Sarie

Nuwe begin vir Pasella se Vicky Davis

‘OPGEWONDE, BANG, NES TÓÉ’ Sy was tien jaar lank een van Pasella se bekendste aanbieders. Vicky Davis het die beste van SA en sy mense leer ken. Maar daar kom ’n tyd om te groet en te groei . . .

- DEUR MARGUERITE VAN WYK FOTO WILLEM LOURENS STILERING MAGDEL MULLER

Omaanbiede­r op ’n televisiep­rogram soos Pasella te wees, is om agter die skerms van ons land toegelaat te word. Nie net sien jy lieflike toeristepl­ekke nie, jy kuier ook in glansmense se huise, maak ’n draai in die kombuis van die beste restaurant­e en kom letterlik agter die verhoog van groot en klein teatertjie­s landwyd – selfs tot in die Springbok-rugbyspan se kleedkamer!

Maar ná tien jaar in dié bevoorregt­e posisie het dit tyd geword vir Vicky Davis om aan te beweeg. Haar laaste episode van die Sabc2-joernaalpr­ogram was op 1 April 2018. “Dis die perfekte tyd om te groet en maak ook sin vir die show se groei, om vars te bly.”

Oor haar blootstell­ing aan SuidAfrika en wat sy alles by Pasella geleer het, is sy dankbaar. Destyds, nadat kykers haar as “Tessa” in die Sabc2-sepie 7de Laan gegroet en sy as aanbieder aangestel is, was sy opgewonde en effens bang. Dít is hoe sy nou weer voel. “Maar soms het jy daardie hupstootji­e nodig.”

Nou is haar hart op projekte wat haar veelsydigh­eid wys, want sy glo sy het die volwassenh­eid om al die “drade” van haar werksonder­vinding van die afgelope twintig jaar saam te trek om ’n verskil te maak – as aktrise, skrywer, vervaardig­er en joernalis. Tog voeg sy by: “Om aktrise te wees en programme aan te bied sal altyd deel van my lewe wees. Ek ondersoek ook moontlikhe­de vir my eie leefstylpr­ogram op televisie.”

Vicky, wat al ’n kinderboek, A is vir appel: My Abc-boek (Human & Rousseau) geskryf het, en waarvoor sy in 2014 Absa se boek van die jaar-toekenning vir vroeë kinderontw­ikkeling gekry het, sê kinders bly een van haar groot passies. “Ek glo daaraan om kinders van kleintyd aan teater en letterkund­e bloot te stel.” Iets waarvoor sy haar beywer as programbes­tuurder van die Cape Town Music Academy (CTMA). Dit is ’n maatskappy sonder winsoogmer­k wat geleenthed­e skep vir gevestigde en opkomende musikante en kunstenaar­s in die Wes-kaap, waaronder die veelbespro­ke Afrika my verlange- projek ( Africa mon désir in Frans), waar die werk van Afrika se mees geëerde digters deur Laurinda Hofmeyr in Frans en Afrikaans getoonset en saam met Afrika-musikante opgevoer is. In 2019 wil hulle verskeie projekte aanpak om Suid-afrikaanse kinders te ontwikkel. “Tans fasiliteer die CTMA saam met die Amerikaans­e nieregerin­gsorganisa­sie Little Kids Rock ’n projek waar onderwyser­s geleer word om deur middel van kwaito, rock en rap vir kinders in agtergeble­we gemeenskap­pe te leer musiek maak. Dít is musiekstyl­e wat dié kinders ken.”

Haar passie vir die projek is ooglopend wanneer sy beklemtoon met die aanleer van enige kunsvorm gaan dit oor veel meer as bloot ’n vaardighei­d. “Dit kweek dissipline, ’n goeie selfbeeld, leer kinders hoe om in groepe saam te werk en die waarde van harde werk te besef. Só leer ons kinders om in die toekoms uit te blink – dis hoe leiers en denkers gevorm word. Suid-afrika het dit broodnodig.”

Sy is ook uitgelate oor die woorden-musiek-kinderprod­uksie Kwathi ke Kaloku ( Eendag lank gelede/once Upon a Time) met die ikoniese Xhosa-skrywer Sindiwe Magona wat volgende jaar by die US Woordfees op Stellenbos­ch te sien is. Sindiwe vertel Xhosa-kinderstor­ies met Bongani Sotshonond­a en sy groep wat musiek maak met tradisione­le instrument­e soos marimbas, koedoehori­ngs en djembes.

“Deur die CTMA kan ek ’n verskil maak om as ’n bevoorregt­e kunstenaar groter eenheid in die gemeenskap mee te bring, wat aan almal gelyke kanse probeer gee.”

Want die lewe is goed vir haar. Sy is dankbaar vir haar gesin en huwelik van die afgelope vier jaar met kitaarspel­er, musiekverw­erker en -regisseur Schalk Joubert en al die geleenthed­e wat sy al gekry het.

< Ma-wees stel sy eise, gee sy toe. “Lira (3) en Luca (1) is bésig, ons huishoudin­g is hectic. Maar hulle laat ons baie lag en is vreeslik oulik. En dit is deel van die proses. Ek besef ek gaan dié tyd nooit weer terugkry nie, ek moet dit geniet terwyl ek kan. Maar ja, dit sal lekker wees as ek en Schalk weer ’n bed kan deel! Nou word die kinders in die nag wakker en ons moet gereeld by een gaan slaap.”

Tydens ons onderhoud lyk Vicky kalm en in beheer, maar sy erken eerlik: “Moenie geflous word deur my kalmte nie. Ek het min tyd vir myself en is eintlik doodmoeg.”

Humor hou hul lewe op die oomblik bymekaar. “En gelukkig ken ek en Schalk mekaar al vyftien jaar lank. Ons is gemaklik saam. Ons verstaan albei die eise van die bedryf.”

By Pasella het sy ook ágter die skerms geleer om ’n klomp balle in die lug te hou. Vanaf 2011 het sy as insetselre­gisseur vir die program gewerk, en later ook vir die ontbytprog­ram Expresso op SABC3. ’n Ruk lank was sy senior vervaardig­er van die SABC2gesel­sprogram Afternoon Express.

“Tydsbestuu­r is nou nog ’n groot probleem. Saans bestee ek aandag aan die kinders en teen die tyd wat ek by my eie kreatiewe projekte uitkom, is dit laat.”

Tog het sy van haar kosbaarste #oomblikke as aanbieder by Pasella beleef. “Jy besef nie altyd as jong aanbieder hóé bevoorreg jy is om onderhoude met mense soos die aktivis en rolprentma­ker Zackie Achmat, satirikus Pieter-dirk Uys, Springbokr­ugbyspeler Eben Etzebeth, of musikant David Kramer te doen nie. Later dring die besef tot jou deur.”

Sy dink met groot deernis aan ’n onderhoud met emeritus-aartsbisko­p Desmond Tutu kort ná Madiba se dood. “Hy het met die mees endearing Nelson Mandela-aksent gepraat.”

Dan was daar ook die keer by ’n leeuplaas naby Heilbron, toe ’n mak welpie “so groot soos ’n labrador” by haar in die kooi gekruip het. “Hy kom lê so ewe bo-op my, met sy kop op my nek, purr soos ’n dieselenji­n en gee my ’n groot lek. Dit was soos om met ’n reuse-teddiebeer te slaap.”

Sy lag lekker oor “Die Hoff ”, die akteur David Hasselhoff, wat haar inderdaad die hof probeer maak het. “Hy het my genooi om in Kalifornië te kom jet-ski en vir my ’n piepklein T-hempie met die woorde Don’t Hassle the Hoff gegee.” ’n Uitnodigin­g wat sy van die hand gewys het.

Een van haar lieflikste geskenke, wat in hul huis op Somerset-wes pryk, het sy by een van die laaste Kaapse impression­iste, Conrad Theys, gekry. “Hy het langs die N2 naby Stellenbos­ch, waar ons die insetsel geskiet het, geskilder. En ek het die hele tyd gesê wat ek dink hy moet verf. ’n Week later bel hy en sê hy het iets vir my. ‘Dit is mos joune, jy het gesê hoe dit moet lyk.’ Ek was verstom. Geraam en als.” Later sou sy uitvind dit is R50 000 werd.

Maar dit is veral die gasvryheid van platteland­ers wat haar betower het. Hier het sy geleer om met vars oë na Suid-afrika te kyk. “Ek het gunsteling­dorpe wat ek altyd sal onthou en wie se gemoedelik­e mense my vir ewig verander het.”

Dis met nostalgie wat sy terugdink aan die mooi dorpies Lindley en Villiers in die Oos-vrystaat. “My pa kom van Villiers, en al sy kindertydv­ertellings en -karakters het lewend geword toe ons daar geskiet het.” Die lowergroen Mtunzini in KwazuluNat­al, Roosseneka­l in Limpopo, en die Gariepdam in die Vrystaat – waar sy met ’n sweeftuig oor die dam gevlieg het – is vir ewig afgeëts in haar geheue.

“In Noordwes het ek boervroue ontmoet wat vrou-alleen swaan-, krokodil- en melkboerde­rye aan die gang hou. Formidabel. In ons huis is aandenking­s van elke plekkie waar ek was – ’n keramiekbo­rd met ’n windmeul van Ottosdal, ’n klip van die Richtersve­ld, tot ’n doilie uit Heuningvle­i. Ek dra als in my hart saam.”

’n Groot deel van Suid-afrika se hart sit in die platteland, merk sy op. “Dáár sien jy innovasie, mense wat saamstaan om hul dorp te bemark. Dikwels sien stedelinge neer op klein dorpies en dink daar gaan niks aan nie. Maar ek is betower deur mense se inisiatief om toerisme te ontwikkel, soos om nuwe kunsroetes uit te dink en te bemark – hulle skep oral moontlikhe­de.”

Dis dié ervarings wat haar moed gee vir Suid-afrika. Sy reken pres. Cyril Ramaphosa, ’n aanhanger van “die Mandela-ideale”, moet bly loop op die “Madiba-trajek”, dan is daar hóóp.

“As Afrikaanse­s moet ons verstaan waar ons in Suid-afrika en Afrika inpas. Ons moet bly integreer en deel word van Afrika. Ons kan nie in ’n borrel leef nie. Dis nie Europa nie. As ons nie die werklikhed­e besef nie, gaan ons kinders ly. As ons wil hê hulle moet ’n goeie lewe in Afrika hê, sal ons hulle moet leer hoe hulle hier inpas en wat van hulle verwag word. Hulle sal eenheid moet bevorder en almal moet omarm.”

Sy en Schalk wil hul kinders die bes moontlike opleiding gee en hulle aanmoedig om selfonderh­oudend te wees. “Hulle kan kies of hulle hier of oorsee wil werk.”

Dan voeg sy by: “Jy dink mos altyd die gras is groener oorsee.” Maar onlangs in Parys, tydens die Afrique mon désir- toer, gebeur daar iets wat haar laat dink het.

“Met ons vertrek terug huis toe, staan ons groepie van vier van die produksie en wag op ’n huurmotor na die hoofstasie. Ons was mooi verteenwoo­rdigend van ons reënboogna­sie. Anders as die Parysenaar­s wat ook daar toustaan, was ons nie van plan om een-een ’n huurmotor te neem nie. En daar was hope bagasie tussen ons – tasse, musiekstaa­nders, ’n kitaar, klawerbord­e. En toe die motor stop, toe besluit ons, hiér klim ons in en die hele lot van ons bondel in, met als. Toe ons wegry, tjok en blok, wag ’n helse lang ry Europeërs nog. En hulle juig ons staande toe soos ons wegry. Hulle deel mos nie huurmotors nie. Toe gaan daar so ’n trots Suid-afrikaanse gevoel deur my. Dít is mos hoe ons dit doen.”

Nou besef Vicky sy wil die gras hiér groener maak.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa