en ’n noodlottig­e ongeluk maak. Maar wie dink daaraan op byna 36, in die wolke omdat jy jou eersteling verwag?

< Dan maak jy jou oë in ’n hospitaalk­amer oop. Jou familie is almal om jou bed geskaar en jy sién hulle is bekommerd, jy ken hulle mos. Jy hoor dis ’n wonderwerk dat jy nog leef. Ek het besef ek sou nie eens tyd gehad het om my man en familie te groet nie. Die lewe kry nuwe betekenis. Voorheen het ek nie geweet wat die lewe, gesondheid beteken nie. Nou wil ek elke dag leef asof dit my laaste een is. Wie weet, dalk is ek nog hier om my storie te vertel en ander mense hoop te gee.”

Sy het Anina se goedjies gehou en Kristi het van dit gedra. Van die kleertjies het sy ook vir vriendinne gegee, “anders het Kristi se kamer soos ’n winkel gelyk”. Die speelgoed het Kristi s’n geraak en sy speel steeds daarmee. “Oom Joseph [Els, wat met Helenè se ma getroud is] het ’n pragtige bedjie vir Anina gemaak en ons sal dit vir ewig hou. Kristi het daarin geslaap en dis ’n lekker gevoel om te sien sy gebruik van haar sussie se goedjies.”

Haar Lielies het ’n nuwe hoofstuk vir hulle ingewy. Een van vreugde.

Destyds, ná Anina se dood, het sy weer sanglesse vir kinders begin gee. Dit was aanvanklik moeilik om die kleintjies te sien, maar jy kan nie jou hart toesluit nie. Nie as jy met kinders werk en musiek boonop die taal is waarmee julle kommunikee­r nie. “Jy kan nie stokkerig wees as jy musiek gee nie, jy moet presies verduideli­k hoe om uit jou hart te sing. As jy sing, is dit hartsake. Kinders is boonop so oop, jy kan sommer sien as een ’n slegte dag het. Ek voel dikwels bietjie soos ’n sielkundig­e.”

Sy gee steeds smiddae in Linden vir kinders van graad 1 tot matriek sanglesse. Nooit sal sy ’n kind wegwys wat nie kan sing nie. “Dan kom sing jy maar net een keer ’n week lekker.”

Ná Kristi se geboorte het haar eerste kinderalbu­m (en sesde CD) spontaan gevolg. Dit heet Op die plaas en sy deel die kollig met ’n kat, genaamd . . . Kristi. Groot en vriendelik, pienk-en-blou. Dis harde werk, vertel sy, want sy sing en dans sáám met daai kat. Binne die katkostuum jol Righard van Jaarsveld, wat by haar sanglesse neem en vanjaar in graad 11 in Helpmekaar Kollege is. Aanstaande jaar fokus sy weer op ’n volwasse gehoor met ’n Nana Mouskouri- produksie, waarvan Frans Swart regisseur is. En terwyl sy uit vrees vir bloedklont­e lank nie kon draf nie (haar linkerbeen is steeds dikker as die regterkant­se een), oefen sy nou kliphard vir die Two Oceans-marathon in April aanstaande jaar.

Maar eers lê die Kersvakans­ie voor, wat hulle gewoonlik by ouma Nita en oupa Joseph op Reebok in die Wes-kaap deurbring. “Daar is ’n getypoel waarin die kleintjies baljaar. En as die grootmense wil swem, gaan ons Kleinbrak toe en duik in die branders. Kersfees by my ma is baie spesiaal, sy’s die mooiste vrou wat ek ken en maak die wonderliks­te kos. Oukersaand is daar ’n Kersboom en my ma reël gewoonlik ’n konsert met die kleinkinde­rs. Kristi het hulle tot dusver net aangegaap. Maar sy het verlede jaar saam met oupa Jo gedans. Dans is haar ding.

“Ek dink sy gaan vanjaar eers regtig besef wat dit is om Kersfees te vier. Vir my en Jacques is dit wonderlik om so ’n vriendelik­e meisiekind in die huis te hê. Om te sien hoe sy ’n geskenk geniet en die liefde van haar familie omhels. Vanjaar gaan ons vir haar mooi verduideli­k hoekom ons geskenke uitdeel – en hoe dankbaar ons kan wees om bymekaar te wees, te lag.”

Haar broer en sangmaat, Cobus Bester, se seuntjie, Nicolaas, is twee dae voor Kristi gebore. Hul liedjie “’n Storie van eerstes” het hy juis geskryf om die nefie en niggie se eerste besoek aan die see vas te vang. En die beste, só sing hulle, lê nog voor.

’n Storie van eerstes Ek wys jou my strand ’n Nuwe ry spoortjies Langs my op die sand Daar’s hemel in die eenvoud Van saam met jou swem Kan vandag nie meer wag Om jou te leer ken

* Die bevrugte embrio’s van Helenè se eierselle en Jacques se sperma word in die surrogaatm­a geplant. Indien jy belangstel om ’n surrogaatm­a te wees, kontak dr. Karin Barkema, Kaapse sielkundig­e, by 021 913 4413, kbarkema@telkomsa.net

Helenè en Jak de Priester sing 10-14 Desember by Die Blou Hond in Pretoria. Bespreek by 012 348 8820.

Haar persoonlik­heid pas by haar hare – elke dag anders Helenè Sy sê selfs al dankie vir die tannie wat haar gedra het Helenè

 ??  ??
 ??  ??
 ?? FOTO ZANJE FAURE ??
FOTO ZANJE FAURE
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa