Tarte Tatin
Nog ’n klassieke Franse nagereg se ontstaan is minder omstrede. Tarte Tatin is wêreldwyd ’n gunsteling.’n Eenvoudige resep met min bestanddele en lae tegniese vereistes lewer gekaramelliseerde appels op ’n dun, bros kors. Die resep is in die 1890’s deur die susters Stéphanie en Caroline Tatin in hul landelike Hotel Tatin in Lamotte-beuvron geskep. Stéphanie het glo op ’n dag appels te lank in botter en suiker gekook. Sy’t die diep karamelkleur met misnoeë aanskou en die saak probeer red deur ’n dun deegdop bo-oor die appels te plaas – in die hoop dat die deeglagie vinnig sou bak en die karamel nie verder sou brand nie. Stéphanie het die gebak op ’n bord uitgekeer voorgesit, en tot haar verbasing was die gaste mal daaroor. Kort voor lank het die Tatin-susters se onderstebo-appeltert die streek se smulpape na hul hotelletjie gelok, maar die resep is eers in 1921 vir die eerste keer gepubliseer, etlike jare ná hul dood in 1911 en 1917 onderskeidelik.
Volgens die oorspronklike resep moet ’n koperpan en koolstoof gebruik word. Die tert self bestaan net uit botter, suiker en ’n paar Franse appelvariëteite soos calville, met ’n basiese skilferkors van meel, botter en water. Die appels word nie geskil nie, die kors bevat geen suiker nie, en daar is geen kaneel, calvados (appelbrandewyn), amandels, rosyne, geklopte room of blaardeeg nie. Die toonbeeld van ’n eenvoudige, tydlose treffer, wat – volgens my – juis so gewild is omdat dit so aanpasbaar is. Die tarte Tatin leen haar uitmuntend tot ander vrugte en speserye, mits jou botter en suiker ’n mooi verhouding onder die goue deegdeksel aanknoop.
Tarte Tatin is tot Franse kos-ikoon verhef toe die bekende Paryse restaurant Maxim’s dit in die laat 1930’s op sy spyskaart gesit het. Vandag lewer ’n Googlesoektog na tarte Tatin byna 7 miljoen resultate. >