Sarie

VERLANG NA MY AFRIKAANSE SIEL . . .

Uittreksel uit ’n blog deur Philip Marais, ’n Suid-afrikaner, ná ’n ete by JAN

-

. . . Ek moet erken, ek het nie verwag die oomblik sal gebeur tussen ’n Kaapse broodjie en die Franse wyn vanaand nie, maar die gevoel was alle soort poëties. Jana het vir Jan ’n geskenk vanuit Suid-afrika gebring. In die kaartjie het sy geskryf: “Aan Jan, Van Der Hum Liqueur vanuit my ma se kombuis in Pretoria.” En in daardie een sin kom die hele prent meteens vir my bymekaar. Ek sit halfpad rondom die wêreld en die Franse kelner glimlag homself byna bewusteloo­s toe ek gil, “bobotie!”, terwyl hy die vierde gereg na die tafel aandra. Wanneer pap-en-sous, en malvapoedi­ng, en Marmite-biltong-happies en rooibostee en Swartlandw­yn vergesel van hul oorspronkl­ike Afrikaanse name in ’n Franse aksent bedien word, ervaar ek ’n tipe tuis wat ek in ’n lang tyd nie gevoel het nie. Die tipe tuis wat ek uit my kinderdae onthou, waar Afrikaans-wees nog suiwer gevoel het. Die tipe tuiswees wat my laat verlang na ’n Afrikaanse siel, waarna ek al ophou soek het. Vir die eerste maal in my volwasse lewe het ek vir ’n oomblik onthou dat dit oukei is om Afrikaans te wees en dat daar ruimte is vir my in my eie prentjie van ’n Suid-afrika waarop ek wil trots wees. Die trots waarmee Jan Suid-afrika na Frankryk geneem het, en die opregtheid waarmee hy Afrikaans na Frankryk geneem het, het die boustene gelê vir my persoonlik­e spirituele ervaring wat ek nie sou voorspel het ek sou vind in ’n baie duur aandete in die suide van Frankryk nie. Bron: www.medium.com/@finmn/verlang-na-my-afrikaanse-siel480251­4a7220

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa