Sarie

Laaste sê deur Riana Scheepers

- RIANA SCHEEPERS

Ek het nog nooit baie gehou van Desembers en Kersfeeste en gedoentes nie. Dis asof die mensdom teen Oktober al waansinnig word met té veel inkopies, kos, drank, oordadighe­de in vele vorme. Dis lekker om familie en vriende te ontvang en in die soel aande te kuier en te lag tot die oggendster uitkom – maar net vir ’n kort rukkie. Dan wil ek ’n geweldige groot stilte om my hê.

’n Eksentriek­e tante in my familie het altyd ná die gedruis van Kersfees ’n welbehaagl­ike sug gegee, en gesê: “Nou kan ons aangaan met ons lewens.”

Dit is nie vir my ’n vreemde wens om Kersfeesty­e ’n bietjie te vlúg nie. En waarheen vlug mens? Bosveld toe. Karoo toe. Wie sê die rooi duine van die Kalahari is nie ’n opwindende, avontuurli­ke plek in die somer nie? En wat kan lekkerder wees as ’n Karoohuis se koel en donker stoep?

Ek weet ook watter onverwagte geskenke die verlate ruimtes van ons onverbidde­like land vir jou in hierdie tyd kan gee. Soos die verlossend­e reënbuie wat altyd, altyd rondom Kersfees uitsak, net mooi daar waar ek my bevind. Ek beskou dit as my persoonlik­e geskenk van Bo, daardie jubelende Kersfeesre­ën wat vir my meer waardevol is as ’n present in mooi papier toegedraai. Kom een Kersfeesty­d, en ek besluit: Ons gaan Klipkaroo toe. Tankwa toe. In dieselfde tyd is ’n Vlaamse vriendin van my in Suid-afrika. Kort voor ons vertrek besoek sy my. Dit was nié vir haar ’n lekker jaar nie. Sy is gediagnose­er met die groot K. Sy kry die regte behandelin­g, die prognose is goed dat sy volkome sal herstel, maar in die hele proses het haar lewe ’n bietjie tot stilstand gekom. Sy bedink haar hele bestaan, sy dink na oor dit wat regtig belangrik is. Haar prioriteit­e het verander, sê sy. Dit wat eens onbelangri­k was, is ewe skielik van belang. Ander dinge wat vreeslik belangrik was, is toe nié so noodsaakli­k vir ’n waardevoll­e en sinvolle lewe nie. My vriendin is hartseer. En bang. Die stryd is nog nie verby nie. Op die ingewing van die oomblik sê ek: Kom saam met ons, ons gaan Tankwa toe. Sy dink ’n oomblik na, kry haar prioriteit­e reg, en sê ja, sy kom saam. In die Tankwa word ons dae gevul met koel oggende in die veld, en lang middae op die stoep met yskoue gemmerbier, mooi musiek en boeke. En ’n diep middagslap­ie. Die oomblik as die son agter die klipkoppe verdwyn, stap ons weer die veld in, want dit is die mooiste ure van die dag, die magiese stilte van ’n skemeraand tussen klip en karoobos.

Een aand loop ons nog só, toe Lutgard ’n vreeslike skree gee. Ook ék skrik vir haar skrik. Wat? Wat is dit hier by my? vra sy, beangs. Ek begin lag, want in haar land, met die meeste elektriese ligte ter wêreld, het sy nog nooit haar eie maanskaduw­ee gesien nie. Hier beleef sy dit vir die eerste keer.

Die res van die aand sing ek vir haar Cat Stevens se Moonshadow. Nie vreeslik nootvas nie, maar sy kry die idee.

’n Dag voordat ons weer sal vertrek, het Lutgard ’n versoek. Of ek asseblief saam met haar op ’n klip sal sit. Op ’n hoogte waar sy vér kan sien. Sy wil daar sit totdat die osoon van ’n skoon en wye lugruim tot in haar bloed kom. Ek doen dit graag. Skemeraand klim ons teen ’n klipkop uit, tot heel bo. Ons kry vir ons elkeen ’n sitplek, op die grond met ons rug teen ’n klip. En toe sit ons net, woordeloos. Die Tankwa sit sy groot arms troostend om ons.

Die maan kom saggies, wiebelend en asemrowend mooi op. Lutgard skrik nie vir haar getroue metgesel, haar maanskaduw­ee, nie. Sy skrik ook nie vir die wykende skaduwee in haar bloed nie. Sy genees. Ons sit tot sy sê: Ons kan nou gaan. En ek? Ek beleef ’n sinvolle Kersfees.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa