DAAR IS NOG OMDRAAIKANS!
530 km in 49 dae. Die lengte van die Engelse kanaal. Lewis Pugh het in Augustus vanjaar van Land’s End in Cornwall tot by Dover geswem – om die wêreldwye Aksie vir Oseane-veldtog af te skop. Die doel van die veldtog is om regerings te versoek om minstens 30% van die aarde se oseane teen 2030 ten volle te beskerm. Onrusbarend is dat die langafstandswemmer en avonturier die hele tyd feitlik geen wildlewe gesien het nie, behalwe ’n paar voëls en dolfyne en een seeskilpad, volgens sy twiets. Plastiek was daar egter baie: Op elke strand waar hy aangedoen het, van Cornwall tot Kent. Einste hy het vantevore gesê hy het plastiek van die Noord- tot die Suidpool gesien, dus niks nuuts nie. “Ons het al die vis uit die oseaan geneem en dit met plastiek vervang,” was sy woorde aan Sky News. ’n See van plastiek. Letterlik. Die dwingendheid om ons van ons plastiek-
afhanklikheid te speen, word beklemtoon met veldtogte soos #beatplasticpollution – dikwels met droewige beeltenisse van die aarde besaai daarmee. Elkeen van ons kan egter met ’n klein leefstylverandering ’n groot impak maak. Herinner byvoorbeeld jou gunsteling-koffiewinkel of -restaurant gereeld daaraan om nie vir jou ’n plastiekstrooitjie te gee nie. Baie restaurante, koffiewinkels en hotelle oor die land gebruik dit nie meer nie, soos die seekosrestaurant-kettings Ocean Basket en John Dory’s, asook die Tsogo Sun-hotelgroep. “Die grootste uitdaging is om mense se ingesteldheid te verander, hulle te oortuig hulle kán ’n verskil maak,” het omgewingsaktivis Refilwe Mofokeng van Durban in SARIE se April-uitgawe gesê. “Jy kan dit doen met jou keuses: Telkens wat jy nee sê vir ’n plastiek-inkopiesak, plastiekstrooitjie, polistireenkoppie.”
En dinge kán omgedraai word. Só is daar byvoorbeeld goeie nuus oor die toekoms van die aarde se grootste wesens. Walvisse is drie eeue lank genadeloos gejag en sowat 2 miljoen is uitgewis, maar hul getalle neem weer toe, berig News24. Dié sukses is grootliks danksy die pogings van die omgewingsbewaringsgroep Greenpeace om kommersiële walvisjag te stop, volgens prof. Ken Findlay, SA mariene bioloog en walviskenner, by die Wêreldwalviskonferensie in Durban. Die organisasie het ’n denkskuif by mense teweeg gebring oor die bewaring van walvisse en ander oseaanspesies. “Soms, eerder as om omgewingsprobleme met baie geld en inspanning te probeer oplos, is die belangrikste ding om menslike gedrag en denkpatrone te verander,” het hy gesê.
My regte werk begin nou eers Lewis Pugh