NIEMAND BLY ONAANGERAAK
So net ná Kersfees 2013 pak ons kinders op om na Zug in Switserland te trek, drie tasse elk, ’n koffiemasjien en ’n paar Portchie-skilderye, die onbekende in, die afskeid hartverskeurend. Ons is in die bevoorregte posisie om ons seun dikwels te sien as hy vanweë werkverpligtinge in Afrika by ons aandoen, net om met verlangende harte later te sien hoe die vliegtuig oor ons huis koers kies. Tydskrifte, tee en beskuit is ook saamgestuur, selfs bakpoeier en blatjang, totdat hulle later al die produkte ook daar kon raakloop.
Dis vyf jaar later, ek kon my vereenselwig met die Garbers-gesin (“Ons pak op . . . van Pretoria na Zug”, SARIE, Desember 2018) en met diegene wat moes agterbly. Die verlange wyk nie, die trane sit soms vlak, maar die weersiens en dinge saamdoen, het soveel meer betekenis. Jy weet jou kinders is gelukkig en veilig en woon in ’n land waar dinge werk. Diep in hul harte sal hulle altyd kinders van Afrika bly wat lief is vir die Bosveld, vir die son. Maar ons ouerharte swel ook van trots as ons sien hoe ons kinders hul plek in die wêreld volstaan. So ’n skuif van jou kinders laat jou nie onaangeraak nie. Dis ’n gee-neem-verhouding, selfs oor afstand. Dankie tog vir tegnologie.
So het ’n ander lewe ook vir ons ontvou: heerlike lang vakansies in Europa, kennismaak met ander kulture, ander aktiwiteite – onder meer ’n fietsrit van 40 dae, 1 500 km ver, van Donaueschingen tot Boedapest al langs die Donau. Lewensveranderend.
Sterkte Garberse, ervaar dit ten volle! Hannalie le Roux, Pretoria