Sarie

Akteur Rami Malek: ‘Ek moes my vrees klop’

die grootste geskenk wat ek ooit sal ontvang

- DEUR LUCY ALLEN/THE INTERVIEW PEOPLE VERTALING MICHÉLLE VAN BREDA

Hoe speel jy iemand groter as lewensgroo­t? Hoe klim jy in die kop en lyf van ’n flambojant­e musiekgeni­e wat die verbeeldin­g van miljoene aangegryp het en vandag erken word as een van die beste rocksterre van alle tye. Veral as jy nie kan sing, dans of klavier speel nie. Jy gee jou álles. Jy klop jou vrese, sê Hollywood-akteur Rami Malek

Die internet het ontplof. Die dag toe daardie eerste foto die ronde begin doen van akteur Rami Malek wat Freddie Mercury van die legendarie­se rockgroep Queen in die rolprent Bohemian Rhapsody speel. Die beeld was skokkend bekend, ingegrawe in die geheue van Mercury-aanhangers die wêreld oor: gitswart hare en sterk snor, die prominente tande, wit frokkie, ligte jeans. Selfs die klinknaela­rmband. Die houding regop, fier en seksueel-uitdagend.

Musieklief­hebbers wat 1985 se Live Aid-konsert by die Wembley-stadion buite Londen aanskou en die briljanthe­id van Queen en Mercury se 22 minute op die verhoog ervaar het, sou stomgeslaa­n gewees het. Dit was onmiskenba­ar Freddie Mercury.

Dié charismati­ese musieklege­nde was sy grootste uitdaging nog, erken die Egipties-amerikaans­e akteur wat die uitdagende rol vertolk het. En die grootste geskenk wat hy ooit sal ontvang. Dag ná dag het hy elke beweging, elke woord en elke emosie van Mercury vir die silwerdoek ontleed en vervolmaak. Hy wou Mercury, wat op 45 aan vigsverwan­te komplikasi­es in Londen oorlede is, se kleurryke en komplekse storie vertel.

En hy hét. So goed dat Rami onlangs ’n Golden Globe as Beste Akteur losgeslaan het, en hy is ook benoem vir ’n Oscar*. ( MVB)

Hier vertel Rami meer oor sy reis met Bohemian Rhapsody.

* SARIE was reeds by die drukkers tydens die Oscar-aand op 24 Februarie in LA.

Wêreldwyd is die reaksie op Bohemian Rhapsody oorweldige­nd. Wat maak jy daarvan? Ek is geseënd . . . ek’t die rol van Snafu Shelton gespeel in The Pacific [’n Tv-minireeks oor die Tweede Wêreldoorl­og] en gedink: Dis ’n unieke karakter, ek sal nooit weer so iets kry nie. Toe kom Mr. Robot en ek sê: O my genade, hierdie kan nog ’n ongeloofli­ke rol wees [in die Tv-reeks speel hy Elliot Alderson, ’n onstabiele kuberkrake­r] en dit sal nooit weer gebeur nie. Maar om Mercury te speel is die grootste geskenk wat ek ooit sal ontvang. Ek voel ek wil byna niks meer doen nie, dit sal net afdraand wees [lag]. Want sy storie is vervullend en verrykend, ’n soort bevestigin­g van die lewe. Kon jy identifise­er met Mercury? Julle kom albei uit konserwati­ewe immigrante-families op soek na ’n beter lewe. Ja . . . kyk, ek het begin dink aan Mercury . . . ek’s nie ’n sanger nie, ek’s nie ’n danser nie, ek het nog nooit aan ’n klavier geraak nie. Op die verhoog was Mercury ongeloofli­k, en ek dink: Dalk kan jy dit regkry om so te beweeg. My bewegings is ook half ongemaklik – syne was net meer elegant. Toe dink ek weer: Hy’s spesiaal, op die verhoog was hy ’n god,’n rock-god, en ek vra myself af: Hoe dink jy gaan jy hom ooit vasvang? Kán hy herskep word? Dit was die skrikwekke­nde deel. En toe dink ek: Reg . . . benader dit soos elke ander karakter. Vind die kern, maak hom mens, bring hom aarde toe. Dink wat dit is wat hom só groot op die verhoog gemaak het. En ek besef: Hier’s ’n man wat op Zanzibar grootgewor­d het en op agt alleen op ’n skip gesit is Indië toe. Na ’n land wat hy nie ken nie, kosskool toe, en hy moet vir homself daar ’n ‘familie’ skep.

Ná ’n paar jaar keer hy op die skip terug Zanzibar toe, sy land is midde-in ’n revolusie en sy familie vlug Engeland toe. Op 18 moet hy ’n nuwe lewe in Londen begin. En sy naam is Farrokh Bulsara en hy’t ’n baie groot stel tande. Hy’s soos ’n vis uit die water. Hy moet homself as jong man herontdek, in ’n tyd dat daar ’n stigma aan homoseksua­liteit kleef. En ek dink, ‘Man, dit moes móéilik gewees het – om sy ware kleure te wys.’ Ek glo hy’t ’n brandende hunkering gehad om uit te breek – om sy talent, vrye gees, voortvaren­dheid en oorspronkl­ikheid met die wêreld te deel.

Wanneer hy dan sy pad na die verhoog vind, dóén hy dit. Hy laat jou voel hy kyk vir jóú en laat jou verstaan: Ons kan wees wie ons wil, en saam kan ons elke struikelbl­ok oorkom. Hoe wonderlik is dit nie? Dís Mercury, en die enigste manier hoe ek hom kon verstaan – dat hy met my praat en met ons almal praat. Toe dink ek: Reg, jou storie gaan ek vertel. En ek gaan waaragtig my bes doen. En jy’t die seën van Queen gehad? Ek het. Anders sou ek dit nie gedoen het nie. Hulle sou my in elk geval nie toegelaat het nie [lag]. Queen se kitaarspel­er Brian May sê tydens verfilming het hy soms vergeet jy is Rami. Dit was een van daardie Spielberg-oomblikke waar jy gewonder het: Gaan sy teenwoordi­gheid jou net so ontsenu? Maar dit het nie en my eerder aangespoor om die goeie herinnerin­ge aan hom lewend te hou. Natuurlik sou ek nooit Freddie vir Brian wees nie. Daar was tye op stel waar ’n fotograaf my en Brian wou afneem, maar ek wou nie eintlik nie, want dit was surrealist­ies – ’n ouer Brian wat met ’n jonger weergawe van Mercury praat. Dit het met baie mense se kop gesmokkel. Toe die eerste foto van jou op die verhoog met die skiet van die Live Aid-konsert uitgekom het, het die internet ontplof. Ja, wel, dit het alles beteken om Brian May van die begin af daar te hê. Hy’s so nederig – hy en Queen se tromspeler, Roger Taylor. Jy weet, ek ontmoet akteurs en raak nie meer so oorweldig nie. Maar om ware rocksterre te ontmoet, dis ’n ander storie! Hulle was ook intelligen­t . . . Freddie ’n grafiese ontwerper en die ander op die punt om wetenskapl­ikes en ingenieurs te word voordat Queen die toneel in die 1970’s getref het. Luister jy na hul liedjies, besef jy die gravitas. O genade, ja, daardie liedjies kan jy nie as vanselfspr­ekend aanvaar nie. Ek bedoel Brian is ’n astrofisik­us wat spesialise­er in sterstof. Hy’t sy eie kitaar gebou, The Red Special. Dieselfde kitaar wat hy nog gebruik – 60 jaar later. Wat was jou angswekken­dste oomblikke? Die eerste paar weke was moeilik. Ek moes alles wat ek het, inspan. Elke dag klavier- en sanglesse, en dialek, en nie soseer choreograf­ie nie, maar beweging. Dit was soos om terug te wees in teaterskoo­l, maar ek wóú. Daar was oomblikke dat ek gedink het: Jy kan nie eens klavier speel nie en nou moet jy ’n paar liedjies leer speel. Dan lees ek weer die teks en op bladsy 19 en 20 staan: Freddie Mercury speel die klavier ‘onderstebo’ . . . [lag]! Soms in die dansatelje­e het ek gevoel daar is géén manier dat ek Mercury se magic tydens daardie 22 minute op die Live Aid-verhoog sou kon nadoen nie. So hard soos wat ek aan Snafu in The Pacific gewerk het, en aan Elliot in Mr. Robot, kan dit nie naastenby vergelyk word met wat ek hier moes doen nie. Ek móés, want ek kon nie hierdie man en hierdie band ’n onreg aandoen nie. Daar was baie mense wat in my geglo het, my bygestaan het, en ek’t net bly werk aan die dinge wat ek gevrees het. Soos ek dit begin baasraak het, het ek besef die grondwerk is daar, nou moet ek net bly glo. Maar ek sal jou sê, om reeds op dag een Queen se Live Aid-optrede, waarskynli­k een van die bestes in die geskiedeni­s van rock, te moet skiet . . . dit maak nie saak hoe hard jy gewerk het nie, jy is net nie voorbereid genoeg nie. En om dit dan boonop voor Brian May te moet doen. Maar ek’t gehoor hoe hy vir akteur Gwilym Lee, wat sy rol vertolk, sê: Jy het die moves, maar onthou, jy’s ’n rock-god. Dit het my gehelp, want ek het geweet ek het die moves, maar om Mercury te speel moes ek die selfvertro­ue hê. Maar toe ons die liedjie ‘Bohemian Rhapsody’ skiet, het ek gedink: As dit nie werk nie, moet hulle hierdie alles oppak . . . Toe ek dus die oproep vir dag twee kry, was my reaksie: Dank vader! Hoe het jy deur die vrese en onsekerhed­e gewerk? Soos ek ouer word, het ek geleer om dinge nie so op te krop nie; my emosies meer te deel. Ek’t net bly werk en bly werk aan die dinge wat my bang gemaak het en probeer ontleed waarom dit my met angs vul. Maar ek is versigtig met wie ek vrese deel, want jy weet nooit wat dit in iemand anders se hande word nie. Dink jy Mercury het vrees as kunstenaar geken? Ek het hom dopgehou waar hy uitstap op die Live Aid-verhoog – jy sal dit nie raaksien nie, maar ek het nadat ek duisende kere na die video’s gekyk het. Ek kon sien hy’s net ’n bietjie broos,

maar dit verdwyn byna dadelik. Live Aid was Queen se eerste keer saam op die verhoog in ’n lang tyd. Ja, en hulle het gedink dis nie eintlik hul soort gehoor nie. En daar was baie ander ikoniese bands . . . in die rolprent sê hulle, sê Brian, Queen het op daardie stadium meer soos ’n dinosourus gevoel. Maar hulle het geweet hoe om voor ’n groot gehoor te speel. Wat hulle so goed gedoen het, was om hul liedjies te verkort, en hul treffers te speel. Voor die tyd te oefen. Daardie manne het geweet wat hulle doen. Toe hulle daar uitstap, het hulle geskitter. Helderder as enigiemand anders. Hoe het jou familie reageer toe jy hulle vertel jy speel Mercury? My ma was bekommerd, oor die druk, want sy’t gesien hoe ek vir jare my agterent afwerk voordat ek Mr. Robot gekry het. Hoekom, wou sy weet, wil jy alles weggooi deur ja te sê vir iets wat jy dalk nie kan regkry nie? Maar nou ken sy elke Queen-liedjie. Sy’s in trane elke keer as sy Mercury se naam hoor. Te vroeg en hartseer dood, sê sy. En sy sien jou op al wat ’n advertensi­ebord is. Vir my is dit ewe surrealist­ies. Want dit slaan my tussen die oë: ‘Jy’t die rol van Freddie Mercury gekry . . . En jy’t ja gesê. Gesê natuurlik sal jy dit doen, want jy weet hoe moeilik dit is om werk te kry. Dat dit ’n onreg aan elke ander akteur sou wees as jy hierdie geleenthei­d laat verbygaan, die kans om vir ’n paar oomblikke te doen waaroor jy nog altyd gedroom het. Dat dit ’n vreesaanja­ende ding was om te doen, selfs net om te dink dat jy Mercury kan speel . . . maar dit het gebeur.’ Het jy met Mercury se familie te doen gehad? Sy ouers leef nie meer nie. Sy suster, Kashmira, het eendag die stel besoek en ek dink nie sy was voorbereid op wat sy sou sien nie. Want Queen bestaan nog, hulle toer saam met Adam Lambert, so sy herleef dit en ervaar hul We Will Rock Youkonsert­e. Maar ek glo nie sy’t heeltemal besef sy gaan iemand sien wat haar broer presies namaak nie. Sy was oorweldig; ek was oorweldig, want ek het die familie bestudeer en leer ken, ook vir haar. Ek het oor en oor na bandopname­s van hul ma geluister – sy’t ’n unieke aksent gehad en ek’t dit gebruik om in my uitspraak iets van hul erfenis te weerspieël. Jy’s op ’n hoogtepunt in jou loopbaan. Was daar ’n tyd dat jy gedink het jy wil nie meer ’n akteur wees nie? Ja, baie. In New York was ek op ’n kol ’n kelner in ’n baie donker plek waar mense ook dwelms gebruik het, en al wat ek wou doen, was om iets te verdien om te oorleef. Ek’t gewerk van smiddae vyfuur tot soggens vyfuur. Myself afgevra: Is dit wat jy moet doen om ’n loopbaan as akteur te hê ná vier jaar by teaterskoo­l en skuld van 100 000 dollar? As ek iemand gesien het wat soos ’n vervaardig­er lyk, het ek my foto en CV in sy sak probeer insmokkel. Soms het gedink: Nee man, wat doen jy? Ek het selfs eiendomsag­ent oorweeg – dit het drie dae gehou. Want ek wóú akteur wees, dis deel van my DNS. Ek onthou daardie tye, want nou is ek op die kruin, maar dinge kom en gaan en ek kan weer daar onder wees. Ek probeer elke oomblik inneem, want ek moet vir jou sê, daar was dae dat ek nie uit die bed wou klim nie, want daar was niks om voor op te staan nie. Ons ken almal daardie laagtepunt­e in ons loopbaan . . . dis moeilik, dit tap die lewe uit jou. Maar ons moet elke klein wen koester, want dit stapel op en stook weer die liefde vir wat ons doen, en die waardering vir wat ons kán doen. En nou is jy hier . . . Ek het Wembley toe ervaar, met die rolprent se première in Londen. In ’n skare van so 6 500 mense en Brian May en Roger Taylor, en die filmspan sonder wie ek nie hierdeur sou gekom het nie. Ons het gewag dat die rolprent begin, dit het stil geword en ek’t gekyk na die span om my en toe ‘ We Will Rock You’ sag begin [hy tik die ritme met sy vingers] . . . Binne oomblikke het die hele stadion saam gedreunsin­g. Ek’t gekyk na Brian, wat destyds dié kreet vir Queen geskep het, en hy’t ’n glimlag op sy gesig gehad. Ek’t toe besef: Dis werklik,’n droom wat waar word. En teruggedin­k aan toe ek getwyfel het of ek ooit in hierdie bedryf sou werk. Het my ouers ooit gedink dit sal gebeur? En Freddie se ouers – het hulle ooit gedink dat sy lewe só skeppend en só groot sou wees? Dat hy dit met die hele wêreld sou deel.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa