CRÊPES SUZETTE
Stories rondom die ontstaan van crêpes Suzette is net so flambojant soos hierdie Franse onthaal-staatmaker: Pannekoeke in ’n botter-enkaramelsous met lemoensap en -skil word voor die gaste in ’n lemoenlikeur soos Grand Marnier aan die brand gesteek – dramatiese rooiblou vlamme brand hoog, tot die alkohol verdamp – en dis juis dié flambé-proses wat die geure so aanloklik saamsnoer.
Die gewildste weergawe van waar dit kom, lui dat ’n 14-jarige assistentkelner, Henri Charpentier, dit per ongeluk in 1895 in Monte Carlo se Café de Paris geskep het. Hy het glo nagereg vir die prins van Wallis, die toekomstige koning Edward VII van Groot Brittanje, in ’n vuurtessie berei, toe alkoholiese geurstrope wat naby die tessie se oop vlam gestaan het, aan die brand slaan. Henri was oortuig hy’t ’n rojale flater begaan, maar wou ook nie sy edele gaste laat wag nie. ’n Vinnige proetjie later het hy besluit om sy “hemelse geurkonkoksie” voor te sit, en klaarblyklik het die prins van Wallis en sy gaste saamgestem. Toe die prins wou weet wat die gereg genoem word, het Henri weer flink gedink en dit “Crêpes Princesse” gedoop. Die prins het besef dat die jong kelner hom met die benaming probeer vereer, maar toe ewe galant voorgestel dat die gereg eerder na ’n pragtige jong dame in hul geselskap, ene Suzette, genoem word. En voilà! Crêpes Suzette is gebore.
Volgens Henri het hy die volgende dag ’n ring met edelgesteentes, ’n panamahoed en wandelstok by die toekomstige koning ontvang. ’n Stewige fooitjie, gemeet aan enige era se standaarde.
Hoewel die Franse kosbybel Larousse Gastronomique Henri se weergawe weerspreek – volgens hulle sou die hoofkelner eerder as ’n onervare jongeling soos Henri by die koninklike tafel aan diens gewees het – gryp Henri se kleurryke storie die verbeelding aan en word dit meestal vir soet(panne)koek opgeëet. En hoekom nou ná 120 jaar toelaat dat die waarheid ’n goeie staaltjie bederf?