EIERSTOKKANKER
NEEM TOE
Dis die vrouekanker met die laagste oorlewingskoers, weens ’n lae bewustheid en die afwesigheid van vroeë siftingstoetse vir opsporing. Na raming leef sowat 45% van vroue daarmee langer as vyf jaar. (Sowat 89% van borskankerpasiënte oorleef vyf jaar en langer, volgens Kansa.)
Die voorkoms van eierstokkanker kan die volgende twee dekades wêreldwyd met sowat 55% styg, sê die World Ovarian Cancer Coalition. Meer vroue word deesdae daarmee gediagnoseer, hoofsaaklik omdat ons langer leef, verduidelik die Britse koerant The Guardian (www.theguardian.com). Daar is egter minder deurbrake in die behandeling daarvan. Dis meestal menopousale vroue bo vyftig wat dit kry. Verstedeliking het ook ’n invloed, hoewel dit nie duidelik is waarom nie.
Eierstokkanker staan bekend as die “stil doder”, omdat dit nie sulke duidelike verklikkers soos byvoorbeeld bors- en velkanker het nie. Dit beteken egter nie daar is nie simptome nie, selfs in die vroeë stadium, volgens die Amerikaanse Ovarian Cancer Research Alliance (www.ocrahope.org). Dit stem ooreen met simptome vir ’n niekwaadaardige sist:
Winderigheid, asof ’n ballon in jou maag is.
’n Knaende pyn in jou laer bekken. Jy kan dit dalk voel as jy oefen of seks het. Dis net aan een kant, tensy jy siste in albei eierstokke het.
Jou maag voel swaar, soortgelyk aan wanneer jy hardlywig is. As jy eet, voel jy gou versadig.
Jy wil aanmekaar urineer, dalk omdat die sist teen jou blaas druk, maar jy vind dit moeiliker.
Besoek jou dokter as jy een of meer van die simptome het en dit langer as drie weke duur. En nee, ’n Papsmeer kan dit nie opspoor nie. Ander simptome kan insluit moegheid, sooibrand, rugpyn, hardlywigheid en ongereelde menstruasie. Dié simptome kom egter ook gereeld voor by vroue wat nie eierstokkanker het nie en kan heeltemal iets anders beteken.