Rooibos, NATU UR LIK
Rooibos is een van daai wonderwerk-plante. En so Suid-Afrikaans soos sonskyn, boerewors en Faf de Klerk. Dit word waarskynlik al duisende jare lank as medisyne gebruik. Vandag drink miljoene mense wêreldwyd die tee as ’n verfrissende, kafeïenvrye drankie.
Watwou pampoen jou krulhare gee. Daardie eer kom rooibos toe! Sy ma het aan die krag daarvan geglo, nes aan die Bybel en Vicks, juig Johan van Wyk die heilsaamhede van rooibostee toe in sy rubriek op Netwerk24. Dis die sleutel tot goeie gesondheid, het sy hom verseker. Ook “goeie spysvertering, ’n mooi vel en gelaatskleur soos ’n ryp perske”. “Ek vat al jare, op my nugter maag, nie ’n nuwe dag aan met koffie nie, maar rooibostee. Sterk en swart met ’n titseltjie heuning en skyfie suurlemoen.” Rooibos (Aspalathus linearis) word net op ’n klein kolletjie van die aardbol gevind, “rondom Clanwilliam en van daar tot diep in die Sandveld en Bokkeveld by Nieuwoudtville”, verduidelik Johan. ’n Smal strook van
60 000 hektaar al langs die Weskus op.
Vra vir boer Hentie van Boer soek ’n vrou hoekom dit nou net daar voorkom en hy antwoord luiters: “Liewe Jesus het so besluit.” Hy is ’n plaasbestuurder by Groenkol, ’n rooibosboerdery naby Clanwilliam. “Ouens het dit al in ander dele van die land (en wêreld) aan’t groei probeer kry – sonder sukses. Dis maar eie aan dié wêreld, aard net hier.” Eintlik verstommend, dat die dorre sandveld tussen die sandsteenkoppe iets so terapeuties kon oplewer. >
HOLLYWOOD TOE
Die rooibosbedryf het van ’n nederige begin een van dié streek “se belangrikste, winsgewendste boerderyvertakkings geword”, skryf Johan. Net so. Waar die tee eens die etiket van armmansdrankie moes dra, voeg Hollywood se blinkes soos Catherine ZetaJones, Angelina Jolie en Anthony Hopkins dit nou by hul mooiwees- en goedvoel-arsenaal.
In hul huis is altyd Engelse (Ceylon-) én rooibostee gemaak, onthou Mientjie Mouton, stigter en uitvoerende direkteur van Carmién Tea (carmientea.co.za). “Die fyner teedrinkers het Engelse tee in fyn porseleinkoppies verkies; jong kinders en meer robuuste teedrinkers, rooibos – hetsy in fyn porselein of ’n groot beker. Sterk, met baie geur!” Sy en haar tweelingsuster, Carmen Niehaus, Huisgenoot se kosredakteur, het op ’n rooibos-produserende plaas, Bergendal, bo-op die Piekenierskloofpas net voor Citrusdal grootgeword. Vandag is Carmién se rooibosfabriek op einste plaas, sowat twee uur se ry van Kaapstad.
Mientjie se vroegste herinneringe is met rooibos verweef: Hardloop en speel in die rooiboslande. Rooibos om die helfte gemeng met Engelse tee, sterk getrek met melk en suiker. Minder aangenaam was die warm rooibostee met melk op snikhete somerdae van 40 °C plus as koshuisbrak.
LANK . . . LANK GELEDE
Die geskiedenis van rooibos gaan duisende, dalk selfs tienduisende jare terug. ’n Wonderwerk wat die Koisan baie, baie lank gelede ontdek en as medisinale kruid gebruik het, sê Hentie. “Hierdie groen plant in hierdie dorre sand – want dit groei fisiek in sand wat soos seesand lyk. Dis pragtig as dit groen op die land staan, jy moet dit net voor oestyd sien.”
Mientjie beaam so ’n wuiwende groen rooibosland is ’n mooi ding. ’n Massa geel blommetjies in blomtyd, daarenteen, hoe mooi ook al, is uit ’n produksie-oogpunt nie goeie nuus nie. “Die bosse is geneig om meer te blom wanneer die plant onder druk kom, byvoorbeeld weens droogte. Die plant se energie gaan dan in die blommetjies in pleks van die teeblare.”
Maar rooibos is ’n dankbare plant. Hentie voeg by hulle behandel die grond, gee kos en spuit af en toe vir pes of plaag. “Daar’s egter nie eintlik baie wat hom hinder nie. Hy’s soos ’n woestynplant: Hy is nie een nie, maar het die eienskappe van een. Hóú van koelte snags en hitte bedags. En glad nie van wind nie, veral die jong plant. Hy droog maklik uit en as die wind te sterk is, maak dit die plant seer. Hy het baie min water nodig en neem snags vog uit die lug op. Ons is mos so 40 km van die see af. Daai mis en daai wolkies kom so oor die lande gewaai . . .”
Die Koisan het meer as 300 jaar gelede ’n verfrissende drankie van rooibos gebrou. Die blare is met byle geoes, met hamers gekneus, gelos om te fermenteer en in die son gedroog.
Die Nederlandse nedersetters wou die teedrink-gier wat van Europa oorgewaai het, na-aap en die plaaslike kruid was ’n goedkoper alternatief. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was tee skaars en rooibostee het ’n staatmaker in baie Suid-Afrikaanse kombuise geword. Vandag word dié inheemse kruid steeds op ’n soortgelyke manier geoes en verwerk, behalwe dat meer ontwikkelde toerusting beskikbaar is. (Sien bl. 134.)
KOUD, OF WARM
Kortpad-rooibosteesakkies is die gewildste. Maar wat maak die beste rooibostee, ’n sakkie of los teeblare? Mientjie sê: “Los tee waarborg ’n skoon en ryk rooibossmaak; teesakkies is ’n filter wat kan inmeng met die proses van kookwater op die teeblare gooi. Ons nuwe piramied-teesakkies met groter gaatjies en dunner filterpapier oorkom in ’n groot mate die probleem.” ’n Nuwe tendens is om rooibos koud te brou. Voeg 8 sakkies rooibostee by ’n liter water en laat oornag trek. Voeg 200 ml bessie- of appelsap by. Dis geurig en sonder preserveermiddels en suiker. Maak elke dag vir jou gesin en drink hope daarvan, beveel sy aan.
WÊRELDBURGER!
Die plaaslike mark is steeds verreweg die grootste enkele verbruiker van rooibos, met sowat 50% van verkope (8 500 ton per jaar) wat hier plaasvind. In Duitsland, Japan, Nederland, Engeland en Amerika, die voorste vyf lande waarna rooibostee uitgevoer word (sowat 80% van alle uitvoere), kry jy egter die produk sonder sukkel op die winkelrakke. Dis veral ’n treffer in Japan. As een van die wêreld se grootste teedrink-nasies met meer as 26 teesoorte om uit te kies, wil dit gedoen wees. Uitvoer na die land het die afgelope sowat vyf jaar meer as verdriedubbel, volgens die SuidAfrikaanse Rooibosraad.
“Ons unieke rooibos ding goed mee met kruieteesoorte wêreldwyd; voete stewig geanker in die wêreldmandjie van kruietee!” volgens Mientjie.
Skakel die ketel aan!
KOISAN VERGOED
Die rooibosbedryf, verteenwoordig deur die Suid-Afrikaanse Rooibosraad (SARC), het in November verlede jaar ooreengekom om 1,5% van sy jaarlikse inkomste aan die Koi- en Sangemeenskappe te betaal in ’n voordeel-verdelingsooreenkoms. Dit kom ná vier jaar se onderhandelinge. Na raming is dit tans gelykstaande aan sowat R9 miljoen per jaar, maar dit kan wissel na gelang van die prys en die hoeveelheid wat verhandel word. Die Nasionale Koisanraad en Suid-Afrikaanse Sanraad sal onafhanklik besluit hoe om die geld te bestee. Dit sal hoofsaaklik gebruik word vir die opheffing van die gemeenskappe. Bron: sarooibos.co.za
Dit ding goed mee met kruietees wêreldwyd Mientjie Mouton van Carmién