VIR VOLK EN VADERLAND OUD-KANARIES ONTHOU
Of jy wou of nie . . . op 18 moes jy weermag toe – dis wat die wet gesê het. Jy moes jou tienerhormone beteuel en man word. Met die uitreiking van die bekroonde Afrikaanse rolprent Kanarie is die Grensoorlog opnuut in die kollig
Hyhet altyd geweet dit gaan kom – sy oproeppapiere. Dit was net ’n kwessie van tyd. Maar die dag toe dit in sy hande gestop word, het hy gevoel hoe sy hart sink en sy mond kurkdroog word.
“Ek wou nie gaan diensplig doen nie, ek wou eerder gaan swot,” onthou Riel Stofberg, menslike hulpbronbestuurder van Wellington. “My pa het ons geleer dat ons alle mense met dieselfde waardigheid en respek moet behandel – van die tuinman tot die dominee. En hier moet ons nou gaan en verpligte diensplig doen om apartheid in stand te hou.”
Maar Riel het nie soos Boetie border toe gegaan nie. In 1985, pas 18, is hy gekeur om ’n lid te wees van die SA Weermag se destydse Kerkkoor en Konsertgroep, beter bekend as die Kanaries. In stede van teen terroriste veg op die Grens, sou hy die volgende twee jaar vir gewone mense in die sale van kerke en skole sing.
Sy ma wou altyd gehad het hy moes ’n Kanarie wees, vertel Riel. Die kans sou dan beter wees dat hy lewend terugkom.
“Eers later het ek besef watter voorreg dit sou wees. Daar was goeie tye saam met die slegte tye. Dan was daar die musiek . . . die musiek wat ons gemaak het, die konserte. Ons was goed, ons het staande ovasies gekry.”
Die destydse Lugmaggimnasium Koor en Konsertgroep is in 1967 gestig, aanvanklik om geld in te samel vir die bou van ’n NG kerk by die lugmagbasis in Valhalla, Pretoria. Die koor het eers net saans en oor naweke opgetree. Gou het die weermag egter die waarde van die koor besef en in 1972 is die naam verander na hoe ons dit vandag ken. Die Kanaries moes nie net die land met hul sang vermaak nie, hulle moes ook die geloof in volk en vaderland, die weermag en die kerk versterk.
Om noot te kan hou het nie jou plek in die koor verseker nie. Aikôna, jou Christelikheid, leierseienskappe en vaardighede op die sportveld het ewe veel in jou guns getel as jou musiektalent.
“As ek reg onthou, was daar in my jaar agt ouens wat Cravenweekrugby gespeel het,” vertel Faani Engelbrecht, predikant van die NG kerk Goodwoodpark in Kaapstad en lid van die kerkmusiekgroep VONKK. Hy was in 1990 ’n lid van die Kanaries.
“Jy het ’n groter kans gehad om in die Kanaries te kom as jy Cravenweek gespeel het. Daar was ook ’n klomp hoofseuns in die Kanaries. Ons was ’n diverse groep en baie was briljante musikante.”
Wyle Lucas Maree was ook eens ’n Kanarie. “Hy was die eerste linksomkitaarspeler wat ek geken het,” vertel Boet Jonker, afgetredene van Klerksdorp wat in 1970 saam met die sanger en liedjieskrywer in die koor was. “Hy was ’n baie gemoedelike mens en altyd vriendelik. Ons het toe al geweet hy het ’n aanvoeling vir musiek en kuns.”
Riel onthou nog hoe hy, soos soveel ander tienerseuns, in Kaapstad op ’n trein geklim het Pretoria toe. Onskuldig, nog kind, op pad na Valhalla, die verwronge strydersparadys ( Valhalla >
< is waarheen gestorwe soldate in Noorweegse mitologie gegaan het).
Met jou aankoms moes jy gou grootword, want die Kanaries het nie spesiale behandeling ontvang nie. Nes gewone troepe, moes hulle hul drie maande basiese militêre opleiding doen.
“Om in die Kanaries te gewees het was nie maklik nie. Soms het die army dit ver gevat,” vertel Johan Hendriksz, musiekregisseur wat van 1992 tot 1997 in die groep was. “Daar was ’n persepsie van buite dat ons spesiaal gehanteer is. Maar ons het blerrie hard gewerk.”
Hulle was moeg, hulle was gedaan, hulle was op. Dit was toonlere, push-ups, Bach en burpees.
“Jy het ook halfvyf opgestaan, 2,4 km gaan hardloop. Ons het gedril, ons het inspeksie gehad. Maar wanneer die ander ouens gaan slaap het, het ons nog ses uur koor geoefen,” vertel Faani.
Maar ondanks die bloed, sweet en trane, die lekker en die sleg, het Johan geanker gevoel.
“Ek het groot mans sien breek in die weermag, en klein, troubled, weird kinders, soos ek, het daar ’n plek gekry. As dit nie vir die Kanaries was nie, was ek seker al in ’n graf weens ’n drug overdose. I was that child . . . die een wat als ondersoek het, als gequestion het. Die weermag, ten spyte van al sy sleg, het vir my ’n plek gegee. Dis die anker van als wat ek vandag is.”
Van die troepe en korporaals het hulle soms moeilikheid gegee omdat musiekmaak dan nie “manlik” is nie. Hulle sou dikwels name toegesnou word, van “moffies” tot “softies”.
“Daar was kere dat ons byna groot gevegte gehad het. Ons was ’n hegte eenheid, ons het as ’n groep vir mekaar opgestaan. Jy kan nie aan een Kanarie vat sonder om aan die ander te vat nie,” vertel Riel.
’n Kameraadskap het gevorm. Hulle het alles saam gedoen – eet, slaap, stort, sing, oefen, toer.
In sy twee jaar het Riel so te sê deur elke dorp in die land getoer. En die intieme wêreld van die deursneeAfrikanermens leer ken.
“Die mense was so honger om met ons te praat . . . ons uit te vra. Hulle het moeite gedoen, die beste koppies en pierings is uitgehaal. Hulle het jou laat welkom voel.”
En die tafels het gekreun onder die kos . . . skaapboud, pampoenkoekies, aartappels, beestong, broodjies, koeksisters, blikke soetkoekies.
“Ek het so gewig aangesit, want elke tannie in die land het gedink ons ly honger,” vertel Faani. “En ek hou van eet, so ek het lekker geëet en vet geword
in die Kanaries. Maar ek het ook die land se gasvryheid beleef.”
Op elke dorp moes jy op jou beste lyk. Uniform silwerskoon en netjies gestryk. Skoene blink. Elke dag ’n nuwe plek met nuwe gesigte en nuwe geselsies.
“Dit was ongelooflik uitputtend om heeldag jou beste voet voor te sit. Ja, tannie, nee, tannie, dankie, tannie. Dit was uitmergelend,” vertel die bekroonde komponis, musiekregisseur, komponis en akteur Charl-johan Lingenfelder, wat in 1985 ’n Kanarie was. “Maar jy het ongelooflike mensekennis opgedoen. Dis die een ding waarvoor ek geweldig dankbaar is.”
Die karakter Johan Niemand wat deur die komediant Schalk Bezuidenhout in Kanarie vertolk word, is op Charl-johan se lewe gegrond. Hy het ook die klankbaan saamgestel. Die karakter se worsteling met homself, sy seksualiteit en geloof word uitgebeeld met kerkgesange en die musiek van Boy George en Depeche Mode wat mekaar op die agtergrond afwissel.
“Dis een Kanarie se storie, nie almal s’n nie. ’n Deel van ons Afrikanerskap was seker maar nog altyd die hunkering om deur ’n groep as geheel aanvaar te word. En ons worstel daarmee as ons nie aanvaar word nie. Ek raak hartseer as ek vir myself op daardie ouderdom kyk. Ek sien myself steeds in soveel ander jongmense vandag.”
Elke vertoning was pure showbiz, vertel die Johannesburgse orrelis en dirigent Siegfried Pretsch, wat ook in 1985 saam met Charl-johan en Riel in die Kanaries was.
“In my tweede jaar het ons 289 konserte gehou. Jy moes smile, jy moes netjies wees, jy moes perform.”
Voor die konsert moes hulle alles self opstel en agterna weer regskuiwe, skoonmaak en inpak – klanktoerusting, beligting, koorbankies, instrumente en musiekstaanders.
“Die een ding wat ek ná al die jare geleer het, is dat mense op die verhoë en voor die kameras power het. Power om mense se harte aan te raak, power om mense se lewens te verander . . . en vir my het alles dáár begin,” sê Johan.
Hulle het interessante mense, met interessante stories, in die tyd ontmoet. Elke dag is die Kanaries na nuwe gasouers “uitgeplaas”, waar hulle dan ’n paar uur surrogaatseun sou speel.
“Ek onthou ek was op Piketberg alleen geplaas gewees,” vertel Boet. “En ek eet nie goed met vere nie; nie hoenders, eende en ander goeters nie. Toe roep die tannie my daai Saterdagmiddag en sê ek moet eet voor daar konsert gehou word. En daar beland toe ’n hoender op my bord. Ek het maar swaar gekry.”
En op Alexanderbaai moes Siegfried en Charl-johan saam met ’n ou oom en tannie Bybelstudie hou, op die hoofslaapkamerbed, ná die konsert.
“Die oom en tannie het hierdie nagrokke aangehad met sulke lang mussies op hul koppe. Ek lieg nie vir jou nie. Ons het sulke goed teëgekom.”
Duisende kilometers weg van die doilies en hertzoggies het hulle ook op die Grens gaan toer.
Tussen manne wat huis toe verlang en so ’n bietjie aan bomskok ly.
“Jong, dit was hard en anders gewees as die land se skoolsale en kerke,” vertel Marius Smith, lynbestuurder van Brackenfell.
Hy onthou hoe hulle een aand in 1985 in die tent geslaap het toe iemand ’n koei kwes. Die koei sou heelaand huil, totdat sy stil geword het.
“Maar vir ons eie veiligheid kon ons niks doen nie. Ons het net ons oë toegemaak en geluister.”
Ná twee jaar se verpligte diensplig, hordes konserte, kerkdienste en Sondagmiddagetes kon hulle weer na die samelewing terugkeer.
“Jy het vinnig grootgeword, jy het man geword. Of jy nou ’n Kanarie was of in die gewone weermag, jy het anders teruggekom,” sê Riel.
Terug op universiteit het hy homself eenkant gehou. “Dit het snaaks gevoel. Hier sit jy saam met ouens wat pas uit matriek gekom het, wat kinderagtig is.”
En om met iemand te praat oor jou tyd in die army was ongehoord. “So wat gebeur het, is jy het daai boksie toegemaak en weggebêre, want niemand wil weer daai stories hoor van die weermag nie,” sê Charl-johan.
“Jy het nooit die geleentheid gekry om te kan praat nie, goed of sleg. Niemand was geïnteresseerd nie. Almal het dan daardeur gegaan. Jy moes net toughen up.”
Nou met die uitreik van die rolprent gaan mense weer mag praat, hoop Charl-johan.
“En dalk, net dalk, besef hulle hulle het ’n behoefte daaraan.”
Herinneringe, goed of sleg, vorm jou identiteit, sê dr. Shanaaz Hoosain, sielkundedosent aan die NoordwesUniversiteit wat in historiese trauma spesialiseer.
“Maak nie saak watter kant jy was nie, apartheid was ’n traumatiese gebeurtenis vir die hele land. Ons almal het slagoffers geword en het trauma ervaar.”
Net die vertel van stories, hul eie stories, kan genesing bring, sê dr. Hoosain. “Eers dan sal ons werklik kan vorentoe beweeg.”
Wanneer die ander gaan slaap het, het ons nog ses uur koor geoefen Faani Engelbrecht Die mense was so honger om met ons te praat . . . ons uit te vra Riel Stofberg