OOK NET ’N MA
In die Kgalagadi met sy wye lug en wit tweespoorpaadjies, dáár sien ons die mooiste prentjie van moederliefde. Voor ons draf twee volstruisouers met hul kleuterkroos. Niemand kan juis uitdraai nie en teen slakkepas geniet ons die draffie.
Gou sien ons daar’s fout met die agterste kuiken. Hy kan nie bybly nie – iets aan sy voetjie lyk snaaks. Sy pa en fikse boeties sou seker al verby die uitdraaipad gewees het, was dit nie vir sy geduldige ma nie. Kortkort gaan sy staan om haar uitgeputte telg kans te gee om in te haal. Terselfdertyd kyk sy rond vir jakkalsgevaar, want sy weet haar randeiertjie is hul swakste skakel.
Veel later verpoos die volstruiswyfie nog in my gedagtes. Ek dink aan baie soorte seer waar ’n ma moet veg om dinge beter te maak: Ek sien jong mammas met kleuters by ’n skool vir gestremdes instap. Enkelmammas wat moet baklei vir onderhoud. Ma’s wat moet skerm teen die vernedering van gesinsgeweld.
Ek voel soos Fiela. En ek wens ek kon my volstruisprentjie vir Dalene Matthee wys.