Ons toer na Botswana
Wil jy Afrika op sy beste ervaar, maar nie op jou eie nie? Sluit dan by Sarie-toere aan (in samewerking met Bhejane 4x4 Adventures) vir ’n Trans-botswana-toer
Dietoer word gelei deur ’n ervare natuurbewaarder en avontuurgids, wat te alle tye met jou in radioverbinding sal wees terwyl jy bestuur. Dis nie ’n baie tegniese 4x4-toer nie, maar die Bhejane-span het al die nodige toerusting en kennis om jou te help as jy enige teëspoed kry. Die beste van alles is: Jou tente word vir jou op- en afgeslaan, en ’n span bossjefs maak drie heerlike maaltye per dag.
DAG 1 Ons ontmoet in Letlhakane en maak die brandstoftenke vol voordat ons na die Makgadikgadipanne ry om ons eerste aand op Kubu-eiland deur te bring.
DAG 2 Vroegopstaners en ywerige fotograwe sal die sonsopkoms oor die panne geniet met koffie en beskuit in die hand. Ná ontbyt en ’n stappie op die eiland met sy interessante rotsformasies en ikoniese kremetartbome is dit tyd om noord te mik na ons oornagplek – ’n kampterrein buite Maun.
DAG 3 Ons bring die oggend in Maun deur vir inkopies en brandstof. Daar is ’n geleentheid vir ’n vlug oor die Okavangodelta. (Dié vlug is nie ingesluit by die toerkoste nie.) Dan kies ons weer koers na ons volgende oornagstop op die oewer van een van die delta se hoofkanale. Die logistieke span slaan kamp op en die potte is al aan die prut wanneer ons daar aankom.
DAG 4 Ná ’n paar dae se ryery is dit
nou tyd om te ontspan. Die kamp is bekend vir die voëls wat jy hier kan sien, insluitend die ontwykende visuil. Laatmiddag verken ons die Okavango-delta se pypsteelgebied op ’n vaart in gemaklike aluminiumbote.
DAG 5 Ons ry noord tot in Namibië via Tsodilo-koppies met sy manjifieke rotskuns. Hier besoek ons die museum en geniet ’n piekniekete. Ons kampplek vir die volgende drie aande is ’n skaduryke kol op die oewer van die Okavangorivier.
DAG 6 Ons eet ’n groot laatontbyt en daarna staan dit jou vry om op jou eie te verken of in die kamp te ontspan. Doen ’n wildrit in die nabygeleë Bwabwata- nasionale park, kyk voëls, doen ’n mokorovaart of ’n toer van die dorpie, of maak lyn nat. Ons kry mekaar weer laatmiddag vir ’n skemervaart op die Okavangorivier. (Dié vaart is die enigste aktiwiteit vir die dag wat ingesluit is by die toerprys.)