Sarie

HÓÉ RAAK JY KWAAD?

-

Jy is kwaad? Welkom op die aardbol, sê dr. Karen van Niekerk, voorligtin­gsielkundi­ge van Pretoria. “Woede is soos enige ander emosie – normaal. Dis ’n oorlewings­meganisme, ’n rooi verkeersli­g dat daar ’n bedreiging is en jy moet veg of vlug. Maar daar is nog ’n rede: Jy ervaar iets as onregverdi­g – teenoor jou, ander en/of die samelewing. In die moderne tyd is laasgenoem­de meer dikwels die oorsaak van ons argwaan.” En die lewe is nou eenmaal nie regverdig nie.

Ons moet van gender-stereotipe­ring wegkom, ja. Dis onbillik om te sê jy mag nie kwaad word nie. Moenie jou woede probeer verander, paai en opkrop nie, jy raak dan waarskynli­k net kwater. Maar weet dat jy ’n keuse het hóé jy dit uitdruk. Nou is jy dalk ’n vuurvreter; of sagte siel. En dis oukei. Nie almal is ’n Jeanne d’Arc wat met perd en lans teen die wêreld se onregverdi­ghede veg nie. Nie almal kan die grimmighei­d met ’n sagte woord wegkeer nie.

“Praat jy met tien vroue, gaan jy waarskynli­k tien verskillen­de antwoorde kry oor wat ’n aanvaarbar­e manier is om van jou woede ontslae te raak,” sê dr. Van Niekerk. “Wisselend tussen twee uiterstes. Die een: ‘Vroue is sagter, dis nie ladylike om te wys jy is kwaad nie.’ Die ander: ‘Jy brul jou argwaan hard en duidelik uit.’ ” Onthou egter die lewe is selde wit of swart. Die antwoord lê dalk binne die talle grys skakerings.

Ontplof jy dus soos ’n klapper omdat jy as vrou mag kwaad word? Dis ’n wanperseps­ie dat jy só van jou woede ontslae moet raak, volgens dr.

Van Niekerk. Dikwels maak dit jou net nog meer die josie in en dinge nie noodwendig beter nie. Doen jy dit gereeld, kan dit boonop ongesond op lang termyn wees. Maar as daai adrenalien begin pomp, soek dit ’n uitlaatkle­p: Jy wil iemand nou op die daad klap, of lelik slegsê. Punt is, wat is jou doelwit: Wil jy brûe bou? Gaan jy jouself te na kom met hoe jy daaraan uiting gee?

Raak op ’n konstrukti­ewe manier van daardie energie ontslae, binne die raamwerk van die bepaalde situasie, sê sy. Dink rasioneel wat die beste optrede vir ’n wen-wen-situasie is. Soms moet jy maar jou mond hou. Om uit te bars kan jou dalk in ’n verleenthe­id stel, jy kan jou naam met ’n plank slaan en net die teenoorges­telde regkry as wat jy wil. Dan is dit beter om te gaan draf tot jou tong uithang. Of in jou joernaal stoom af te blaas. By jou terapeut af te pak. Jy kan selfs by ’n aktiviste-groep aansluit om te velde te trek teen wat jy as onregverdi­g beleef. In ’n ander konteks weer moet jy dalk juis jou stem dik maak, durf jy nie wegskram nie.

En as jy die dag ontplof? Laat dit skouspelag­tig wees. Dit het vir Charlize Theron Hollywood se deure laat oopswaai.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa