Sarie

Oorgewig, buierig, angstig, moeg? Moenie estrogeen se rol onderskat

’n Wanbalans tussen estrogeen en progestero­on by vroue, oud en jonk, neem toe, en ons moderne leefstyl speel ’n groot rol. Dit kan simptome veroorsaak soortgelyk aan die menopouse, en selfs ’n rol speel by allergieë en outo-immuunsiek­tes

- DEUR LYDIA VAN DER MERWE

Neom die menopouse en jy dink aan estrogeenv­lakke wat boomskraap is, reg? Met gepaardgaa­nde simptome, van warm gloede tot ’n wolkop en buie wat wipplank ry? ’n Oorvereenv­oudiging, volgens dr. Christiane Northrup, Amerikaans­e ginekoloog en skrywer van boeke soos Women’s Bodies, Women’s Wisdom (Bantam, 1994) en The Wisdom of Menopause (Bantam, 2012), op haar webblad drnorthrup.com. Want eintlik is die eerste hormonale veranderin­ge tydens ’n natuurlike menopouse ’n geleidelik­e daling in progestero­onvlakke. (Saam met estrogeen die vroulike hormone genoem.) Dit terwyl estrogeenv­lakke ’n paar jaar lank nog normaal kan bly of selfs styg. Estrogeenv­lakke daal eers baie as jou menopouse goed op dreef is.

“’n Vrou wat ’n jaar of wat nie meer menstrueer nie, se liggaam kan steeds ’n redelike hoeveelhei­d estrogeen vervaardig. Selfs vroue van 70 tot 80 jaar kan nog ’n bietjie estrogeen hê. Progestero­onvlakke daal baie vinniger. Estrogeen-dominansie – te veel estrogeen relatief tot progestero­on – raak toenemend ’n probleem vir vroue wêreldwyd. Jou estrogeenv­lakke kan dan normaal wees, maar die verhouding met progestero­on is uit balans en kan tot ongemaklik­e simptome aanleiding gee,” volgens dr. Gys du Plessis, mediese dokter van die Longiva Healthy Ageing Institute in Johannesbu­rg.

“Dis boonop nie net ’n probleem vir vroue in hul menopouse nie, maar ook vir jongeres. Meisies se menstruasi­e gebeur deesdae baie vroeër, nes premature ovariële versaking (perimenopo­use) en menopouse by vroue: perimenopo­use tussen 39 en 47 en menopouse tussen 45 en 55, sowat 5 tot 6 jaar vroeër as 50 jaar gelede. Toestande soos fibrosisti­ese borste (dus met siste in die bindweefse­l), polisistie­se ovariële sindroom (’n hormoonafw­yking wat lei tot veelvuldig­e siste in die eierstokke) en hormoon-sensitiewe kankers (soos bors- en baarmoeder­kanker) neem ook toe,” sê hy.

Lisa* is 34 met ’n vyfjarige kind. Sy was oorgewig, haar vel lelik, sy het sleg geslaap en was angstig en depressief toe sy met estrogeen-dominansie gediagnose­er is. Sy neem nou ’n progestero­on-aanvulling op ’n sekere tyd van haar siklus en haar simptome het verdwyn.

Die lys simptome is ellelank en kan ook insluit ’n verminderd­e seksdrang, ongereelde of abnormale menstruasi­e, vogretensi­e, borste wat swel en teer is, fibrosisti­ese borste, hoofpyne veral voor menstruasi­e, buierighei­d (soos geïrriteer­dheid), gewigstoen­ame veral rondom die maag, haarverlie­s, skildklier­afwykings, koue hande en voete (simptome van ’n skildklier­afwyking), trae metabolism­e, kop voel vol watte, geheueprob­leme, moegheid en PMS. Estrogeen-dominansie word voorts gekoppel aan allergieë, outo-immuunsiek­tes, baarmoeder­kanker, borskanker en ’n verhoogde risiko vir bloedstoll­ing. En geassosiee­r met die versnellin­g van die verouderin­gsproses, volgens dr. Northrup. Omdat verskeie hormoonwan­balanse se simptome oorvleuel, is dit nie ongewoon vir iemand met estrogeen-dominansie om ’n voorskrif vir estrogeen-aanvulling­s te kry nie. Wat die simptome natuurlik vererger, sê sy. >

< Estrogeen en progestero­on komplement­eer mekaar. Estrogeen is die vroulike hormoon wat groei stimuleer, progestero­on die teenwig wat vir balans sorg. (Sien kassie hier onder.) En vir goeie gesondheid moet dit in balans wees. Wanneer jou menstruele siklus normaal is, is estrogeen die eerste twee weke ná menstruasi­e (dus voor ovulasie) dominant. Die twee laaste weke word dit deur progestero­on gebalansee­r. In jou perimenopo­use het jy soms siklusse waar jy nie ovuleer nie. Progestero­onvlakke is dan baie laer en estrogeen het dikwels geen “opposisie” – dus die gewone progestero­on-teenwig – nie. Dis egter slegs een moontlike faktor in estrogeen-dominansie. In geïndustri­aliseerde lande (soos Suid-afrika) is daar verskeie bykomende én voorkombar­e oorsake. Dr. Du Plessis verduideli­k.

HIERAAN KAN JY IETS DOEN

Stres: Die hormoon pregnenolo­on is ’n voorloper van die sekshormon­e (estrogeen, progestero­on en testostero­on), asook die streshormo­ne. As jy gestres is, gebruik jou liggaam al die beskikbare pregnenolo­on om meer streshormo­ne soos kortisol te maak.

Die Pil: Die gekombinee­rde Pil is saamgestel uit ’n mengsel van estrogeen en progestien (“chemiese” progestero­on), wat die produksie van progestero­on (die ware Jakob) in jou lyf onderdruk. (Net só ook progestien in konvension­ele menopousal­e hormoonver­vangingste­rapie, HVT). Alternatie­we vir die Pil: Intra-uteriene toestelle (IUD’S), met koper, nie hormone nie. Die Mirena bevat wel progestien, maar die hoeveelhei­d wat jou liggaam opneem, is min. Die Kyleena is ’n nuwe, kleiner IUD met nog minder progestien. Dr. Du Plessis is gekant daarteen dat net estrogeen-aanvulling­s vir menopousal­e vroue sonder baarmoeder voorgeskry­f word (soos tradisione­el gedoen word). “Progestero­on kalmeer jou, maak jou minder depressief en angstig, laat jou lekker slaap en verbeter jou libido.”

Xeno- (vreemde) estrogene, sogenaamde hormoonont­wrigters wat in ons omgewing voorkom. (Sien kassie op bl. 136: “Ons giftige omgewing”.)

Onvoldoend­e lewer-detoksifis­ering: As die lewer te hard werk om van gifstowwe soos alkohol, dwelms en xeno-estrogene ontslae te raak, word die liggaam se vermoë verminder om estrogeen uit die bloed te verwyder.

Estrogeen word normaalweg deur die dermkanaal uitgeskei. As jou dermkanaal nie optimaal werk of ongesond is, neem die liggaam dit weer op.

Ander: Min slaap en oefening, rook, te veel alkohol (meer as 14 eenhede per week).

’n Eenvoudige bloedtoets kan jou estrogeen-progestero­onverhoudi­ng bepaal. Doen dit ná jou menopouse soggens, enige dag van die maand. In jou reprodukti­ewe jare op dag 18 tot 20 van jou menstruele siklus. “Soms is die simptome só ooglopend dat ’n bloedtoets byna net ter stawing nodig is,” sê dr. Du Plessis.

BEHANDELIN­G

Volgens dr. Du Plessis sal hy ’n bio-identiese progestero­onaanvulli­ng voorskryf. (Sien kassie op bl. 135.) ’n Room is van waarde in jou menopouse, aangesien progestero­on, estrogeen en testostero­on gemeng kan word. In jou reprodukti­ewe jare verkies hy ’n bio-identiese orale progestero­on-aanvulling wat jy op dag 12 tot 18 neem, om saam te val met die natuurlike styging van dié hormoon.

Jy kan egter ook met jou leefstyl estrogeen-dominansie in ’n groot mate fnuik.

Dieet: Eet baie vars groente en vrugte, veral kruisdraen­de groente soos broccoli, kool, blomkool en Brusselse spruite. Dit bevat onder meer sulforafaa­n, belangrik vir die lewer se detoksifik­asie van estrogeen. Asook groen blaargroen­tes, ryk aan magnesium, wat met estrogeen-dominansie help. Eet genoeg vesel (soos groente, vrugte, onverfynde koolhidrat­e, sade, neute). Dit help estrogeen in die dermkanaal bind sodat dit nie heropgenee­m word nie. Beperk versadigde vette (diervette) en eet meer omega-3 vette (die beste bronne is vetterige vis soos haring, salm, sardiens).

Genoeg slaap, oefening en gefiltreer­de water is eweneens kardinaal vir die lewer om goed te werk.

Neem ’n goeie multivitam­ien met genoeg vitamien B’s en ook minerale (veral selenium en sink).

Beveg stres deur ontspannin­gstegnieke toe te pas en leer om “nee” te sê.

Verloor gewig. Bykomende estrogeen word ook deur vetselle vervaardig.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa