SA FOTOGRAAF DEEL SY GUNSTELINGE ‘DÍS DIE OOMBLIK’
Nêrens tuis nie, oral gelukkig, immer onderweg. Kameraman Werner Kruse was al in 112 lande op soek na daardie oomblik, die ‘ magic’ wat hom ‘anders’ na die lewe laat kyk. Hy deel sy foto’s
Hyvoel asof hy nêrens tuishoort nie en is immer onderweg, vertel video- en fotograaf Werner Kruse. Die Kaap, waar hy nou en dan anker gooi, is bloot ’n tydelike “halfwegstasie”.
Werner het al ses kontinente en 112 lande besoek vir sy werk. Einde Desember vaar hy op ’n ou Russiese ekspedisieskip vanaf Ushuaia in Argentinië na Antarktika, iets waarop hy al jare sy hart het. “Die sneeu, ys en stilte het ’n unieke skoonheid.” Hy gaan ’n fotografiekursus op die skip aanbied. Maar reeds wink Rwanda se gorillas, nog ’n groot droom.
Werner het grootgeword in Panorama, Kaapstad. Sy pa, Hein, is ’n senior tegnikus en ma, Alida, sekretaresse by die Laerskool Welgemoed. Sy ouer broer, Heinrich, wat vir hom ’n groot inspirasie is, is ’n internasionaal bekende tromspeler wat in New Jersey woon. Hy is getroud met Amra-faye Wright, bekend vir haar vertolking van Velma Kelly in die Broadway-musiekblyspel Chicago.
Werner vertel hy was in graad agt of nege aan die Hoër Landbouskool Boland toe hy video’s van die skool se eerste rugbyspan moes maak. Hy het toe die skool se kamera “geleen” om ’n paar video’s van branderplankry – nog ’n groot liefde – ook te maak. Daai dag het die vonk vir sy latere kamerawerk verskaf.
Maar die eerste foto waarop hy regtig trots was, het “toevallig” gebeur. “Dit was in my eerste jaar aan die [destydse] Port Elizabeth-technikon in 1999. Ek het ’n glasbottel sonder ’n refleksie afgeneem. Almal was beïndruk, want dis tegnies nogal ingewikkeld.”
Ná sy studies was hy ’n jaar lank assistent vir die modefotograaf Johan Wilke – “’n groot invloed” – en toe vir ’n tyd lank sosiale fotograaf op luukse passasierskepe. Maar sy siel het verskrompel. “Ek hou nie juis daarvan om mense af te neem nie . . .”
Deesdae is hy voltyds natuurlewevideograaf, met fotografie ’n stokperdjie. Dokumentêre films is sy kos – sy fokus op enigiets van die tragedie van renosterstropery tot die lot van die Afrika-olifant.
Hiervoor moet hy “saamsmelt” met sy omgewing, fyn waarneem. “Jy moet geduldig wag voor jy die knoppie druk. ’n Goeie foto gaan oor daai magiese oomblik.”
Hy geniet sy alleenreise. “Wanneer ek rondloop op dodgy plekke, doen ek dit op my eie, want ek wil my oor niemand anders bekommer nie.”
Tog mis hy dit om sekere oomblikke met iemand te kan deel. Soos die “poskaart-skoonheid” van Tahiti en Hawaii, van sy gunstelingplekke. “Die water is ongelooflik, om daar te duik is ’n belewenis.
< “Almal probeer my aan ’n meisie voorstel, maar die afgelope jaar was ek so gefokus op Antarktika, daar was vir niks anders plek in my brein nie.”
Hy sou wat wou gee vir sy eie hondemaat, maar wanneer hy sporadies terug is in Suid-afrika, is hy wel betrokke by Sidewalk Specials, ’n liefdadigheidsorganisasie wat help om huise vir weggooihonde te vind.
Tog is dit ’n lekker lewe. Vol avonture op plekke soos Groenland, Ysland, Noorweë, Bali, Indonesië . . .
Hy het lang rukke in verskillende wêrelddele gewoon. “Ek is oral gelukkig,” sê hy. So vertel hy geesdriftig van die mense op die piepklein dorpie Twain Harte in Kalifornië, tussen die berge naby die Yosemite Nasionale Park, wat hy in 2003 besoek het. In 2006 en 2007 is hy terug Amerika toe om rolprentredigering in Los Angeles te studeer. Maar sy gesig helder veral op as hy praat oor Taha’a, ’n Frans-polinesiese eiland waar hy ’n jaar lank in 2015 ’n snorkelinstrukteur was.
“Fotografie laat my anders na die lewe kyk. In die strate van Havanna het drie ou omies my genooi om saam domino’s te speel. In my gebroke Spaans het ons somehow gekliek. Dit was net smiles en happiness. In Indië klouter slumkindertjies oor jou en beloer jou kamera. In Suid-amerika smeek ’n wittebroodspaar jou om hul foto te neem. Kosbare #oomblikke as jy alleen reis.” >
< Vroeg in sy lewe het hy besef die beste foto’s is nie noodwendig tegnies perfek nie, maar klits jou hart om.
“Van my spesiaalste oomblikke was dikwels dié waar ek die bangste was. Soos die keer in Ketchikan in Alaska, toe ’n gevaarlike swartbeer binne ’n meter van my af verskyn het . . .”
Hy stel nie in materiële dinge belang nie. “Ek is ’n groot aanhanger van Pearl Jam se musiek en doen ook ’n Facebook-blad in die hoop om hulle in Suid-afrika te kry. Hul liedjie ‘Guaranteed’ praat met my siel.”
Wind in my hair I feel part of everywhere. Underneath my being is a road that disappeared – sy lewe.
Sien nog van Werner se werk by: www.wernerkruse.com, www.youtube.com/werkru, www.facebook.com/filmsphoto, www.instagram.com/kruse_photos