Verlief op ’n moordenaar: Wat besiel vroue?
Dit klink soos ’n sepie se storielyn: ’n Joernalis wat oor ’n moordsaak verslag doen, verloor kop oor een van die beskuldigdes. Niks nuuts nie, van die berugste moordenaars in die geskiedenis het ’n liefie se aandag getrek. Maar wat besiel vroue?
Dit kan sekere vroue bemagtig laat voel prof. Dap Louw, forensiese sielkundige en kriminoloog
Hy ontvang bewonderaarspos van oor die wêreld. Baie met naakfoto’s en sommige ook huweliksaansoeke. Nie ’n popster nie, maar Ted Bundy, wat meer as dertig vroue verkrag en vermoor het.
In 1980, tydens sy verhoor, trou hy met Carole Ann Boone, ma van twee kinders. Hy was haar “Bunny”, haar “Angelbuns”. Sý troetelnaam vir haar “Precious fleshpot” of “Tender peachblossom”, skryf André le Roux in Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste (2017). Sy skei van hom ’n jaar of wat voor sy teregstelling in 1989. Sy en hul kind, Rose, in die tronk verwek, het glo intussen hul name verander.
Net só het vroue die kultusleier Charles Manson gejag, selfs nadat hy skuldig bevind is aan die wreedaardige moorde op die aktrise Sharon Tate en verskeie ander mense. Ná sowat vyf dekades in die tronk raak hy verloof aan Afton Elaine Burton. Hy was 80, sy 26. Maar die liefdesbootjie sink. Manson hou nie van die idee dat sy en ’n vriend sy lyk ná sy dood in ’n grafkelder van glas wou uitstal nie. Hulle wou geld maak, skryf André.
Ook: Noem ’n Amerikaanse reeksmoordenaar en hy is waarskynlik in die tronk getroud. Hulle kry hope bewonderaarspos; sommige vroue is reeksbriefskrywers wat vir een ná die ander moordenaar skryf. Hulle hoop glo op detail van die moorde wat nie algemeen bekend is nie.
Ons sukkel om dit te verstaan. Soos onlangs weer toe dit bekend raak dat ’n SA tydskrifjoernalis kop verloor het oor die jong Le Roux Steyn, een van die “Krugersdorpafspraakmoordenaars”. Hy het skuld beken op 18 aanklagte >
< van onder meer moord, roof en rampokkery en is 35 jaar tronkstraf opgelê. Tien jaar is opgeskort op voorwaarde dat hy teen sy medebeskuldigdes getuig. Die joernalis is getroud, maar haar verhouding met haar man het glo intussen verbrokkel, berig Netwerk24. Ook die “Springs-monster”, wat deur die hof as ’n sadis en psigopaat beskryf is en onlangs 67 jaar tronk toe gestuur is weens onder meer kindermishandeling en die verkragting van sy dogter, het glo nuwe liefde gevind.
Sulke vroue is duidelik kopsku vir ’n “normale” verhouding, is jou eerste gedagte. Sommige sielkundiges beaam dit dan ook, sê prof. Dap Louw, forensiese sielkundige en kriminoloog verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat. “Jou geliefde is agter tralies en dus is daar geen stres en gevaar nie. Jy is vry om te kom en gaan soos jy wil. Daarby het jy feitlik geen huishoudelike verpligtinge teenoor jou man nie. Dit kan sekere vroue selfs bemagtig laat voel.”
Jy word nooit blootgestel aan die konflik, irritasies en struwelinge van mense in ’n normale verhouding nie, voeg Tjaart van der Walt, kliniese sielkundige van George en Mosselbaai, by. Maar jy kan steeds die gedagte koester dat iemand vir jou lief is.
Moet egter nie dink dis net, soos André dit stel, “huisvroue of bakvissies” nie. Van dié vroue is geleerd en selfs getroud. Hulle is sielkundiges, prokureurs, regters en jurielede, sê Katherine Ramsland, skrywer van The Forensic Psychology of Criminal Minds (2010), in haar Psychology Today- blog (psychologytoday.com).
Dis boonop nie net vroue wat so kop verloor nie. Vrouemoordenaars het ook hul bewonderaars, sê prof. Louw. Susan Atkins, wat lewenslank agter tralies was vir haar betrokkenheid by die Sharon Tate-moorde, is twee keer in die tronk getroud. (Sy en Manson is albei reeds dood.)
Hoewel vroue in sulke liefdesverhoudings se motiewe kan verskil, deel hulle een ding: Hulle is gewoonlik baie beskermend oor die verhouding. Party weet hul geliefde agter tralies is skuldig. Ander dring aan op sy onskuld – ten spyte van bewyse wat die teendeel wys, volgens Ramsland. Soos Burton se siening van Manson se “beweerde” wandade: “Dis wat die TV meer as veertig jaar lank vir mense sê en jy kan nie alles op TV glo nie,” haal André haar aan.
Hulle maak soms groot opofferings, sommige sit elke week ure en wag vir ’n vinnige kuiertjie by hom. Hulle kan hul werk en gesin prysgee om naby hul sielsgenoot te wees. En hulle gaan sekerlik geld op hom spandeer, dalk alles wat hulle het, volgens Ramsland.
Op die oppervlak lyk hulle doodgewoon. Maar hulle is nie. Hulle is met ’n moordenaar in die tronk deurmekaar. Dis moeilik om presies vas te pen hoekom hulle dit doen. Boonop is alle mense uniek. Navorsing lig egter veral die volgende uit:
Baie van dié vroue het ’n geskiedenis van Mishandeling fisieke en/of seksuele mishandeling. Die rol daarvan kan tweeledig wees. “Soos genoem, kan dit haar veilig laat voel dat hy agter tralies sit. Aan die ander kant is die tragiese moontlikheid dat sy weens jare lange mishandeling en vernedering só ’n lae selfbeeld het, sy glo sy verdien om gestraf/misbruik te word – soos dalk herhaaldelik deur byvoorbeeld haar ouers en vorige mans gesê is. Dis die enigste soort verhouding wat sy ken,” sê prof. Louw.
Die vroue met wie sy vir haar boek gesels het, is sonder uitsondering vroeër mishandel, bevestig Sheila Isenberg, skrywer van Women Who Love Men Who Kill (2000), op Huffpost (www.huffpost.com). “Hul familie, eerste kêrel, man of iemand anders het hulle seksueel, fisiek of emosioneel mishandel.” Nou voel sy sy het ’n bietjie mag, dalk die eerste keer in haar lewe. Sy neem die besluite, het die vryheid om te kom en gaan. Hy is agter tralies, sy nie. Maar, soos André skryf, sy is eintlik steeds ’n slagoffer.
Dikwels glo die vrou regtig die Hy is onskuldig veroordeelde moordenaar is onskuldig en deur die regsproses benadeel. Sy het dus simpatie met die “arme man wat nou onskuldig in die tronk sit. Baie moordenaars is boonop meestermanipuleerders wat die vrou om hul pinkie kan draai en van hul onskuld oortuig. Sy kan selfs spesiaal voel omdat hy haar tussen al die ander vroue gekies het,” volgens prof. Louw.
Sy weet maar te goed hy is skuldig, maar Hy sal verander verkeer onder ’n ander waan. Naamlik dat haar unieke liefde en teerhartigheid hom gaan verander. Diep binne hom is ’n onskuldige en getraumatiseerde kind vasgevang – en dis haar taak om hom te bevry. “Sommige maak selfs daarop aanspraak dat die misdadiger gerehabiliteer is sedert hy háár ontmoet het,” sê prof. Louw. Gered deur die liefde van ’n goeie vrou.
Tjaart verduidelik by manlike reeksmoordenaars is daar ooglopend ’n seksuele motief. Maar kyk jy dieper, is daar probleme rondom die ma-figuur in die kinderjare. “Vroue kom die innerlike stryd waarskynlik agter en probeer daardie behoefte vervul deur die vergewensgesinde moeder te wees wat net die goeie raaksien en die slegte ignoreer om van hom ’n beter mens te maak. Dis byna ’n verlossing- of reddingspoging.” (Interessant: By vroue-reeksmoordenaars is daar ’n ooglopende finansiële motief, maar krap jy dieper, vind jy onderliggend onsekerheid weens negatiewe ervarings met ’n pa-figuur. Daardie vroue soek dus sekerheid en geld verskaf dit, sê hy.)
En is dié vrou-red-man-met-haar-liefde-fantasie nie die storielyn van honderde erotiese/romantiese boeke vir vroue nie? Die vrouehaat en aggressie wat sy by so ’n
super-dominante man moet beveg, is net tydelik. Dis nie regtig hoe hy diep binne is nie. Haar toewyding en liefde gaan uiteindelik sy karakter omvorm en help dat hy met sy innerlike goedheid in kontak kom, volgens die sielkundige Leon Seltzer op sy Psychology Today- blog.
Baie van ons hou daarvan om met name Die kollig te smous, te laat val ons ken sus en so belangrike of glanspersoonlikheid. Jy voel dit gee jou status. Jou assosiasie met ’n moordenaar, beroemd weens sy berugtheid, kan dieselfde effek hê. “Almal wil raakgesien word, spesiaal wees. Kinders sal byvoorbeeld enigiets doen vir aandag. Selfs negatiewe aandag is beter as geen aandag nie,” sê Tjaart.
Dié vroue geniet dus die media-aandag wat met sulke hofsake en verhoudings gepaardgaan. Dikwels is dit haar eerste kans om die kollig te betree. Sekere vroue voer hul narsisme ’n stappie verder deur artikels en selfs boeke oor hul ervaring te skryf, volgens prof. Louw.
“Niks is boonop so stimulerend soos om op die Alte lekker grens van gevaar te leef nie,” sê Tjaart. En volgens prof. Louw beskou sommige vroue dit as ’n avontuur,’n uniek-aangename en riskante ondervinding waar jy deur ’n mynveld beweeg en dus jou vernuf moet gebruik om ongedeerd te bly. Dié opwinding kan ’n erotiese kleur hê.
In die oortreffende trap staan die gedrag Hibristofilie bekend as hibristofilie,’n erkende psigiatriese versteuring. Jy put dan seksuele genot daaruit wanneer jou maat antisosiale gedrag toon, soos verkragting, gewapende roof en moord. Wikipedia noem dit die Bonnie en Clyde-sindroom. Dit kom egter min voor en is dus selde wat vroue dryf om tot moordenaars aangetrokke te voel, sê prof. Louw.
Hier is ’n interessante een om aan Grotvrou se dinge te kou. Bewustelik soek die meeste vroue ’n man wat gaaf, empaties, simpatiek en beleefd is. Maar iets in ons bedrading maak ons ontvanklik vir die sogenaamde bad boy, volgens Leon Seltzer. Dís die gevolgtrekking waartoe baie evolusionêre sielkundiges kom: Ons (innerlike) grotvrou weet Deurmat-man gaan middagete vir Sabeltandtier word. En gewelddadige mans is ’n ekstreme weergawe van Alfa-man, wat Sabeltandtier met sy kaal hande kan bykom.
Die mens het oor baie eeue ontwikkel, verduidelik Tjaart. Ons stoei as kinders, neem deel aan sport en kompeteer op ander maniere. Die suksesvolstes se nageslag sal volgens die evolusie-idee die beste eienskappe hê om te verseker dat die spesie oorleef. Sulke eienskappe kan verskillende vorme aanneem, hetsy liggaamlike krag, sakesin, hoë intellek, ens. Om so ’n man aan jou kant te hê beteken sekuriteit, veiligheid en beskerming teen die wêreld.
Vroue wat op moordenaars verlief raak, is net ’n baie klein deeltjie van die samelewing.’n Soortgelyke verskynsel, maar in minder ernstige graad, kom meer dikwels voor. ’n Voorbeeld is veral tieners en jong vroue wat teen alle waarskuwings in ’n verhouding aanknoop met iemand wat ooglopend antisosiaal is, hoewel nie ’n tronkvoël nie. Die gevolge is meestal katastrofies, volgens prof. Louw. En Leon Seltzer sê as terapeut kom hy baie vroue teë wat ’n dominante man se houvas op hulle betreur – hulle weet bewustelik hy is heeltemal verkeerd vir hulle.
Vroue wat ’n verhouding met ’n moordenaar aanknoop, weet dikwels presies waarin hulle hul begewe, reken Sheila Isenberg. Maar hul vermoë vir ontkenning, behoefte aan ’n veilige, geïdealiseerde, romantiese fantasie van liefde troef gesonde verstand.
Wat ook al die sielkundige redes daaragter, die kans is goed dat ’n bose, gevaarlike man in die tronk ’n Eva se oog sal vang wat bereid is om met hom te trou.
Jou geliefde is agter tralies en daar is dus geen stres en gevaar nie prof. Dap Louw, forensiese sielkundige en kriminoloog
Niks is so stimulerend soos om op die grens van gevaar te leef nie Tjaart van der Walt, kliniese sielkundige