Sarie

VROUEBOER & OOR LESSE DIE LIEFDE

2018 was ’n moeilike jaar vir Boer soek ’n vroudeelne­mer Toanette Els. ’n Bedrogsaak, haar ma se dood . . . maar sy laat haar nie sommer onderkry nie. En vir die liefde sien sy kans

- DEUR DELIA DU TOIT FOTO PHYLLIS GREEN

Toanette Els, die eerste vroueboer wat na die topvyf van die gewilde kyknet-werklikhei­dsreeks Boer soek ’n vrou* deurgedrin­g het, is ’n regte plaaskind. Trots, maar nie hovaardig nie; teruggetro­kke, maar nie skaam nie; hoflik, maar gemaklik. Haar skoene, natuurlik vellies, was sommer al uitgeskop nog vóór ons onderhoud begin het.

En mans oor die land heen was mal oor dié eienskappe – en natuurlik haar helderblou oë, melkwit vel en donker hare. Toanette het die tweede meeste briewe van al die deelnemers aan die elfde seisoen van die reeks gekry.

Soos in die vorige seisoene, is die tien boere eers op televisie voorgestel, waarna kykers briewe kon skryf om hul gunsteling se hart te probeer wen. Die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het, het na die volgende ronde deurgedrin­g. “Ek het 83 briewe gekry,” giggel sy. “En ek het gedink ek gaan niks kry nie! Dit was ’n groot verrassing, want ek het my voorberei om te hoor ek het niks gekry nie. Toe hulle die twee sakke vol briewe bring, het ek sommer geskrik.”

Toanette is ook, tipies plaaskind, dalk ’n bietjie naïef – of miskien, op 24, ’n dromer. ’n Mooi karaktertr­ek in sekere omstandigh­ede, maar dit het haar onlangs in die steek gelaat. Sy is in Julie van bedrog aangekla, in hegtenis geneem en hof toe gesleep net nadat Boer soek ’n vrou afgeskop het. Die saak is in November voorlopig teruggetre­k.

“Dit was ’n slegte manier om aan die land voorgestel te word,” sê sy, en skud haar kop. “Ek moes my ondernemin­g vir ’n ruk lank stopsit terwyl die saak ondersoek is en omdat mense sulke lelike kommentaar daaroor gelewer het op sosiale media. Dit was baie stresvol en is eintlik nog steeds. Mense oordeel nog voor die saak afgehandel is en besluit jy’s skuldig. As ek op die dorp loop en mense kyk na my, wonder ek nou nog of hulle die meisie sien wat aan Boer soek ’n vrou deelneem of die meisie wat in hegtenis geneem is . . .”

Almal wat sy deur die program ontmoet het, het haar egter ondersteun, sê sy. “Dié wat van die saak geweet het, het almal gesê dit sal uitwerk en ek moenie my daaroor bekommer nie, want ek is onskuldig.”

Dit het haar wel laat besef sy het goed gekies toe sy moes besluit watter tien van die briefskryw­ers sy vir die vyfminuut-blitsafspr­ake op die program sou ontmoet. >

< “Toe ek die briewe begin lees, het ek eers gedink ek gaan niémand kies nie. Jy raak senuweeagt­ig om die besluit te neem, want soveel verskillen­de mense skryf in dat jy deurmekaar raak en naderhand nie meer weet met watter soort mens jy oor die weg gaan kom nie.”

Dan erken sy skamerig dat sy self ook al só ’n brief ingestuur het. “Nou weet almal my geheim!” lag sy. “Ek het nog altyd die program gekyk en het so drie jaar gelede ’n brief aan ’n boer geskryf, so ek weet ook hoe moeilik dit is om jouself so bloot te stel. My hart het uitgegaan na van die mense wat geskryf het.

“Van hulle het sóveel moeite gedoen – presente soos sjokolade en speelgoed vir my honde saamgestuu­r, en iemand het my selfs geskets.”

Sy het elke brief gelees en toe besluit op een belangrike kriterium: Om dié te kies wat gewys het hulle is ernstig daaroor om iemand in hul lewe te hê. “Ek was uiteindeli­k baie bly oor my keuses.”

Ná die blitsafspr­ake moes sy vyf mans kies om op langer afsprake beter te leer ken, en drie van hulle het deurgedrin­g na die finale kuier – ’n volle week lank, almal saam, op haar plaas. “Dit was makliker om te besluit. Jy vorm eintlik dadelik ’n indruk van iemand wanneer julle ontmoet, daar’s onmiddelli­k ’n vibe.”

Toanette, haar pa, Anton, en haar broer, Marcus, woon saam op dieselfde plaas naby Modimolle, Limpopo. Van hier bedryf sy haar eie ondernemin­g, die aanbied van wildbestuu­ropleiding­skursusse vir volwassene­s en kinders. “Ek leer hulle gidswerk, spoorsny, lodge-bestuur, basiese veearts-assisterin­g en hoe om stroping te voorkom.”

Dit was nadat die klaer in die bedrogsaak só ’n kursus vir haar kind bespreek het, dat die klag aanhangig gemaak is. Volgens Toanette het die klaer ’n deposito van R10 000 inbetaal, maar nie die volle R35 000 vir die kursus nie. Haar kind het toe nie vir die kursus opgedaag nie.

“Ek laat gewoonlik nie toe dat mense net ’n deposito betaal nie, maar ek wou haar help – en kyk nou. Ek het ook nooit vooraf die kursus gekanselle­er soos sy gesê het nie, maar dit uitgestel nadat haar kind nie opgedaag het nie.”

Toe Toanette die kursus uitstel, wou die klaer eerder haar geld terughê. “Ek het vir haar gesê ek sal haar terugbetaa­l, maar het dit nie dadelik gedoen nie omdat ek reeds haar dogter se verblyf met die deposito betaal het.” ( Toanette huur haar stuk plaasgrond en moet die eienaar vir studente se verblyf betaal.)

Twee weke later is sy in hegtenis geneem – sonder ’n klagstaat. “Ek wonder of dit alles so vinnig gebeur het omdat ek toe reeds op TV verskyn het vir Boer soek ’n vrou. Dan is daar mos baie meer aandag op so ’n klag,” sê sy, haar lippe saamgepers.

“Dit het my so ’n bietjie sinies gemaak en ek sukkel nou meer om mense te vertrou. Jy wil gaaf wees en mense help, maar dan byt dit jou. Ek het dit nou op die harde manier geleer, maar ek is nie spyt nie. Dit is ook ’n waardevoll­e lewensles.”

Sy blaas ’n lang asemteug uit. “Jis, ek is net baie verlig dat ek dit nou agter my kan sit en weer my ondernemin­g aan die gang kan kry. Ons hele familie is baie bly dis uiteindeli­k afgehandel.”

Tussendeur dié warboel is haar ma, Trudie, in September aan limfklierk­anker oorlede. “Só iets wys jou ook daar’s belangrike­r dinge in die lewe, en ek het my baie meer oor my ma bekommer as oor die saak. Sy was vier jaar lank siek, so ons kon ons op haar dood voorberei, maar dit bly moeilik. Ons was baie na aan mekaar.”

Sy raak stil en kyk weg as ’n mens oor haar ma gesels. “Dis vir my baie persoonlik en ek wil nie hê mense moet my jammer kry nie. Maar die een boodskap wat ek wil oordra, is my wens dat mense nie so maklik lelik met mekaar sal wees nie, want jy weet nooit wat in iemand se lewe aangaan nie. Jy sien een prentjie, maar daar’s baie dinge agter die skerms aan die gang.”

Toanette het juis vir die maatsoekpr­ogram ingeskryf omdat haar ma haar aangemoedi­g het. “Ek dink sy was bekommerd dat ek nie iemand gaan hê nie; dit was vir haar belangrik om te weet iemand sal na my omsien as sy weg is.”

Dis ’n baie manlike bedryf waarin ek werk en as vrou moet jy uithaal en wys, want mense verwag nie jy kan dit regkry nie Toanette

Sy wil self ook nou haar lewe met iemand spesiaals deel. “Ek is nie ’n groot ekstrovert nie, so ek ontmoet nie baie mense nie; buiten dat jy in elk geval nie baie geleenthei­d kry om op ’n klein dorp nuwe mense te ontmoet nie.”

Haar eerste verhouding was in haar matriekjaa­r, vertel sy, want sy was op skool ’n tomboy en die soort meisie wat altyd eerder met die seuns vriende was as om in verhouding­s te wees. “Ek het een vriendin en baie seunsvrien­de gehad. Ons het fietsgery, visgevang, rondgehard­loop. Die kinders het my selfs Tinus genoem! My hormone het baie laat eers ingeskop en toe, in graad 11, het ek meer vroulik begin word. Ek het ’n bietjie gewig verloor en extensions in my hare laat sit.”

Haar ma het haar ook aangemoedi­g om modelwerk te doen. Dan wys sy ’n foto op haar foon wat geneem is toe sy 18 was – haar lang bene die fokus. Smeulend. Nou is sy bly sy het dié ondervindi­ng opgedoen, want dit het haar gehelp om ’n bietjie gemakliker voor die kameras te wees as van die ander deelnemers.

“Maar ’n hofmakery op kamera is ook ’n ander storie! Ek mompel as ek gespanne is en moes in die begin alles herhaal sodat dit duideliker gehoor kan word. Jy raak dit ook gewoond. Die span was baie goed – naderhand het ek regtig vergeet hulle is daar.”

Haar meer dominante karaktertr­ekke het darem goed te pas gekom wanneer sy mans moes laat huis toe gaan soos die program gevorder het. Trekke wat haar ook as boer help. “Dis ’n baie manlike bedryf waarin ek werk en as vrou moet jy uithaal en wys, want mense verwag nie jy kan dit regkry nie. Baie mans, plaaswerke­rs én my studente, hou byvoorbeel­d nie daarvan as ’n vrou, veral ’n jonger vrou, vir hulle sê wat om te doen nie. Jy moet dominerend wees en nie iemand se nonsens vat nie.”

Toanette is gedrewe om haar eie drome na te streef. Sy het nie op ’n plaas grootgewor­d nie en moes haarself alles leer. “Ek kom van ’n plot op Middelburg [Mpumalanga], so dit was darem ook nie ’n stadslewe nie, maar ons het nie geboer nie. Ná skool het ek eers ’n rekenaarku­rsus gedoen, maar my liefde was nog altyd die natuur en diere. Toe gaan werk ek op perdeplase en doen kursusse in natuurbewa­ring en -opleiding. So twee jaar gelede het ek my ondernemin­g begin. “Dis soms ’n fyn lyn om ’n sterk vrou te wees, want wanneer dit by verhouding­s kom, soek mans nie dominerend­e vroue nie. Maar ek is ook sag op baie maniere – ek hou daarvan om mooi te lyk en ek is beslis die meer emosionele een in ’n verhouding.”

Sy sou enige vrou aanmoedig om vir Boer soek ’n vrou in te skryf. “Kyk, as ek dit kan doen, kan enigiemand! Daar is min vroue wat inskryf – dié wat dit doen, is gewoonlik al ouer en ek dink dis hoekom ek deurgedrin­g het; mans ervaar dalk minder druk om briewe vir ’n jonger vrou te skryf wat nog nie dadelik wil trou of kinders kry nie.”

Sy sê sy is self nog nie seker of sy ’n ma wil word nie. “Ek is lief vir kinders, maar die toekoms voel vir my so onseker in Suid-afrika. Terselfder­tyd wil ek ook nie oorsee woon nie want ek is lief vir my land, maar daar is ’n paar dinge wat op die oomblik pla. Dalk heroorweeg ek kinders oor ’n paar jaar.”

Vir nou wil sy eers haar ondernemin­g weer op die been kry ná die hofsaak. En, natuurlik, liefde vind . . .

* Volg Boer soek ’n vrou Donderdae om 20:00 op Dstvkanaal 144 (tot 10 Januarie 2019) om te kyk of Toanette liefde vind.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa