Sarie

Nataniël sê . . .

Ek sit nou en skryf hier by die tafel in die eetkamer,

-

ek het hierdie vertrek ontwerp nadat ek The Garden Room 18 jaar terug gelees het, 5 baie groot glasvenste­rs sorg dat jy in enige rigting kan kyk na my groen woud. Rustiger was daar nog nooit. Die tafel self is 17 jaar oud, ek het dit laat maak net nadat ek hier ingetrek het.’n Witgrys raam met vier pote. Binne die raam is ’n glasblad en onder die glasblad is ’n vel wit papier. Om só ’n groot stuk papier van die regte dikte op te spoor, was ’n gesukkel, maar die oorspronkl­ike idee was dat ek na willekeur die papier met lap of kunswerke (nee, nie legkaarte nie) kon vervang vir spesiale geleenthed­e. Dan sou ons letterlik kuier rondom ’n skildery met bene. My permanente obsessie met wit en minimalism­e het egter gesorg dat die vel papier nog nie een keer vervang is nie. My obsessie met wit linne het ook gesorg dat daar nog nooit op die glasblad gedek is nie,’n vloerlengt­e tafeldoek is ’n weelde waarvan ek nie kan afskeid neem nie.

Onlangs was hier ’n lang kuier en die volgende oggend lig ek die tafeldoek af. Die glasblad tref my oog. In die een hoek is daar twee dun strepies, liggrys, byna soos potloodstr­epe of kwashale, ek voel aan die glas, maar die merke is onder die glas. Ek kyk na die res van die tafelblad, daar is klein kolletjies in die ander hoek, byna onsigbaar, maar steeds ontstellen­d. In die middel van die reghoek is ’n ligte vlek asof ’n vuil vinger daar beweeg het. Hoe gebeur dit? Lig spoke my glas en kuier dan?

Dieselfde middag haal ek ’n groot bord uit die kas. Hierdie bord is swaar en groot genoeg vir ’n baba om op te slaap. Nie duur of eksoties nie, net ’n geliefde ontdekking uit ’n klein winkeltjie 20 jaar gelede. Die daaglikse slaai word hierop voorgesit. Daar is ’n haardun krakie oor die bord. Vreemd, maar ek bly kalm. Ek gil nie soos gewoonlik, Wie het hierdie bord laat breek? nie.

Twee dae later ontdek ek ’n vergete teedoek onderin ’n laai. Dis ’n prettige wit affêre, bedruk met ’n kaart van Londen, gekoop tydens een van my eerste reise dekades gelede. Só mal was ek hieroor, dat hy nooit gebruik is nie. Nou het hy vergeel. Ek week, spoel, vra raad, lees op, probeer alles. ’n Week later is die doek ’n bietjie ligter en verskyn op die tafel vir middagtee. Vreemd, maar ek bly kalm.

Met nuwe oë kyk ek na my bestaan, daar is ’n bietjie klamte teen een muur,’n pot in die tuin het gebars en twee skerwe lê onder die boom,’n nuwe vou het verskyn in my nek, die groot blou kookboek – ’n erfstuk – het ’n skeurtjie op die bladsy met die resep vir asynpoedin­g, die borduurwer­k op ’n 200 jaar oue kimono (die kroon van my versamelin­g!) het begin disintegre­er. Vreemd, maar ek bly kalm.

Ek het nog altyd mense bewonder wat kon tafel dek met twee borde wat nie pas nie, ’n brood toegedraai in ’n servet met ’n historiese teevlek, nie skaam is om ’n dramatiese ring aan ’n kromgetrek­te vinger te dra nie, een gestorwe mou aan ’n uitrusting vervang met ’n nuwe stuk lap, heerlik speel met ’n eenoogpop, weer ’n keer lees uit ’n gehawende boek, weer eens opdaag met dieselfde halssnoer. Ek kyk hoe word vriende saam met my ouer, steeds asemrowend met ’n ekstra plooi of ’n ekstra kilogram, sommige mooier as ooit. Soos die Louvre se meesterstu­kke aanhou kraak, so groei die bewonderin­g.

Verwaarlos­ing en vergetelhe­id, dis volop en hartseer. Maar VERWEER is die mooi woord, die mooi ding, die verweer van voorwerp of vel, dis reg so. En dis laat, maar ek is uiteindeli­k grootmens genoeg om dit raak te sien.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa