Flaters met fermentasie
Dit was dalk die mega-kostrend van 2018, maar fermentasie is so oud soos die berge. Voor koelkamers en sterilisering, was die grens tussen pikant gefermenteer en goed vrot maar wankelrig. Gesogte kosen dranksoorte het ontstaan as gevolg van menslike vergeetagtigheid en die natuur se manier om stowwe af te breek. Dit vat net een dapper of erg desperate siel om te proe, en as die gisting lekker smaak, is die mensdom ’n nuwe produk ryker. Ons kan gefermenteerde flaters bedank vir van kaas en jogurt tot bier, sjampanje en brandewyn. As monnike nie eeue lank met vrugte en graan geëksperimenteer het nie, het ons drankwinkels vandag leeg gestaan. Toe die Benediktynse monnik Dom Pérignon in 1693 nie van die borrels in sy wyn ontslae kon raak nie, het hy ’n sluk gevat en geroep: “Kom vinnig. Ek drink die sterre!” Worcestersous is nie so swierig soos Dom Pérignon se sjampanje nie, maar dis nog ’n flop waarvan al derduisende bottels verkoop is. Ná sy aftrede as goewerneur van Bengale, Indië, het lord Sandys die aptekers John Lea en William Perrins van Worcestershire in Engeland gevra om sy geliefkoosde Indiese sous na te maak. Die aptekers het oorspronklik beoog om van die gefermenteerde visen-groentesous in hul winkel te verkoop, maar die reuk was so skerp dat die konkoksie in ’n kelder gebêre is. Die onsuksesvolle eksperiment het vergete in die kelder gebly, tot dit twee jaar later tydens ’n skoonmaaksessie herontdek is. Dit het intussen tot ’n diep aromatiese sous verouder, wat die aptekers onmiddellik gebottel en vinnig verkoop het. Lea en Perrins het nog nooit ’n volledige lys van bestanddele bekend gemaak nie, maar die oorspronklike worcestersous-botteltjie lys garsmoutasyn, asyn, melasse, suiker, sout, ansjovis, tamaryn-ekstrak, uie, knoffel, en ongespesifiseerde speserye en geurmiddels. Bykomende bestanddele kan ook suurlemoene, sojasous, piekels en soetrissies insluit. Omtrent ’n lekker mondvol! Die streng bewaakte resep is vandag nog basies onveranderd, maar die verpakking beweer darem nie meer dat dit “jou hare mooi sal laat groei nie”.