Sarie

Akteur Germandt Geldenhuys: 2019 – dis nou of nooit

-

Germandt Geldenhuys is bekroon vir sy rol in die fliek Kanarie en word geprys vir sy oortuigend­e spel as Louis Koster in die kyknet-sepie Binnelande­rs. Maar vanjaar is sy grootste doelwit sy eerste album: dis nou of nooit! DEUR LIANI JANSEN VAN RENSBURG

Jy kan met enigiemand oor ’n koppie koffie gesels. Wie sou dit wees? Die digter Ingrid Jonker, ek sou haar storie wou hoor. Sedert hoërskool het ek ’n fassinasie met haar. Sy’t ’n soort eensaamhei­d gehad, tog het sy goed met passie aangepak. Daar is iets moois en menslik aan haar gedigte, wat dit vandag nog relevant maak. Jy het groot lof vir jou spel as die eksentriek­e Ludolf in die bekroonde Kanarie gekry. Watter uitdagings het dié rol gehad? Die feit dat Ludolf op iemand gebaseer is wat nou nog leef, was die grootste uitdaging. Ek moes outentiek wees. Die tweede grootste uitdaging was natuurlik die fisieke aspekte – die drawwery, die push-ups. Goeie hel, dit was maar moeilik! Daai was nie toneelspel nie, my arms was lam. Ludolf was nooit bang om homself te wees nie. Wat het jy by hom geleer? Ludolf is baie bewus van dit waarmee hy goed is en waarmee hy nie goed is nie. Dit geld eintlik vir ons almal, in ons eie lewens: ons moet bewus wees van ons talente en ons tekortkomi­nge. Die oomblik as jy dít besef en begin aanvaar, dan kan jy wees wie en wat jy is, sonder om skaam te word. Dis ’n goeie lewensles: Wees net wie jy is, onbeskaamd. In die era waarin Kanarie afspeel, was dit ongehoord vir mans om oor hul emosies te praat. Dink jy dis vandag anders? Dit het effens verbeter, maar ek sal nie so ver gaan om te sê

dis nou heeltemal anders nie. Daar’s ongelukkig steeds ’n kultuur in die wêreld dat ’n man swak is as hy sy gevoelens wys. Seuntjies word nou nog geleer om nie te huil nie. Dis ’n vreemde konsep vir my, ek is nie so grootgemaa­k nie. Ons het gereeld gepraat oor hoe ons voel en hoekom. Ek het gereeld my pa sien huil, nie oor hy ontsteld was nie, maar oor hy iets moois gesien of gehoor het. Ludolf se pa was ook so. Jou Binnelande­rs- karakter Louis Koster het baie gegroei – van ’n skaam outjie tot ’n meer selfversek­erde karakter. Hoe verskil julle van mekaar? Ons verskil dalk minder as wat ek wil erken. Maar ek is ’n klein bietjie meer realisties en meer sinies as Louis. Hy soek weer die goeie in almal en het ’n geneigdhei­d om maklik te vergewe. Vir my vat dit ’n tydjie. Jy het ’n ongeloofli­ke stem. Loop die musikale talent in jou gene? My ma en pa sing albei. My pa speel ook so ’n bietjie klavier. As kind het ons gesin konserte gehou; ons was die Von Trapps van die Vrystaat. My pa was 25 jaar ’n pastoor gewees, en my ma het die voorsang gelei. Musiek was deel van ons lewe. Wat was die eerste rol wat jy as kind vertolk het? Toe ek ses was, was ek die wolf in Rooikappie. Daai uitrusting was ongeloofli­k warm! Jy kies elke jaar vir jou ’n tema. Is dit dieselfde as Nuwejaarsv­oornemens? Nee, Nuwejaarsv­oornemens is te absoluut. Ek kies eerder ’n tema of kernwoord vir my jaar. In 2018 was my woord “heilsaam”. Ek wou ’n bietjie meer heilsaam dink, lewe, werk en meer na myself omsien. En ’n skoner mindset kweek.

Vanjaar is my tema “noukeurig” en om meer nee te sê. Ek is so bang om iemand teleur te stel of te na te kom en is ’n groot slagoffer van dié ingesteldh­eid. Maar om “ja” te sê vir alles en jouself uit te brand is nie goed vir jou gesondheid nie. Dan is dit ook belangrik om nee te sê vir goed waarmee jy nie saamstem nie of selfs hoe iemand jou behandel. Dis my oorkoepele­nde gedagte vir die nuwe jaar. Wat van 2019 maak jou opgewonde? Ek en Je-ani [Swiegelaar van Binnelande­rs] wil verder met ons toneelstuk Keelvol toer. Ons droom is om in die toekoms een show per jaar te skryf en daarmee te reis. Ek is ook deel van ’n Janice Honeyman-pantomime; meer mag ek nie sê nie. Maar my grootste doelwit vir die nuwe jaar is om ’n album uit te reik. Ek dink dis nou of nooit. Jy het ’n besige program. Gaan jy ooit met vakansie? Ek rus nie naastenby genoeg nie en hou ook nie baie vakansie nie. Eintlik hou ek nie daarvan om te lank stil te sit nie. Selfs as ek op vakansie is . . . Ná so die derde, vierde dag kyk ek na my foon en begin ’n paar e-posse stuur. Dis een van my foute, ek sukkel om af te skakel. As jy vir ’n jonger Germandt raad kon gee, wat sou dit wees en hoekom? Om meer bereid te wees om uit jou gemaksone te klim. Ek was ’n baie angstige kind; het altyd die ergste verwag. Die beste goed gebeur as jy uit jou gemaksone begin beweeg. Jy groei as mens en ontmoet interessan­te mense. Wat is die een liedjie wat altyd op jou langpadCD is? As ons wildtuin toe gaan, speel ons altyd die Elton Johntreffe­r “Circle of Life”. Daai is ons geheime wapen, die diere kom. Vir enige ander road trip moet Queen op wees, soos “Don’t Stop Me Now”.

 ??  ??
 ??  ?? Germandt Geldenhuys
Germandt Geldenhuys

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa