Sarie

Flitsverha­al: Liefde so reg uit die Boland deur Alma Rossouw

- DEUR ALMA ROSSOUW

Malan jaag oor die plaaspad en gee nie om of sy nuwe bakkie se pens stamp nie, hy moet nóú met haar praat. Hy hou voor die groot plaashuis stil en draf die trappies op na die voordeur. Tipies plaas staan die deur altyd oop en dit help ook nie ’n mens klop nie. Hy’s buitendien ’n gereelde gas. Malan kry vir Vytjie in die leefarea besig om te stofsuig. “Môre, Vy. Waar is Sara?” “Môre, Meneer. Sy slaap nog,” antwoord die trots en rots van die huis.

“Saar het eers sesuur vanoggend ingekom. Sy gaan nie wakker word voor middagete nie,” kom dit van Sara se oudste broer wat by die agterdeur instap.

“Pieter, môre.” Malan skud sy hand. “Dink jy ek kan haar gaan wakker maak?” Pieter se lag weergalm deur die groot huis. “Malan, as jy lewend hier wil uitstap, moet dit nie probeer nie. Kom ry gou saam na die onderste blok wingerd toe. Ettienne is besig om die druiwe se suiker te toets.”

Malan sug, maar val langs Pieter in. Malan ken die Moutons al van doeketyd af, die Swardts en Moutons is vir generasies al huisvriend­e. Pieter en Marietjie, Malan se ouer suster, is ewe oud. Malan en Ettienne is ’n jaar jonger as hulle en dan Sara die laatlam. Sara was nog altyd vir hom mooi. ’n Goeie vriendin met ’n hot lyf. Dis maar al. “Hoe lyk julle pinotage hierdie jaar?” vra Pieter. “H’m? Goed. Ons behoort binne die volgende paar dae te begin pars.”

“Marietjie sê sy het Gerard by die mall gesien. Hy sê hy vat Sara vanaand uit vir soesji. Ek hoop regtig nie dit is waar Saar gisteraand was nie. As hulle weer bymekaar uitkom, eet ek my plaashoed op.” Malan moet diep asemhaal om sy kaak te laat ontspan. “Sy is in elk geval stupid om vir hom te val.” “Die liefde laat mens snaakse dinge doen. Hier staan ek op trou met jou suster!” lag Pieter.

“Julle gaan al van hoërskool af uit, dis hoog tyd dat julle ophou in sonde leef en trou.”

“Gmf!” knor Pieter toe hulle langs Ettienne se bakkie stilhou.

“Malan!” Ettienne stap nader en hou sy hand uit. “Gedink jy gaan gisteraand ’n draai kom maak.” “Sorrie, Ettie, ek was besig. Hoe lyk die suiker?” “Goed, die suiker is al hoog. Pieter, ons sal hierdie blok moet pars voor die naweek.”

“Oukei,” praat Pieter oor sy skouer terwyl hy die ry wingerd instap.

“En onthou, jy is aan diens die naweek. Ek en Bianca gaan na haar ma toe,” roep Ettienne agterna.

“So, vertel van jou en Bianca. Is dit al tyd vir ouers vra?” por Malan.

“Nee, hel, ons gaan nou eers ses maande uit. Nog baie water om in die dam te loop. Kom klim, ons ry gou koöperasie toe.”

Dis stil tussen die twee vriende terwyl die bakkie oor die plaaspad hop. Ettienne hou Malan dop voor hy vra: “Hoe gaan dit met jou hart? Dis nou al meer as ’n jaar wat jy en Veronica uit is.” Malan kyk na Ettienne asof hy gek is. “Waar val jy nou uit met Veronica? Die enigste rede hoekom ek nog single is, is omdat ek nog nie die regte een ontmoet het nie.” Of raakgesien het nie, dink hy. “Jou ma is bekommerd. Bang jy sal nooit tot trou kom nie.” Hulle families is te veel in mekaar se sake, dink Malan.

***

Twee uur later stap Ettienne, Pieter en Malan weer die huis in. Dooddors van die bloedige Bolandse hitte. Sara sit bo-op

die kombuistaf­el met ’n koerant in die een hand en beskuit in die ander. Sy het ’n baie knap slaapbroek­ie en ’n Jt-toppie aan. Sy verstyf effens toe sy Malan sien.

“Vir iemand wat so laat ingekom het, is jy maar vroeg wakker,” kom dit van Pieter. “Vy het die deur oopgelos, toe kom spring Butch op my.” “Die vraag is, waar was jy gisteraand? Ek hoop nie jy was saam met daardie poephol Gerard nie,” sê Ettienne met ’n frons. Sara kyk vlugtig na Malan asof sy hoop hy sal haar help. “Sommer saam met ou skoolvrien­de,” sê sy. “Die belangriks­te vraag is, wat maak jy vanaand?” speel Malan saam met die twee broers. Eintlik wil hy regtig weet of sy vanaand saam met Gerard uitgaan. Sara kyk hom net stil aan. “Ek weet nie lekker wat met julle drie aangaan nie. Maar ek is groot genoeg om na myself te kyk,” en sy tel weer die koerant op om verder te lees.

Malan kyk na haar kaal bene. Sy oë gaan teen haar lyf op en dan sien hy sy kyk vir hom agter die koerant. Haar lippe vorm: “Wat de hel doen jy?”

Op daardie oomblik pluk Pieter die koerant uit haar hand sodat hy haar direk in die oë kan kyk.

“Saar, verstaan vir my, en vir Ett en vir Malan mooi. Jy is ons sussie en jou ou gaan ’n harde baard moet hê om verby ons te kom. Hy sal ’n paar challenges moet deurmaak.” Sara kyk vir Malan. Wat ver by die venster uitkyk. “Soos?” vra sy en vou haar hande voor haar bors. “Soos kyk of hy kan vuur maak, en of hy darem iets weet van rugby en so aan,” val Malan in. Hy begin eintlik die speletjie geniet.

“Nee man,” val Ettienne hom in die rede. “Ons wil kyk of hy darem iets tussen die bene het. Ons sal hom mooi skeer soos ’n skaap en kyk of albei sy knaters al gedrop het. Dan laai ons hom kaalgat daar bo teen die berg af en kyk of hy sy pad na jou kan terugvind.”

Malan het al vergeet hoe erg Ettienne en Pieter oor hul suster is. Hy was by die dag toe hulle vir Gerard gevat het om varke te gaan vang. Sara was ’n week kwaad vir hulle omdat Gerard met ’n gebreekte pols teruggekom het. Watse moffie val in elk geval so dat hy sy pols breek, was hulle verweer. Die arme ouens wat Sara deur die jare hier by die huis aangebring het, moes lelik deurloop.

“Julle is blerrie chauvinist­ies of iets!” beskuldig Sara. “Moet julle nie gaan bome snoei of spitters versit of iets nie? Hierdie overprotec­tiveness raak bietjie irriterend.” En sy wip van die tafel af. “Ja, kom manne, die son trek water.” Pieter en Ettienne gryp hul plaashoede­ns en loop by die agterdeur uit.

“Sien julle later,” roep Malan agterna. “Ek moet ’n slag by my eie plaas uitkom.” Hy keer Sara voor sy die gang in verdwyn. “En waarheen dink jy gaan jy?” vra hy nadat hy seker gemaak het die broers is nie meer naby nie.

“Ek gaan verder slaap en jy gaan boer. Op jou eie plaas, verkieslik.”

Malan kan nie haar oë lees nie. Eens op ’n tyd het hy haar so goed geken, nou ken hy haar glad nie meer nie.

“Nie voordat jy my vertel hoekom jy vanoggend net so sonder ’n woord uit my huis gesluip het nie.”

“Vertel my eers wat was daai speletjie wat jy nou net saam met my broers gespeel het.”

“Nee, sê my liewer hoekom het jy nie gisteraand vir my vertel Gerard is terug op die dorp én dat julle vanaand uitgaan nie.”

“Malan, ek het op Facebook gesien Gerard is op die dorp én ek gaan vir seker nie vanaand saam met hom uit nie.” Ten minste kan hy nog sien as sy die waarheid praat. Sara is nie een vir lieg nie. “Saar, as jou broers moet weet . . .” “As ons wat moet weet?” vra Ettienne skielik agter hulle. Malan en Sara kyk na mekaar. Dan sê Malan die eerste ding wat in sy kop kom. “Dat sy gisteraand by Gerard was.” Sara staar hom in ongeloof aan. “Wat?!” skree Ettienne. “My plaas wag. Baai.” Malan skiet vir die deur. In die kosyn draai hy om en kyk in Sara se baie kwaai oë vas. Hy steek vir haar tong uit. Hy wil sien hoe sy haarself uit dié een gaan kry.

Vy se gesig verskyn in die vertrek om te kyk wat aangaan. Sy gee vinnig pad met ’n klein glimlaggie om haar mond. “Ett, dis nie wat jy dink nie!” “Saar . . .” sê Ettienne en dan: “Pieter!” skree hy. “Kom, ons moet daai Gerard gaan donner!”

Sy gaan vir Malan vermoor! Wat soek hy in elk geval hier? Sy’t gedink sy gaan vir ’n paar dae nie van hom hoor nie – ná gisteraand.

Sy voel weer hoe haar wange vlam vat met sy soene wat brand in haar nek.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa