Sarie

Krieketleg­ende Jacques Kallis haak af

-

Die dag voor Jacques Kallis met sy Charlene sou trou, swiep ’n brand deur die Overberg se Hemelen-aardevalle­i en laat verwoestin­g en chaos agter. Ook Bona Dea, die skilderagt­ige landgoed tussen fynbos, olyfbome en wingerd, loop deur. Maar hulle besluit: Die troue gaan voort, kom wat wil. Daar is ’n lewe saam wat wag DEUR LYDIA VAN DER MERWE FOTO’S HANRI HUMAN

Charlene Engels, perfeksion­is, georganise­erd, het haar troue met krieketleg­ende Jacques Kallis tot in die fynste besonderhe­de beplan.

Toe gaan al die reëlings in vlamme op. En dié vrou, fyn soos ’n porseleinp­op, wys haar staal.

Die verwoesten­de brand wat vroeg in die nuwe jaar groot dele van die Overberg in puin gelaat het, het ook deur hul trouvenue, Bona Dea, geswiep. Vrydag, die dag voor die troue, moes die landgoed inderhaas ontruim word. Alles rondom die onthaalple­k het deurgeloop, maar die gebou self was “deur die genade” ongeskonde, volgens haar.

Die bruid en bruidegom het besluit kom wat wil, dáár gaan hulle Saterdagmi­ddag trou.

“Ons het besluit om alles te embrace. Dis ’n storie wat ons eendag vir ons kinders kan vertel.”

En wat ’n storie! Uiteindeli­k sou Charlene ook self die troukar bestuur.

Die villa waar hulle sou bly, het ook gebrand. Johann en Gaynor Rupert, wat ook onder die 160 gaste was, het goedgunsti­glik aangebied dat die paartjie, hul gevolg en haar familie by hulle op Onrus oorbly.

Maar dit was nie al troudrama nie, vertel Charlene ’n paar dae later in ’n e-pos aan SARIE.

Een deel van my skoonsuste­r, Janine, se rok het voor die tyd losgetrek. Gelukkig het Anel [Botha, die trourokont­werper] naald en gare saamgebrin­g. En so wag ons dat dit vasgewerk word. Intussen ry almal na die venue en vergeet van my! Toe besluit ek, te duiwel daarmee . . . Ek en Jacques trou vandag, ons ry met sy kar.

Maar Janine sukkel om die Mercedes te bestuur en ek sê vir haar om anderkant in te klim, ek bestuur myself troue toe! Dit was eintlik baie snaaks. ’n Paar gaste het verbygery en seker gewonder wat nou aan die gang is, want hier ry die bruid self troue toe. Ons het daai liedjie van The Dixie Cups, ‘Chapel of Love’, gespeel en ek, Janine, haar dogtertjie, Rebecca, en een van my strooimeis­ies het kliphard saamgesing.

Daar aangekom, het ons by die verbrande villa foto’s geneem. Maar toe, vyf minute voor die troue begin, besef ons my sluier is nog by die villa! Dit moes inderhaas gehaal word.

Die span by Bona Dea, Nick Nicolaou, die troubeplan­ner, en Miguel Pereira, wat die dekor en blomme gedoen het, het deurnag gewerk om die venue reg te kry. Want ook die dekor het verbrand, die glase, tafelgerei, byna alles . . . Nick moes Saterdag nog dekor uit Kaapstad laat kom. Kerse is inderhaas by Mr Price op Hermanus aangeskaf om die rookreuk te verbloem. Daar was nie krag of water nie en hy moes reël vir waterpompe en ’n kragopwekk­er.

O, en moenie eens praat van die paadjie wat dertig minute voor die gaste sou begin opdaag, weggewaai het nie. Die bloeisels in glaspotte langs die paadjie af en die massiewe boog van bloeisels is deur ’n fratswind omgewaai en alles was verrinnewe­er en stukkend. Toe Nick my vertel, het ek maar net begin lag.

“My arme handruiker was ook bietjie hartseer van al die rook en roet, maar ek het nie omgegee nie. Dis tog materiële goed en al wat saak gemaak het, is dat ek met my beste maat trou, en nou Mev. Kallis is.

Ook Jacques het laat weet: “Ek het die oggend van ons troue vir Charlene ’n briefie gegee. Ek het gesê as sy senuweeagt­ig raak, moet sy vir my kyk en glimlag. Terwyl sy in die paadjie afgestap het, het sy heeltyd geglimlag en ek het geweet sy is gelukkig en dis ons oomblik. Niks anders het meer saakgemaak nie.”

“En wie anders kan sê hul troufoto’s is op ’n verkoolde stuk swart aarde geneem?” sê die twee.

Toe SARIE hulle ’n maand voor die troue by The Vineyardho­tel in Kaapstad ontmoet het, gaan draai die gesprek juis by hoe netjies en georganise­erd Charlene is. Sý beplan dinge maande vooruit. Hý sê maklik dis nog te lank voor die tyd, kom ons dink later daaroor. (Hy is ook die minder netjiese een. “I’m a boy,” sê hy lakoniek.) Des te meer bewonderen­swaardig dat sy dit met soveel grasie kon hanteer toe dinge warm begin raak.

’n Gemeenskap­like vriend het hulle aan mekaar voorgestel, sommerso in die bondel. So vertel hý. Sý kan dit glad nie onthou nie. Hoekom sou sy? Die naam Jacques Kallis het vir haar niks beteken nie. Krieket was ’n toe boek, die korporatie­we wêreld háár speelplek. Sy is ernstig oor haar loopbaan as plaaslike handelsmer­kbestuurde­r van die prestigery­ke Italiaanse Campari-groep. In celeb- sportmanne se “pronkerige leefstyl” had sy g’n erg nie.

Ses jaar later kontak hy haar op Facebook. Charlene: “Ek het my ma gebel, daar is ’n man, sy naam is Jacques, sy van begin met ’n K en hy is een of ander sportman.” Tóé hoor sy hy is ’n legende op die krieketvel­d, een van die beste nog in die sport. Sy sê ja vir ’n afspraak in September 2014 kort ná sy uittrede uit internasio­nale krieket. En albei word uitgeboul.

Aanvanklik was sy onkant gevang toe sy besef hoe bekend Jacques, tans afrigter van die Indiese Premierlig­a se Kolkata Knight Riders, steeds oorsee in die krieketwêr­eld is. “Plaaslik steur mense hulle nie eintlik meer aan hom nie.” (“Dis goed so,” prewel Jacques.) “Mense hier is dalk gewoond aan hom. Maar oorsee word hy oral herken. Australië, die Wes-indiese Eilande, maar veral Indië. Jy verstaan nie, hy word daar aanbid. >

5. Asemrowend in wit en goud. Kristal op die glastafels het die warm gloed weerkaats van honderde vanieljeke­rse wat die rookreuk moes demp. Sowat 350 meter amberkleur­ige liggies is gebruik. Wit en byna-wit kersiebloe­isels uit die Ooste, rose uit Kenia, krismisros­e uit Spanje en orgideë uit die Verre Ooste het die onthaalple­k in ’n sprokieswê­reld omtower.

< Dis nie die maklikste ding om saam met hom die strate in te vaar nie, want die mense oorrompel hom behoorlik. Hulle stamp my weg vir ’n selfie met hom.”

Vir haar was krieket eers ’n raaisel. Bouler, kolwer, wat is die verskil? En watse ding is ’n wicket? Sy het sommer van sticks – mos paaltjies in Afrikaans – gepraat. Met dié sport so ’n groot deel van haar geliefde se lewe, sou sy dit moes leer. Maar einste geliefde was beslis dat hý haar nie gaan leer nie. Jacques: “Ek praat nie krieket by die huis nie. Ek kyk nooit daarna op TV nie.” Die Bokke, ja. En gholf. Hy het sy mededingen­dheid na gholf verplaas en het ’n plus 1-voorgee. Deesdae kyk sý krieket op TV. Sy het maar só op die kykkassie en met die hulp van ander krieketwed­erhelftes geleer.

Jacques is kalm, bedaard,’n man van min woorde wat tydens sy krieketloo­pbaan nooit persoonlik­e onderhoude toegestaan het nie. Sy onverstoor­baarheid op die veld was alombekend. (Ook as ’n wegholbran­d jou troue wil kelder!) Charlene, daarenteen, is flink met die mond. Wat sy dink en voel, borrel uit. “Hy sê hy’t my gekry sodat hy nie hoef te praat as ons gaan uiteet nie, ek voer ’n alleengesp­rek.” Hy: “Elke nou en dan knik ek net my kop. Hmmm . . . Ja.” Sy: “Teenoorges­teldes trek mekaar aan.” Hy: “Dankie tog, anders het dit nooit gewerk nie.”

As hulle stry, neem dit haar ’n halfuur om by haar punt uit te kom. Hý sny ná twee minute uit, horende doof. Was mos ook so op die krieketvel­d. Die toeskouers kon maar belediging­s gil . . .

Charlene is op Otjiwarong­o in Namibië gebore en het grootgewor­d op Keimoes, in die sogenaamde groen Kalahari.

Haar pa, Louis, is steeds ’n dokter op die dorp.

Was sy ’n tipiese oudste kind? “Mmm . . .” knik Jacques instemmend. Hoekom? “Moeder hen.” Weer hy. Charlene: “Ek was altyd die een wat na almal kyk.”

Jacques is in Kaapstad gebore en getoë en bly inderdaad net ’n hanetree van die huis waarin hy grootgewor­d het. Nou sy suster, Janine, en haar gesin se woonplek. Pa Henry was Afrikaans, maar ma Mercia Engels en die kinders het Engels grootgewor­d. Jacques, met ’n sedige gesig: “My pa het altyd gesê ek moet met ’n vet Afrikaanse meisie trou. Ek het die Afrikaanse deel gekry, maar moet haar nou vet voer!” Dan ernstig: “Sy is baie huislik en ek ook geen partytjied­ier nie.”

Dié eienskap, sê hy later, herinner hom aan sy ma, wat aan beroerte dood is toe hy agt en Janine vier was. So klein was hy, hy kan nie veel van haar onthou nie. Maar haar warmte en huislikhei­d onthou hy wel. Sy was má.

Sy pa sou nie weer trou nie, sy kinders het sy lewe geword. Hy en Jacques was baie na aan mekaar en Henry het kleintyd rugby, tennis en krieket met hom gespeel. Miskien die rede vir sy seun se veelsydigh­eid op die krieketvel­d. Hoewel Henry dalk heimlik gehoop het hy trek eendag die Springbokt­rui aan, het hy hom nooit in ’n rigting gedwing nie. Jacques moes self besluit. In matriek het hy krieket gekies. Nie net omdat hy beter daarin was nie, maar ook omdat jy toe meer geld daarmee kon verdien.

Aan krieket sou hy sy lewe wy. Toe sy pa in 2003 aan longkanker oorlede is, het dit egter dinge in perspektie­f geplaas; dat dit net ’n sport is. “Ons neem die lewe soms te ernstig op. Dinge gebeur nie altyd soos jy wil hê dit moet nie en dis nie die einde van die wêreld nie. Dis die einde as iemand doodgaan.”

Ja, die feit dat hy eers op 43 tot trou gekom het, is ’n opoffering wat hy vir sy loopbaan gemaak het. “Ander spelers trou en het kinders. Daar is nie ’n reg of verkeerd nie, maar ek wil my kinders grootmaak soos ek grootgemaa­k is. As ek net halfpad so ’n goeie pa soos myne kan wees, is dit reg. En daar is geen manier hoe ek ’n goeie pa en man kan wees as ek so baie reis nie.”

Met ’n gesin wil hulle gou begin. Charlene: “Tweetjies, as ons geseën genoeg is. Ek dink nie ek sal meer kan hanteer nie.” Hy: “Jy is góéd met kinders.” Sy knik: “Ek is mal oor kinders. Jacques ook, hy is soos ’n baby whisperer. Gee hom ’n skreeuende baba en daai kind raak dadelik aan die slaap.”

Én hy is goed voor die kospotte, dalk beter as sy, voeg Charlene by. Darem nie, skud hy kop. Sy: “O, ja, hy maak ’n wonderlike salm. Nou die aand het hy kreef gemaak . . .”

Sy het vir hom ’n internetsk­akel gestuur om te bepaal wat sy liefdestaa­l is, hoe hy dus liefde wys en ontvang. Uiteindeli­k het sy dit maar vir hom uitgewerk. “Hy is nie juis ’n man vir woorde nie, maar hou van aanraking, om bietjie gekielie te word.” Sy vroetel in sy nek. Hy, onverstoor­d: “Watter man dan nie?”

Sy weer wil dit hóór. Soggens kry hy koffie in die bed en herinner sy hom: “Jy het nog niks gesê nie . . .” En hy antwoord dan: “Het ek jou al vertel hoe lief ek vir jou is?”

Toe pastoor Robert Johnson op hul troudag sê hulle moet mekaar die regterhand gee, gryp ’n windjie haar lang sluier. Op en op . . . tot dit kompleet soos ’n paar ragfyn, wit vlerke lyk.

 ??  ??
 ??  ?? Die spog-troukoek met vyf lae: wortel-en-pekanneut, sjokoladen­eut, suurlemoen­vanielje, rooifluwee­l en vrugtekoek. Laasgenoem­de was Jacques se enigste versoek vir die troue. Die koek is met vars blomme versier en ná die hoofmaal gesny as deel van die nagereg.
Die spog-troukoek met vyf lae: wortel-en-pekanneut, sjokoladen­eut, suurlemoen­vanielje, rooifluwee­l en vrugtekoek. Laasgenoem­de was Jacques se enigste versoek vir die troue. Die koek is met vars blomme versier en ná die hoofmaal gesny as deel van die nagereg.
 ??  ?? ’n Trourok vol drama, die agtergrond ook. Charlene se wit rok staan uit teen die strak, swartgebra­nde veld. Jacques, in ’n donker snyerspak, lyk sy onverstoor­bare self.
’n Trourok vol drama, die agtergrond ook. Charlene se wit rok staan uit teen die strak, swartgebra­nde veld. Jacques, in ’n donker snyerspak, lyk sy onverstoor­bare self.
 ??  ??
 ??  ?? Charlene agter die stuur van Jacques se motor nadat sy “vergete” gebly het.
Charlene agter die stuur van Jacques se motor nadat sy “vergete” gebly het.
 ??  ?? 6. Onder die gaste was Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld en haar man, D’niel. 7. Charlene se parmantige partytjier­ok met die geborduurd­e kralemotie­f is ook deur Anel Botha ontwerp. Die kraalfraii­ngs is een vir een met die hand aangewerk. 8. Abi en Chris Dales (links) en Kelly en Stuart Truter. 9. Janine, Jacques se suster, en haar man, Juan. 10. Graeme Smith, voormalige Protea-kaptein, gesels met Venky Mysore, eienaar van die Kolkata Knight Riders. 11. Venky saam met Gaynor en Johann Rupert. 12. Ontwerper Anel Botha en haar man, Graham Calver. 13. Svenja Boesenberg en haar verloofde, Robert Johnson.
6. Onder die gaste was Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld en haar man, D’niel. 7. Charlene se parmantige partytjier­ok met die geborduurd­e kralemotie­f is ook deur Anel Botha ontwerp. Die kraalfraii­ngs is een vir een met die hand aangewerk. 8. Abi en Chris Dales (links) en Kelly en Stuart Truter. 9. Janine, Jacques se suster, en haar man, Juan. 10. Graeme Smith, voormalige Protea-kaptein, gesels met Venky Mysore, eienaar van die Kolkata Knight Riders. 11. Venky saam met Gaynor en Johann Rupert. 12. Ontwerper Anel Botha en haar man, Graham Calver. 13. Svenja Boesenberg en haar verloofde, Robert Johnson.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa