Sarie

Flitsverha­al: Spirit of Ubuntu deur Sophia van Taak

- DEUR SOPHIA VAN TAAK

Into the distance a ribbon of black. Stretched to the point of no turning back, sing Pink Floyd deur my iphone se gehoorstuk­kies terwyl ek van die kantoor af bushalte toe stap. Dis skemeraand en die middestad het al leeggeloop.

By die halte sit slegs een vrou onder die karige afdakkie en wag, ’n tros winkelsakk­e om haar enkels. Ons knikgroet en ek gaan sit op die ander punt van die bankie, my hande diep in my baadjiesak­ke. My liggaamsta­al spel ondubbelsi­nnig “afsydighei­d” en ek haal my hande uit my sakke. Snaaks hoe skugter ons mense darem vir mekaar is, nè?

Die plataanbom­e op die sypaadjie pronk al met die eerste wasabi-groen twygies van die somer, maar die luggie het steeds ’n byt. Ja-nee, hierdie tyd van die jaar is Kaapstad inderdaad die windswept field waarvan Pink Floyd sing.

Standing alone my senses reeled. A fatal attraction is holding me fast – how can I escape this irresistib­le grasp?

Ek is so meegevoer deur die lirieke dat ek eers besef die vrou probeer my aandag trek toe sy ’n hand voor my gesig waai.

“Excuse me, what is the time now?” wil sy weet. Sy klink diep Duits. Seker ’n toeris. “The bus was supposed to be here by now, ja?”

Inderdaad. Maar die busskedule is meer ’n los riglyn as ’n nougesette rooster. Ek wil grappender­wys byvoeg: Dis ’n lewensles in die onafwendba­re teleurstel­ling wat met verwagting­e gepaardgaa­n. Maar ek sê dit liewer nie. Siestog, in Duitsland loop alles so klopdissel­boom, Afrika moet rof wees vir haar.

Can’t keep my eyes from the circling skies. Tongue-tied and twisted, just an earth-bound misfit, I, sing Pink Floyd en met dié kom – byna profeties – een van die stad se magdom haweloses nader gehink.

Die man se T-hemp is vodde, die sweetpakbr­oekie al dungeskif en sy kaal voete slegs gebarste knoetse met krom tone. Hy is so vuil, sy blou oë priem bedwelmend helder uit die verrinnewe­erde gesig. Ek kan aanvoel hoe die Duitser hier langs my verstyf.

Die bergie vra soos bergies maar vra op die gebruiklik mompelende, onsamehang­ende manier vir R14. Die aard van die nood wat deur dié presiese begrotinki­e bevredig sal kan word, bly onduidelik. A soul in tension that’s learning to fly. Condition grounded but determined to try. Dan kerm hy: “Hoekom kan hulle my nie net uitlos nie? Hoekom los hulle my nie net nie!”

Hy waag dit nog nader, hou huiwerig ’n bakhand voor die Duitser. Die toneeltjie amuseer my só dat ek die musiek eers stilmaak. Die bergie is glad nie bewus van die vrou se persoonlik­e ruimte nie. Haar rug trek kierts en sy draai haar gesig weg. Wat is die ergste wat kan gebeur? Dat hy aan haar probeer raak? Of dalk weer sy bedeltoesp­rakie prewel en ’n spoegdrupp­el se trajek haar wang haal?

Ek sal nooit weet nie, want vir die Duitser raak dit een te veel.

“No!” gil sy en vlieg so skielik op dat beide ek en die bergie wip van die skrik. Sy hark haar inkopies bymekaar, slinger nog een laaste, beskuldige­nde blik in die rigting van die betekenisl­ose busskedule en begin straatop stap. Dit moet seker vir uitlanders ’n vreeslike ongemak – dalk selfs ’n vrees – wees, dié algemene verskynsel van haweloses. En dan nog boonop ouens soos hierdie wat duidelik in die greep van psigose leef. Sy realiteit is so bliksems ver verwyder van myne, en haas onvergelyk­baar met hare.

Die gedagte tref my: Van ons twee busryers is ek nie net sy nasie nie, maar ook vanaand sy naaste.

Ek keer die kleingeld uit my beursie. Laat hy dan nou maar gaan spuit of snuif of rook of sluk of doen wat ook al vannag se kilte met slegs ’n flenter swart plastiek (dié hou hy met moeite onder sy arm opgebondel, want die sweetpakbr­oek se rek sak pal af oor sy smal heupe) tussen sy vel en die beton draagliker kan maak.

“Wie is die húlle wat jou so pla?” vra ek. Dit kantel die miernes om.

Hý is Ashley en húlle is die mense wat sy gedagtes lees, wat déúr sy oë na die wêreld kyk, wat hom beheer en hul bose dade laat uitvoer. Meer spesifiek: Dis sy stiefpa, Kevin, en . . . Richard Branson. Dít het ek nie sien kom nie. “Richard Branson?”

“Ja, Richard! Vandat ek elf is toets Richard en Kevin al die polisie se programme op my. En die een waarmee hulle deesdae besig is, se naam is die Spirit of Ubuntu. Nét so. “Kan Richard my nou deur jou oë hier sien sit?” vra ek. Ja, beslis. Dis nou as hy nie slaap nie. Hy slaap eintlik baie min, maar baie diep. Maar hy wat Ashley is, moet eintlik nie nou te lank met my klets nie, want netnou spring die program van hom af oor tot op my. Want dit gaan deur die naeltjie, sien? Kevin en Richard se geknoei kan vanuit sy naeltjie myne binnedring, en dan is dit tickets.

In ’n ruiterlike gebaar om my naeltjie teen enige vlugteling­e vanuit syne te beskerm, woel hy met ’n dringendhe­id en vrees in sy bloue oë die reep swart plastiek om sy middel vas. En laat val in die proses die sweetpakbr­oek.

Die bus kom aangedreun en Ashley spring vervaard eenkant toe, die plastiek wat agterna sliert. Dit voel verkeerd om die man net so te los. Op ’n dag was daardie verstand vlymskerp; nou karring hy met stomp sinne deur die lewe en maak g’n hond haaraf nie. Ek draai om om hom te groet, maar Ashley het reeds sy sweetpakbr­oek opgepluk en strompel aan, nugter weet waarheen.

Op die bus gaan sit ek in ’n leë ry voor twee omies wat galant groet. Twee bushaltes verder klim die Duitser op. Haar hare slierterig en wangetjies rosig. Dik bedonnerd eis sy van die busbestuur­der ’n rede hoekom die bus nie betyds by die eerste halte opgedaag het nie. Hy antwoord met ’n skoueropha­ling. Vorsprung Durch Technik stamp kop met This Is Africa.

Sy neem oorkant my plaas, die swetterjoe­l inkopiesak­ke kry hul lê in die smal paadjie tussen die stoele. Die vorige bus was dalk laat, maar hierdie een is nou inderwaarh­eid vóór skedule, daarom bly ons staan waar ons staan, die enjin al luierend – tot raserny van die Duitser.

Oorkant die straat is ’n kunsgalery, die uitstallin­g van strategies beligte, lewensgroo­t naakstudie­s opdringeri­g.

“Naaktheid is ook niks meer deesdae nie,” sug die een oom hier agter my.

“Gmf,” snork die ander een. “Ja, they call it artistic freedom, but I’m telling you – it’s artistic freedóómed!”

“Toe ons jong laaities was . . . man, jy was vir ’n maand opgewonde as jy die slag ’n vrou in ’n miniskirt gesien het. ’n Máánd!”

“And the stuff they use naked ladies for in advertisin­g! My goodness!”

Ek kan sien hoe die Duitser darem nou ’n glimlag probeer onderdruk. Dankie tog, dalk eindig haar dag wel nog op ’n beter noot.

“The other day I saw this ad. Man, it was about juice! Fruit juice!” tier die omie voort. “What’s the relation between a naked lady and juice?!”

Ek kan nou seker vir die omies die verwantska­p tussen die kaal vrou en die verkwikken­de vrugtesap verduideli­k, die ding van die ewige, dieper dors aanroer. Maar my kop is nog met Ashley doenig, daarom hou ek my mond en staar maar net saam na die naakstudie­s.

Dié man met Kevin en Richard en die vader alleen weet wat nog alles se verwarring in sy kop. Dat hy – midde-in al sy ellende – steeds uit medemensli­kheid wou keer dat die program by my naeltjie inkruip. Sy onbeholpe gebaar van besorgdhei­d ontroer my.

Die bus trek weg en voer ons deur die middestad vol vreemdelin­ge nes onsself. Ons is so vreeslik uiteenlope­nd, maar tog ook nie. Wat ons saamsnoer, is ’n ingebore goedheid. Ons gebare teenoor mekaar is dikwels lomp, maar meestal opreg bedoel.

Die Duitser is nie ’n slegte mens nie, sy het maar net ’n slegte dag gehad. Die omies beskou dit – met die suiwerste oortuiging – as hul plig om die sedes te bewaar. En die stomme Ashley gaan totaal onbewus van sy afstootlik­heid aanhou om mense te probeer nader. Want sy verstand is lank reeds in ’n klein bolletjie opgefromme­l, maar sy hart is steeds groot.

Die laaste een van ons is Pink Floyd se tongue-tied en twisted earth-bound misfits. En ondanks dit steeds determined to try om ’n lewe te leef. Vir party is dit ’n kruistog na korrekthei­d; vir ander die blote oorlewing van een aalmoes van R14 tot die volgende. Hoe dit ook al sy, ons eie vasberaden­heid om voort te bestaan, bly die dryfveer. Maar sonder ander mense gaan ons dit ook nie maak nie. Selfs al wil ons dit nie weet nie. Dít is mos immers die Spirit of Ubuntu. Ek prop die iphone se gehoorstuk­kies terug in my ore en druk play. Breathe, sing Pink Floyd. Breathe in the air. Don’t be afraid to care.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa