Christien Neser
oor haar jeugverhaal Pienk is nie vir sissies nie (Tafelberg, R160)
Jou jongste boek gaan oor bergfietsry en ballet. Doen jy een of albei? My gesin is fietsmal. Ek weet nie eens hoeveel fietse in ons huis rondstaan nie. Ek self ry glad nie goed bergfiets nie; daarvoor is ek te bang. En ballet is iets wat ek begeer het om te doen, maar ek het nooit formeel klas gehad nie. Ek het “tweedehands” ballet geneem by my maatjie, wat my weekliks haar balletposisies en -passies geleer het. Toe my dogter ballet neem, het ek agter in die klas gesit en met my oë gesteel. Wat was die vonk vir hierdie verhaal? As ons so vir ure in tandem ry, het ek tyd om stories uit te dink. Ek wou graag ’n fietsrystorie skryf. Daar is min in Afrikaans. Die toename in die gewapende roof van fietse en aanranding van fietsryers was ’n
ekstra vonk. ’n Ruk gelede is nog ’n fietsryer in die Wieg van die Mensdom, waar ons ry, geskiet. Ek self het ’n gewapende roof beleef. Wat maak jy met jou vrees en woede? Dis iets waarmee ek jong lesers wou konfronteer. Dis so maklik om veroordelend en wraakgierig te raak. Maar daar is ’n mens agter die rewolwer wat op jou gerig word en hy moet vergewe word, anders bly jy ’n slagoffer. Die kleur pienk speel ’n belangrike rol in die verhaal. Waarom juis pienk? Dis die kleur wat met meisies geassosieer word. Van jou eerste leotard en balletkouse, jou eerste paar balletskoene. Vir Nicci het dit simbolies geraak van haar mislukking om ’n hoofrol los te slaan, om telkens deur die rondborstige Helma getroef te word. Haar wegbreek van pienk is haar eie klein rebellie teen sagtheid en vroulikheid. Maer en platborstig is egter in fietsry uitstekende bates.