Sarie

Jy’t 3 sekondes: Maak só ’n 1ste indruk

Drie sekondes. Dís hoe lank jy het om ’n vreemdelin­g of nuwe kennis te beïndruk. Kenners gee raad hoe jy elkeen van dié sekondes vir jou laat werk

- DEUR DELIA DU TOIT

Of jy nuwe mense by ’n partytjie ontmoet, by ’n oggendtee die voorsitter aan die woord stel, of ’n belangrike voorleggin­g moet doen, dit kan intimidere­nd wees om nuwe mense te ontmoet en voor hulle te praat – want jy wéét hulle takseer jou.

En jy verbeel jou dit nie. Onlangse navorsing wys mense vorm binne so min as drie sekondes ’n opinie van iemand wat hulle die eerste keer ontmoet. “Tot net vyf jaar gelede het jy nog sewe sekondes gehad om iemand te beïndruk,” sê Marina Prinsloo,’ n voorkomsko­nsultant van Midrand. “Maar as gevolg van die invloed van tegnologie het jy ál minder tyd om iemand se aandag te behou – of om ’n goeie indruk te maak in die kort tydjie wat jy wel hul aandag het. Mense is ook al hoe meer visueel ingestel, so hoe jy lyk, speel vandag ’n baie groter rol as tevore.”

En as jy ’n slegte indruk maak, verg dit sowat 21 opeenvolge­nde dae van minstens ’n uur per dag in daardie persoon se teenwoordi­gheid om sy opinie van jou te verander, sê Marina.

Die goeie nuus is dat dit baie makliker is om ’n goeie indruk te maak as wat jy dink.

1 DOEN JOU HUISWERK

Werner Wessels, mentor vir skoonheids­koninginne soos Demi-leigh Nel-peters en Rolene Strauss, sê dit skep dadelik ’n slegte indruk as jy nie die regte klere vir die geleenthei­d dra nie – jy wil beslis nie slonsig lyk by ’n deftige gesellighe­id of ’n aandrok by ’n rock-konsert aanhê nie. “Soek foto’s van vorige jare om te sien wat mense na die geleenthei­d aantrek, of vra die gasheer wat die etiket is. Gebruik ook jou gesonde verstand: Vir ’n oueraand moet jy netjies en versorg lyk, maar as jy voor ’n gehoor moet praat, wil jy uitstaan,” sê hy.

Dink na oor wat jy met jou kleredrag wil wys of bereik, is Marina se wenk. “Al gaan jy vir ’n onderhoud vir ’n internskap, dink vooruit: As jy eendag die baas van die afdeling wil wees, trek soos ’n baas aan, meer formeel as byvoorbeel­d jeans en ’n T-hemp. Dan sal mense jou reeds in daardie rol kan sien.”

2 VIND JOU STYL

Die goue reël by klere is om gemaklik te voel, sê Werner. “Gooi eintlik sommer alles in jou kas uit waarin jy selfbewus voel – mense kan dadelik sien as jy ongemaklik is.

“Dis ook ’n fout om vir ander mense aan te trek en nie vir jouself nie, want mense kan ook sien as jy voorgee. Wys jou eie styl – modeslaaf of nie! Trek volgens die geleenthei­d aan, maar in klere wat by jou persoonlik­heid pas.”

Werner se top-grimeerwen­k is om meer te betaal vir ’n goeie onderlaag wat perfek by jou vel pas. “As daardie basis reg is, kan jy letterlik blosser en maskara en miskien lipstiffie aansit, en jy sal pragtig lyk.”

Waag ook soms om helderder lipstiffie te dra, sê hy. “Die meeste vroue dra subtiele kleure, maar ’n sterk rooi of pienk kan fenomenaal lyk en jou laat uitstaan as jy die dag wil.”

Wanneer dit by jou hare kom, is gesondheid die belangriks­te, sê hy, ongeag die styl waarin jy dit dra. “Skaf ’n goeie sjampoe en opknapper aan. Maar vra ook jou stilis se raad – haarmodes verander en jy wil dalk nie nou meer rondloop met die dik sonstrepe wat in die jare negentig gewild was nie.”

3 STAAN REGOP!

“Breëbors loop” het nie sonder rede ’n uitdrukkin­g geword nie, sê Werner. “Postuur is só belangrik. Iemand wat ingedoke en krom loop, lyk asof hulle nie selfvertro­ue het nie. ’n Maklike manier om jou postuur te verbeter, is om hoë hakke te dra – dit dwing jou om meer regop te loop en gee jou selfvertro­ue ’n hupstoot. Wanneer ons net modelle se gesig afneem, laat ons hulle steeds om dié rede hakke dra!”

Jou voorkoms – klere, postuur, lyftaal – is belangrike­r as dit wat jy sê wanneer jy iemand ontmoet, sê die aktrise Elsabé Daneel. Sy bied die afgelope 18 jaar landwyd kommunikas­ieslypskol­e genaamd Kom IK aan. “Staan regop. Trek jou skouers terug en laat jou hande gemaklik los hang sodat hulle hul eie ‘taal’ kan praat terwyl jy gesels. Ontspan jou gesig en haal diep en rustig asem sodat jy nie gespanne voorkom nie.”

4 PRAAT SOOS ’N ‘PRO’

Elsabé sê jou voorkoms tel ongeveer 55% van die indruk wat jy maak, 38% gaan oor hoe jy klink en dit wat jy sê, tel slegs 7%. Dus is dit belangrike­r om te leer hoe om goed te klink as om slimmighed­e in die gesprek in te werk – ten minste in die eerste paar minute nadat jy iemand ontmoet het.

Sy sê jy moet regop staan of sit sodat jou diafragma jou stem sal laat resoneer. “Vokale afwisselin­g is ook belangrik om mense te boei – toonhoogte, infleksie, volume, tempo en klem moet afgewissel word sodat jy nie eentonig klink nie. Uitspraak en artikulasi­e is natuurlik ook belangrik. Die beste manier om dít alles te verbeter, is om jouself op te neem en te hoor hoe jy klink – veral as jy ’n toespraak moet maak.”

KONTAK

Elsabé Daneel: elsabedane­el@gmail.com Marina Prinsloo: www.theimage.co.za Werner Wessels: www.wernerwess­els.com

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa