Pretoria na Switserland: Leser deel die gróót oppak . . . en die groet
Hoe emigreer ’n boeremeisie, vra Pretorianer Wiida Garbers in ’n e-pos aan SARIE. ‘Ons moet vir ’n werksgeleentheid na Switserland verhuis. Hoe pak jy ’n hele huis op, gee weg, maak reg vir ’n anderste wêreld? En sê totsiens?’ Hier is hoe sy dit gedoen he
’nNuwe lewe in Switserland, die land van Heidi, blou berge, skoon lug, en alles wat mooi is . . . Idillies, is die meeste mense se reaksie op dié prentjie.
Vir Wiida Garbers was dié vooruitsig eerder soos om jou hare kort te sny. “Op die dag self voel jy opgewonde, bevry, jonk en mooi. Tot jy besef . . . jou hare is áf. Dan skop die werklikheid in!”
Toe haar man, Hein, vroeër vanjaar die nuus kry dat hy na Switserland verplaas word deur die internasionale farmaseutiese maatskappy waar hy al 20 jaar werk, het Wiida, ’n boeremeisie van Pretoria, soos sy haarself beskryf, gewéét hul gesin sal moet gaan.
Dit was een van daardie situasies waar die kop en hart met mekaar stry, vertel sy. “Jou kop sê dis ’n geleentheid waarvoor baie mense hul oogtande sal gee en jy is so trots op jou man wat die bevordering verdien. En dis ’n pragtige, moderne land. Maar terselfdertyd vra jou hart: Hoe groet jy jou ouers? Jul jare lange pêlle? Daardie hartsvriendinne
wat vir jou enigiets sal doen? Die warm Bosveld-aande? Ek is baie lief vir SuidAfrika en sy mense.”
Om nie eens van die logistieke uitdagings te praat nie: om jou voor te berei op ’n ander wêreld wat op jou wag, en die huis op te pak waarin jy al tien jaar woon.
Vir die sentimentele Wiida, wat tot haar twee dogtertjies, Miglia (9) en Berlize (4), se eerste haarlokkies, naelstringe en haar ma se huisdansrokke uit haar studentedae hou (“die twee kan so lekker opdress in Ouma se klere”), was dit verál moeilik . . . Wat hou jy? Wat gooi jy weg? En waarheen met die res?
Maar ’n boeremeisie maak ’n plan. En al het dinge by tye oorweldigend gevoel, en al het sy veral teen die einde met die groetery dikwels so tranerig geraak dat sy haar jongste moes paai dat daar “net iets in Mamma se oog is”, het Wiida doelgerig begin voorberei vir hul vertrek in September en hul nuwe lewe op die dorp Zug, sowat 30 km van Luzern, waar Hein vir minstens die volgende drie jaar gaan werk. >
< In die proses het sy eintlik verrassend baie geleer, vertel Wiida tydens een van ons telefoongesprekke vanuit hul veiligheidskompleks in Wapadrand, Pretoria.
“Ek en Hein is al 17 jaar getroud. My oë het oopgegaan oor hoeveel ons in ons lewe versamel. Elke dag as jy tuiskom, het jy ’n pakkie in die hand. Ek is geskok oor dinge wat ek nie eens geweet het ons besit nie. Voetspa’s en pie- makers en blenders wat nog net so in die boks is, met die kwitansie by . . . Dis verbasend hoeveel visvang-, kampgoed en gasitems ons het, en ons kamp nie eens nie!”
Sy is nie ’n tipiese opgaarder nie, “maar dis waarskynlik ’n slaggat waarin jy trap as jy baie pakplek het – voor jy weet, het jy 50 glasbotteltjies! Ek dink elke huis moet een keer per maand ’n vertrek uitpak asof jy verhuis.”
Die gesin kon net 565 kg lugvrag saamneem na hul nuwe tuiste – sowat 18 kubieke meter, oftewel 3 x 3 x 2 m. Die agent het later as ’n rowwe maatstaf vir haar die ruimte afgemeet op die kombuisvloer en by daardie lyne moes sy hou. Dan was daar die waardevolle goed wat vir drie jaar in Suid-afrika gestoor moes word, soos oudhede en ander duur huishoudelike items. Met die res moes sy plan maak – weggooi, uitdeel, verkoop . . .
Om weg te gee – “veral omdat die behoefte in ons land so groot is” – was baie bevredigend. Haar huishulp, Baby Tladi, is ’n paar keer met ’n volgelaaide bakkie daar weg en Wiida het gereeld ’n vraggie by ’n sentrum vir hawelose mense afgegee.
Aanvanklik het sy sistematies van vertrek tot vertrek deur alles gewerk, dinge eenkant gesit vir familie en vriende, speelgoed uitgedeel vir maats. Hier teen die einde, soos die dae ál minder geraak het, laat weet sy: “Ons is op die hond se stert, en my georganiseerde fase is verby. Dié een se boksie, daai een se boksie . . . Daai boksies is nou almal in hul kanon in! Mens het heeltyd die vrees dat jy nie gaan klaarkry nie. En ek moet vir vier mense inpak. Nou druk ek deur en gooi voor die voet weg! Om nie eens te praat van al die administratiewe dinge nie. Rekeninge wat gekanselleer moet word, motors verkoop . . . Ek het pas ’n huis gekry vir die kinders se krimpvarkie en twee babaskilpadjies.”
Stoor het sy eie stel reëls. Vergeet daarvan om met jou volgende kuier in Suid-afrika jou wintersklere in die stoorplek te gaan uitgrawe – dis buite jou bereik vir drie jaar, verseël en in spesiale houers verpak. ( Wiida het verniet goed sorgvuldig in koerantpapier toegedraai.)
Aanvanklik was sy byna paniekerig dat die goed met sentimentele waarde iets sou oorkom. Die kinders se dooprokkies, foto-albums, eerste briefies, haar en haar ma se trourokke . . . Sê nou die stoorplek brand af?
Sy het egter gou besef die mense weet wat hulle doen.
“Dis ook maar my onsekerheid oor die onbekende wat my vrese vererger het. Ek is hartseer oor my ouers wat agterbly. Ons kuier graag saam, ons sien hulle vier keer per maand en gaan gereeld saam met vakansie. My broer woon in Australië, my sus in Engeland. Ek kwel my oor my ouers, wat so ver gaan wees. Gelukkig sien ons mekaar darem reeds in Desember, wanneer my broer in Suid-afrika trou.”
Die Garberse het tot op die laaste elke naweek “vir oulaas” Bosveld toe gegaan en al vroeg-vroeg afskeidspartytjies gehou sodat alles nie op een slag gebeur nie, en terwyl hulle nog meubels het!
Wiida het haar voorgeneem om positief oor hul skuif te wees, “alles gebeur met ’n doel”. Die meeste mense met wie sy gesels oor emigrasie, is dit eens dat veral ma’s dikwels aanpassingsprobleme het. Pa en kinders gaan werk en skool toe, maar ma is tuis en moet haar eie potjie leer krap – huis skoonmaak, wasgoed was. Baby, haar regterhand “wat enigiets kan doen en soos familie is”, kon nie saamkom nie – regulasies is streng. ( Wiida was ’n mediese verteenwoordiger voordat sy ná Berlize se geboorte ’n tuisblyma geword
het. Sy gaan haar tuis onderrig.)
Die Garbers-gesin kon gelukkig in die maand voor hul vertrek Zug ’n week lank besoek. Dit het ’n byna Kaapse gevoel, dis groen, bergagtig, met ’n lieflike meer. Hul huurhuis het tot ’n klein braaiplek en grasperk.
“Ek het vir die agent voorgestel dat ek in die tuin werk en die prieel snoei – en my vasgeloop. Ek mag nie eens die gras sny nie! Alles moet volgens ’n spesifieke standaard wees. Die land het baie reëls . . . en dis nie buigbaar nie. Jy gaan nie daar ’n verkeerskonstabel met ’n mooi smile ompraat nie,” skerts sy. Maar aan die ander kant – hoofnuus oor die radio in daardie week was toe een man ’n ander met die vuis slaan en die polisie hom in hegtenis neem!
In die week daar het hulle Miglia ingeskryf by die International School of Zug and Luzern. Met kinders van 50 lande wat 12 verskillende tale praat, is min se eerste taal Engels – almal is in dieselfde bootjie. Hulle het dadelik ander Suid-afrikaners op die bekendstellingsdag vir nuwe ouers ontmoet. Ook by die International Church of Zug, waar die SA mans hulle gou ingelig het: Die vroue huil as hulle op Zug aankom en huil as hulle moet gaan . . .
Wiida voel ál rustiger oor die nuwe avontuur, ten spyte van heelparty onbekende faktore: “In Suid-afrika ken ek my tandarts, ginekoloog en apteker goed, ek whatsapp hulle selfs vir raad. Hoe nou? Ons is so bederf hier!”
En daar is nog ’n klompie dinge wat sy onder die knie moet kry: Soos ’n nuwe rybewys. (“Jy ry aan die regterkant van die pad, so Ma gaan dalk eers ’n bietjie fietsry. Jy vat nie kanse hier nie. Met jou tweede spoedoortreding vat hulle glo jou lisensie af!”) Herwinning. (“’n Eyeopener – een swartsak kos R34, jy word basies gedwing om so min moontlik vullis te hê.”) En dan moet sy so gou moontlik ophou om pryse na rand om te skakel. (“Alles is onbetaalbaar duur: kos, linne, meubels . . . ’n Coke kos R60.”) Duits. (Met die ter perse gaan het Wiida ’n foto van haar tweede, meer suksesvolle poging om beskuit te bak aangestuur – die eerste ronde kon sy nie bakpoeier of bruismeel opspoor nie, al die etikette was Duits.)
In die maande sedert hulle die nuus gekry het van haar man se bevordering, het Wiida al baie nuwe dinge geleer. En vorentoe wag sekerlik nóg lesse. Maar die belangrikste is: “Jou gesin kan oral ’n gesin wees. Moenie jou te veel oor die toekoms bekommer nie. Die Here het die pad reeds vir jou uitgewerk: Jy moet hom net stap.”
* Die Garbers-gesin het vir die eerste twee weke in ’n gemeubileerde woonstel op Zug gewoon. Met die ter perse gaan het hul “trek” veilig opgedaag. Van die 47 bokse – wat Hein se fiets en twee platskerm-televisiestelle ingesluit het – het net een vaas en ’n glas gebreek.