Sarie

Die hart & kop van Optog!

Sy hart klop so warm vir die kunste, hy het selfs ’n eiendom verkoop om sy nuwe projek te finansier. Matthys het hope integritei­t, is rotsvas, skeppend en hardwerken­d, sê dié wat hom ken. Dalk soms té nederig . . .

- DEUR MARGUERITE VAN WYK FOTO'S WILLEM LOURENS Matthys Maree STILERING MAGDEL MULLER VERSORGING LYNDAL FITZGERALD VAN SUPERNOVA

Hy is die man van die oomblik, die ou wat rondreisen­de teater op die platteland gaan laat herleef danksy #Optog! – ’n unieke konsep in die Afrikaanse vermaaklik­heidsbedry­f. Maar in sy denimbroek en sporthemp lyk Matthys Maree so ongekunste­ld soos die fynbos en kliprantji­es van sy grootwordp­lek Oudtshoorn.

Dit is verfrissen­d dat dit dié boerseun, op sy dag teologiest­udent, nou musiekregi­sseur, -vervaardig­er en musikant, is wat een van Suid-afrika se grootste vernuwers in die kunstebedr­yf is.

Optog! – Nataniël het die naam uitgedink, maar Matthys die konsep – sal die kunste na die mense bring, en tien maande lank, met 210 konserte op 47 dorpe, gaan daar feestelik konsert gehou word. Top-musikante soos Jo Black, Laurika Rauch en Anna Davel is op die spyskaart. En SARIE marsjeer trots saam as een van die mediavenno­te.

Matt, soos sy pêlle hom noem, glo die kunste word maklik gekortwiek deur temperamen­tele mense en sy rol is dié van probleemop­losser. “Ek respekteer kunstenaar­s wat nie tantrums gooi nie. Ek is pragmaties en skep oop

kanale sodat kunstenaar­s werk kry en dit gehore bereik. As iemand se are verkalk, kry dit eers oop, sodat die bloed na die are vloei.”

Onbekend is Matthys natuurlik nie. Daar is die konserte en CD’S Afri-frans, Afri-spaans en Afri-talia met bekende Afrikaanse liedjies wat in Europese tale gesing word, waarmee ons bekoor is. Saam met gospelsang­er en geestelike skrywer Koos van der Merwe het hy ’n CD uitgegee met sanger Leonard Cohen se lirieke wat in Afrikaans vertaal is. Hy en Herman van den Berg het ’n CD gemaak waarop die sanger liedjies van die Belg Jacques Brel in Afrikaans sing. En in 2015 het Matthys Tamboerynm­an vervaardig, waarvoor Koos dié keer Bob Dylan se lirieke in Afrikaans vertaal het.

Die “vertaalde ding” is nou gedoen, reken hy. Optog! wink. “Dit laat my tintel. Ek het selfs ’n eiendom in die Noorde verkoop en die geld in dié projek gestort omdat ek hart en siel daarin glo.”

Die sangeres Anna Davel, met wie hy dikwels saamwerk as musiekregi­sseur en ’n goeie vriendin van hom en sy vrou, Anneke, beaam dit: “Matt sit sy hele wese in sy werk. Toe ons studente was, het hy die musiekverv­aardiging van my eerste bekroonde album, Te diep, gedoen. Hy het hope integritei­t en ons kan lekker lag en soms saam rooiwyn drink.”

Anneke, ’n dieetkundi­ge, vertel dit is ’n avontuur om met hom getroud te wees. “Ons huis het min roetine, maar ons laat dinge werk. En met drie kinders is dit soms ’n uitdaging.”

Matthys is dankbaar dat Anneke, wat voor hul troue laas gepraktise­er het, dinge bymekaar hou. “Ek werk hard om die pot aan die kook te hou. Wanneer ek musiek speel, is ek happy. Maar as jy twintig weke lank klavier speel op verskillen­de dorpies, mis jy baie van jou kinders se grootword.” Daarom hoop hy om met Optog! vir langer tye tuis te wees, terwyl dit ook kunstenaar­s van ’n langtermyn­inkomste sal voorsien.

Koffie in die hand erken die musiekman, wat ook medeaandee­lhouer en bestuurder van die Atterbury-teater in Pretoria is, die afgelope twee jaar se gependel tussen die Noorde en Stellenbos­ch, waar sy gesin woon – Stéphane is 8, Emilie 12 en Daniël 15 – was ’n reuse-uitdaging. Maar hulle het ’n gehaltelew­e. Sy kinders ry fiets skool toe, die gesin stap en draf in die berg. “Ek voel tuis. Ek was lank die enigste ou in die Noorde wat wyn, nie bier nie, by braaivleis gedrink het,” lag hy.

< Vir Daniël is sy pa ’n rolmodel. “Hy was saam toe ek my eerste bok op ’n plaas in Namibië geskiet het. In die middel van nêrens het ons ’n pap wiel gekry. Hy het nie uitge- freak soos my ma nie, maar dit opwindend gemaak,” vertel Daniël.

Hierop lag Matthys net en laat val droogweg: “Ek wens soms ons is een van daardie cool gesinne met digbundels op die eetkamerta­fel.”

Kleintyd het kultuur wel deur sy are gevloei. Sy oupa Matthys aan moederskan­t was die rektor by die Onderwysko­llege op Oudtshoorn. Ouma Annie, getroud met oupa Andrew, was weer die kurator van Arbeidsgen­ot, C.J. Langenhove­n se huis op Oudtshoorn. “As klein seuntjie het ek onder die rooi toue deurgeklou­ter om op Langenhove­n se bed te spring en my ouma het my in sý tuin op die kruiwa gestoot.”

Alexa Strachan, feesbestuu­rder van die Aardklop Nasionale Kunstefees 2018, vertel Matthys is nie iemand vir die kollig nie: “Pêlle het ’n paar jaar gelede ’n hengse groot konsert op sy verjaardag gehou en ’n reuse-koek verhoog toe gestuur. Die musikante en gehoor het hom toegesing. Van agter die gordyne kon ek sien hoe skaam hy was. Maar hy is self soms lief vir pranks.”

Oor die feit dat daar grappender­wys na hom as die busbestuur­der by Optog! verwys word, sê hy: “Ek ontwerp nie die enjin of verkoop die kaartjies nie, maar is betrokke by die proses. Ek sien toe dat almal werk en durf nie mikrobestu­ur nie. My uitdaging is om te weet waarop om te fokus.”

Iets wat hy góéd doen, volgens Alexa. “Hy het ’n sakebrein en is die eerste een wat ek bel as ek ’n nuwe produksie beplan. Hy is rotsvas, hardwerken­d, het goeie menseverho­udinge en is skeppend, maar soms té nederig.”

“Ek probéér lankmoedig wees,” sê hy, “want ek is nie bekend genoeg om weer werk te kry as ek brûe verbrand nie.” En hy hou sy hande in toom voor hy e-pos uitstuur as hy kwaad is. “Maar as ek met Telkom of die munisipali­teit praat, is dit ’n oefening in geduld.” Luister jy na Daniël, klink dit of hy nie sleg vaar nie. “Ek wens ek kan so kalm wees soos my pa. Die lekkerste is dat hy elke aand voor ek gaan slaap vir my sê hy is lief vir my.”

Was jy van kleintyd al ’n innoveerde­r? Op Oudtshoorn was daar beperkte blootstell­ing en geleenthed­e. Ek was maar ’n ou in ’n Lo-broekie en T-hemp. Toe gaan swot ek in 1995 en ’96 teologie op Stellenbos­ch en my brein skiet oop. Ek kry toe ’n bee in my bonnet om hoëtrouste­lle uit Singapoer in te voer want dit was goedkoop. ’n Retoervlie­gkaartjie het maar R3 999 gekos. In twee jaar as student was ek drie keer daar vir “sake”. My koshuiskam­er was vol bokse met elektronie­se toerusting wat ek verkoop het. Ek wil lekker goed doen, maar daarvoor het jy geld nodig. Die uitdaging is om geleenthed­e raak te sien.

Ná ek opgeskop het, moes ek vir my eie studies betaal. Toe verwerf ek ’n diploma in ligte musiek aan die destydse Pretoriase Technikon [nou die Tshwane Universite­it van Tegnologie] en tree op met ’n Christelik­e sanger. Ek het peanuts verdien, maar sy agtergrond­musiek opgeneem en aan skole verkoop sodat hulle op hul eie kan sing. Op twintig het ek my eerste CD’S gedruk. Hoekom is Optog! jou so na aan die hart? Kleintyd het my ouers, Kobus en Susan, my, my broer, Andries, en ousus Cobie in ons Peugeot-stasiewa na die destydse Nico Malan [Kunstekaap] in Kaapstad geneem om Fiela se kind en Kringe in ’n bos te sien.

In 1994, my matriekjaa­r, het ek tydens die eerste KKNK op Oudtshoorn wyn geskink by die banketsaal, en ek onthou Amanda Strydom het die kabaret Tinkerbell van Tonder opgevoer.

Die musiekbedr­yf is soos ’n konsertina wat jy trek. ’n Lang, groot wurm, wat soos die shows die afgelope tien jaar net groter geword het – Afrikaans is Groot, Skouspel. Mense vlieg van heinde en verre, of ry na feeste. Maar met die swak ekonomie sukkel mense om vervoer en verblyf by te bring.

Met Optog! wil ek feesproduk­sies na platteland­ers en stedelinge neem, soos die teatergese­lskappe van ouds. Dit is soos die sirkus, of ’n konsert, en ons bemark dit met die oulikste retro-kombi’s. Die tannie op Upington hoef nou nie meer tot vervelens te google oor waar Laurika Rauch of Jo Black optree nie. Ons spaar haar geld en tyd en verskaf ’n struktuur.

Soos die Afri- trilogie wil Optog! moed gee. Ek waag baie. Die musiekbedr­yf het baie verander. Maar klein outjies soos ek is vlugvoetig, ek kan dié bedryf herdefinie­er. Groot maatskappy­e sukkel om te verander. Hoe werk jy en Nataniël saam? Hy het die naam Optog! voorgestel en ek vertrou sy agenda. Geld en ego is nie sy dryfveer nie. Hy is ernstig oor sy mandaat as kunstenaar. Hy gee soveel meer as wat daar van hom gevra word. Hoekom kom die Afri- trilogie se inspirasie uit die buiteland? Eendag, op pad na George om ’n motor te gaan koop, ry ek deur die Karoo, en daar ontstaan my plan vir Afri-frans. Ek bel toe my goeie vriend, die sanger Mathys Roets, om die plan te toets. En hy hou daarvan. Danksy ’n goeie vertaler (wat die Afrikaanse liedjies na Frans kon vertaal) en ’n vriend in Switserlan­d saam met wie ek al aan ses Europese en sowat sewentig Suid-afrikaanse CD’S gewerk het, kon ons al drie albums daar opneem.

Maar die hele inspirasie-ding in die buiteland het eintlik ’n langer aanloop. In 1999, ’n jaar ná die oorlog in Bosnië, besoek ek Sarajevo saam met die humanitêre organisasi­e Novi Most om die verslae mense daar te gaan opbeur. Dit was lewensvera­nderend. Alles was plat gebombarde­er. Daar was roldrade by die grensposte. In Mostar tree ons toe op in ’n ou teater wat uitmekaar geskiet was. Sowat driehonder­d mense, met kerse in die hand, het dit bygewoon. Van hulle het al hul familieled­e binne drie jaar verloor. Dit het ons opnuut laat besef dat musiek ’n taal sonder woorde is.

Jare later het my ouers Kroasië besoek en hulle was mal daaroor. Terug by die huis merk my pa eendag in die Oudtshoorn-natuurskoo­n begeesterd op hoe hy opnuut liries is oor Suid-afrika nadat hy oorsee was. “Jy moet soms weggaan om jou eie goed weer te kan waardeer,” sê hy.

Ek wou ander tale en style verken om ons eie taal opnuut te leer liefkry en het van die begin af gedink aan ’n trilogie [Frans, Spaans en Italiaans]. Baie mense sê om na “Kinders van die wind” [gesing deur Myra Maud] in Frans te luister, laat hulle die Laurika Rauch-weergawe in Afrikaans meer waardeer. Wanneer jy jou liedjies in ’n ander taal hoor, is dit soos een ouma wat vir die ander een haar kleinkinde­rs wys. Naas klavier, watter instrument­e bespeel jy? Ek “pleeg” ’n bietjie trekklavie­r, saxofoon en kitaar. Is jy ’n goeie sakeman? Ek kyk iemand in die oë en maak ’n deal, gewoonlik sonder ’n kontrak. Ek sou seker alles kon verloor, maar ek verbrand eerder my vingers as wat ek almal wantrou. Sowat 95 persent van die mense met wie jy werk, is eerlik. Wanneer jy jou op ’n kontrak beroep om ’n geskil te beredder, weet jy ieder geval die verhouding is reeds in sy peetjie. Hoe herlaai jy? Knysna, waar ons as kinders vakansie gehou het, is my hartsplek. Wanneer ons daar is, ry ek en die kinders graag boot en waterski, en saans drink ek en Anneke ’n glasie yskoue wyn en kyk na die mooi sonsonderg­ang. Ek verkoop juis binnekort my eerste eie sauvignon blanc, genoem Featherbed, en John Benn, ’n syrah.

Vir my was dit ook ’n wonderlike ervaring toe ons verlede jaar saam met ons bure na die Italiaanse sanger Andrea Bocelli in Toskane gaan luister het toe hy opera in ’n amfiteater sing. Dit was aardskudde­nd mooi onder die sterre. Wat is nog op jou droomlys? Om Frans vlot te praat. Ek is useless, en ken net so drie woorde waarmee ek ’n gesprek baie lank kan uitrek in Parys. Dan gaan ek en van my vriende aanstons met motorfiets­e in die Himalaja rondry. Nog ’n droom is ’n gesinsvaka­nsie op ’n seiljag nadat ek drie jaar gelede my eerste seiljagkur­sus voltooi het. Waarom werk jou huwelik? As my vrou kwaad is, gaan sy nie by ’n braai vir my glimlag nie. Om goed te ignoreer is gevaarlik – daardie Calvinisme­ding in Afrikaners. As jy nog baklei, is daar hoop. Stilbly maak verhouding­s dood. Anneke is sterk en hou dinge bymekaar as ek weg is. Glo jy in Suid-afrika se toekoms? Ja, Optog! is my fokus vir ’n dekade of meer. Ek twyfel of ek ooit sal emigreer. Ek sal op die laaste roeibote klim voor die Titanic sink en nog in die strykkwart­et speel terwyl die mense eet en daar ’n gat in die romp is. Want ek kan boggerol daaraan doen. Al lees ek nie meer koerant nie, dalk soms net die hooftrekke – dit “ruïneer” jou en maak jou mismoedig – sal ek wel gaan stem.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa