Nataniël sê ...
Dalk is dit hierdie stadium van my lewe, maar dit gebeur al hoe meer dat ek mense raakloop wat ek lanklaas gesien het, kennisse uit skooldae, universiteit, my vroeë loopbaan, en dan my skrik moet sluk omdat hulle ongelooflik sleg lyk. Ek praat nie van gewigsprobleme of ’n skrikwekkende poging tot plastiese chirurgie nie, maar moegheid of verwaarlosing, hulle dra ’n waas van verflenterdheid soos dié wat jare in die son moes bedel.
Daar is ’n woord wat al lank in my gedagtes rondspring, maar waaraan ek nou vir die eerste keer ’n volle bladsy afstaan: selfversorging. Hierdie woord is nie honderde jare oud soos ander nie, dis relatief nuut, ’n konsep wat uit nood ontstaan het weens die gevolge en gevare van ’n moderne wêreld.
Selfversorging word deur sommige as ’n mediese term beskou, deur ander as ’n sosiale idee, deur nog ander as ’n kosmetiese konsep. Vir my is dit ’n leefstylaanpassing of ’n keuse wat gemaak moet word vanweë ’n sekere ouderdom of die nagevolge van ’n uiters traumatiese of uiters aangename ervaring.
Mense dink hulle kan geheime bewaar, ewig aanhou met aaklige gewoontes, spanning onderdruk met medikasie, maar ’n vel verklap alles. ’n Gesig, oud, middeljarig, of selfs jonk, stuur ’n noodkreet vinniger as enigiets anders. Hier gaan dit nie oor ’n plooi of twee nie, dit gaan oor tekstuur, porieë, merke, ’n verdagte kleur, droogheid, elastisiteit, pofferigheid, ’n gesig is geskiedenis met oë en ’n mond.
Daar is mense wat met trots hulle ouderdom omhels, hulle grys laat uitgroei, minder grimering dra en avontuurlik aantrek. Maar dikwels is daar iets wat verklap dat alles nie pluis is nie, iets knaag en kou, hier is ellende. Die waansin in die oë, bagasie onder die oë, die spinnerak om die mond, die net-te-diep kepe. En ja, daar gaan sy, gou om die hoek vir ’n sigaret. Is ’n sigaret so verskriklik? Absoluut! En op ’n hoër ouderdom: ’n riller! Dit hoef nie ’n sigaret te wees nie, elke ander verslawing verwoes dié wat dit toelaat.
Selfversorging is wanneer iemand kan sê, hierdie gewoonte was ’n plesier in my studentedae, dit het my gedra deur die egskeiding, maar nou is die skade, die vieslikheid, die gebrek aan grasie, die beeld, die boodskap, alles net te veel.
Selfversorging begin by respek. Vir jouself, vir ander, vir die Skepping, vir jou lewensverhaal, vir jou talent, vir jou voorregte, vir jou gesondheid, vir jou gemoed. Selfversorging begin met persoonlike eerlikheid en erkentenis: Ek wil beter voel, beter lyk, beter optree, beter weet, beter slaap. Dis nie onkoste nie, nie inrigtings nie, net jy, nuwe gewoontes, bietjie vasbyt, baie trots.
Nou volg die simpel, aanvanklik irriterende, maar noodsaaklike stappe. Minder alkohol, meer water. Minder koffie, meer water. Minder koeldrank, meer water. Minder praat, meer luister. Minder kommer, meer asem. Minder sit, meer stap. Minder vleis, meer groente. Minder suiker, meer vrugte. Minder televisie, meer lees. Minder oordeel, meer verstaan. Minder woede, meer vrede.
Alles gaan nie oor self-onthouding nie, versorging is ook ’n luukse, dis ’n fantastiese parfuum wat ’n gewone dag omkeer, laatslaap, ’n uur met ’n tydskrif, die hemelse stilte wanneer jy vir ’n hele middag alleen kan wees, musiek waarvan jy vergeet het.
Miljoene van ons leef met pyn, emosioneel of fisiek, chronies en verlammend. Dit verniel ons! Om pyn te beheer op ’n meer natuurlike manier neem tyd, eksperimente, rondsoek. En oplossings is soms onverklaarbaar, soms tydelik. Op ’n moedelose dag gaan laai ek geskenke af by iemand wat niks verwag nie en dan voel ek wonderlik vir ure. Dit maak my dus nie ’n besonderse mens nie, dit verras dalk die ander persoon, maar dit help my met genesing, ek moet gereeld net die fokus verskuif totdat ek die krag het om weer my berg te klim.
Die beste tyd vir enige voornemens of positiewe aksie is die oomblik dat jy daaraan dink. Soos nou.