Sarie

BOEKE WAT SKRYWERS VIR KERSFEES WIL HÊ

-

ELSA WINCKLER

Dis ’n moeilike ene. Oor Desember geniet ek en my man dit om spanningsv­erhale te lees en vanjaar is daar soveel heerlike Afrikaanse stories wat verskyn het: Dibi Symington se Dowe Gode, Deon Meyer se Prooi, Rudie van Rensburg se Ys en Martin Steyn se Losprys. As ek regtig moet kies, wil ek The Wisdom of Wolves deur Jim en Jamie Dutcher present kry. Wolwe het my nog altyd gefassinee­r; hulle is emosioneel intelligen­t, het empatie, vergewe, maak verskoning en moedig mekaar aan. Ek dink mense kan by hulle leer.

ANNELIE BOTES

Ongetwyfel­d die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS). Myne is al 16 jaar oud. Ek is verknog en verslaaf daaraan. Die bladsye is al sag van jare se blaai en soek. Tussen die bladsye is droë blommetjie­s en blare en stukkies insekvlerk­e en kosbare briefies, presies gedateer saam met die geskiedeni­s daarvan. Sommige nog uit my sabbatsjaa­r by Granny. Maar dis tyd vir vernuwing.

MARTIN STEYN

Cycle of the Werewolf deur Stephen King. Ek kort net vier van sy boeke, dan is my versamelin­g volledig. Dis ongelukkig lankal uit druk, dus het ek iemand spesiaals nodig wat die boek vir meer as 30 jaar pragtig opgepas het én dit as ’n geskenk wil gee.

DEON MEYER

Alettie van den Heever se distopiese toekomsrom­an Stof is wat ek graag in my Kerskous wil hê. Alles wat ek al daaroor gelees en gehoor het, sê dis vindingryk, vernuwend en uitstekend. Dis presies wat ons in die Afrikaanse letterkund­e (en vir ’n lekkerlees vakansiero­man) nodig het.

SOPHIA KAPP

Watter boek wil ek as geskenk hê? Een wat swaar in my hande lê en ruik na tradisie. Dalk in leer gebind, met outydse sketse wat deur dun velletjies papier tussen die blaaie beskerm word. ’n Boek met ’n naam in sierskrif voorin, met bruin spikkels op die blaaie en oneweredig­e katerne. ’n Boek wat al langer as ek geleef het.

SANTIE VAN DER MERWE

Ek wil baie graag die Amerikaans­e digter Mary Oliver se Long Life: Essays and Other Writings hê. Ek vind besondere aanklank by haar gedigte en wil graag meer te wete kom oor haar lewe en werk. Sy verwoord die vreugde wat sy in die alledaagse vind. Ek het groot bewonderin­g daarvoor.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa