Redakteursbrief
Mense vra my gereeld wat is mý inspirasie. Wat is die dinge wat my laat dink soos ek dink, en skryf soos ek skryf. Wel, vandeesmaand kom my inspirasie sommer uit hierdie einste uitgawe. Ek lees Nataniël se Kaalkop voordat die tydskrif finaal drukkery toe gaan, en hy verras my. Want wie sou kon dink dat Nataniël, met sy voorliefde vir perfekte wit, vir skoon lyne en als wat stylvol is, ook in “verweerd” waarde sou vind en dit dan met soveel omgee en begrip verwoord.
Toe lees ek Riana Scheepers se Laaste sê en ek’s verwonderd oor die onderwerp. Haar inspirasie ’n tydskrifartikel wat sê elke mens word gedefinieer deur ’n handvol bepalende artikels. Dit raak vir haar ’n speletjie en sy identifiseer haar eie items. Maar o nee, parfuum haal nie haar lys nie, sê sy beslis. O nee, hoor ek myself hardop protesteer. En toe begin ek saamspeel . . .
Eerste skryf ek neer: notaboek en pen. Ongetwyfeld my mees getroue metgeselle. Vergeet maar van my selfoon inspan vir ’n digitale aantekening of twee. Nee wat, dit het net nie die siel van ’n notaboek wat geduldig stukkies inspirasie en inligting bêre nie: mooi woorde, los gedagtes, storie-idees, slim sêgoed, sketse, telefoonnommers en nimmereindigende lysies. Net die genoegdoening om iets wat voltooi is af te tik, of die vreugde om met die deurblaai af te kom op vergete inligting, sit notaboek en pen (ja, dit koester ek ook!) sterk op my lys.
Ek skryf weer, dié keer Time en National Geographic. Meer as 30 jaar al is ek ingeteken op albei. Steeds bly ek verstom oor die planeet en sy wonders soos National Geographic dit so kleurryk ontbloot, en byna nooit is ek sonder ’n Time opgerol in my handsak nie. Om groot wêrelddinge beter te verstaan, vir die goeie agtergrondstories . . . ook vir net ingeval. Vir ingeval ek ’n onverwagte leestydjie het, by die haarkapper, op die vliegtuig, in ’n ry, so saam met ’n cappuccino.
Dan kom ek by parfuum. Ek sit dit op my lysie en trek ’n sirkel daarom. En wonder weer: Wat is my ding met parfuum; al die blink bottels klein en groot, eenvoudig en swierig wat my kaste vul? Om die huis sonder ’n tikkie “scent”, soos my ouma altyd gesê het, te verlaat is ondenkbaar.
Ek onthou die eerste parfuum wat my ma vir my as jong tiener gegee het: Helena Rubinstein se Apple Blossom met sagte geure van bloeisel, roos en jasmyn.
Daar’s my silwerappeltjie gevul met een van dié parfuums van die 70’s, Revlon se Charlie, wat ek nou nog om my nek hang. Destyds ’n geskenk van my matriekkêrel. Tot my vreugde klou die appeltjie ná meer as 30 jaar steeds aan daardie ikoniese geur.
Van my ouma ’n geel-en-swart houertjie so klein soos ’n vingerhoed – iets wat ’n goeie vriendin vir haar van oorsee saamgebring het en wonder in haar dae gesit het. Maak jy dit oop, ontsnap ná al die jare steeds ’n sweempie van ’n blomgeur. My ouma het altyd gesê sy glo dis die geur van Parys.
Parfuum is sonder twyfel een van my lewensitems. Met graagte skryf ek dit in my notaboek. Want dit vra net ’n druppeltjie “scent” vir my om te onthou, te vier en so ’n bietjie te droom.
Nou dink ek, wil jy nie ook jóú lysie saamstel en vir my laat kry nie? Ek’s nuuskierig!
Tot ons weer gesels wanneer ons lekkerlees-april-uitgawe vanaf 25 Maart op straat is.